Is e-sigarette werklik die gesonder opsie?

e-sigaret-vaping-rook

Talle navorsing sal nog gedoen moet word om met die nodige wetenskaplike sekerheid te kan sê of e-sigarette wel soveel veiliger is as die tradisionele rookgoed. Foto: Vaping360.com

Tabakrokers verkies al hoe meer om elektroniese sigarette, wat met ʼn battery werk, te rook. Rokers is ook oortuig dat dié soort e-sigarette, of “vaping”, hulle kan help om op te hou rook én dat dit veel minder skadelik as gewone sigarette is. Boonop kan e-sigarette tans op plekke gerook word waar rook gewoonlik verban word, selfs al bevat dit nikotien.

Patrick Ngassa Piotie het namens Africa Check, ʼn organisasie wat feite nagaan, ondersoek ingestel oor die beweerde veiligheid van dié soort sigarette.

Die Gesagsvereniging vir Reklamestandaarde (GRS), Suid-Afrika se advertensiewaghond, het onlangs Twisp, ʼn e-sigaretverkoper, se radio-advertensie verbied wat sê sy produkte is “95% veiliger as gewone rook”. Die advertensie verskyn egter nog op Twisp se eie webwerf en dieselfde bewering word aangevoer op sy mededinger, Vaperite, se webwerf.

Albei maatskappye voer aan dat dit die gevolgtrekking was van navorsing wat deur ʼn agentskap van die departement vir openbare gesondheid in Engeland gedoen is.

Die GRS het egter nie die geloofwaardigheid van die openbare gesondheidsdepartement van Engeland se bevindings beoordeel nie. Die vereniging het net beslis dat die bewerings in die radio-advertensie van die produk nie voldoende gemotiveer is nie.

Die vraag is nou of daar wel klinkklare bewyse bestaan dat die rook van e-sigarette, of ‘vaping’, 95% veiliger is as die rook van gewone tabaksigarette?

Sigarette het 99,6% in “maksimum relatiewe skade” behaal

Die verslag van die openbare gesondheidsdepartement in Engeland, getiteld “E-cigarettes: An evidence update”, is in Augustus 2015 gepubliseer. Die gevolgtrekkings van die verslag is gebaseer op ʼn navorsingsverslag wat die jaar vantevore in die joernaal European Addiction Research geplaas is.

Die onafhanklike wetenskaplike komitee oor dwelms, ʼn Britse welsynsorganisasie, het in 2013 ʼn paneel van 12 internasionale kundiges in Londen bymekaar gebring. Die paneellede het beskik oor kundigheid op ʼn verskeidenheid gebiede wat te make het met nikotien- en tabaknavorsing, soos geneeskunde, psigiatrie, beleidsrigting en wetgewing. Dr. Kgosi Letlape, die president van die raad vir gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, was een van die paneellede.

Kenners het tydens die tweedaagse werkswinkel ʼn model geformuleer om die skade wat produkte met nikotien aanrig, te bepaal. Die metode is toe gebruik om die beter of voorkeur-alternatief onder dié soort produkte te bepaal.

Met behulp van die model het die paneel bepaal dat elektroniese nikotienleweringstelsel-produkte, soos e-sigarette, slegs 4% “maksimum relatiewe skade” aanbring. Die model het ook getoon dat sigarette die skadelikste nikotienprodukte is, met ʼn telling van 99,6%.

leonardo-dicaprio-e-sigaret-vaping

Die akteur Leonardo Dicaprio is een van Hollywood se glanspersoonlikhede wat ook graag e-sigarette rook. Foto: Sites.psu.edu/siowfa16/2016/09/14/vaping-whats-bad-about-it/

Gebrek aan data en keuring van die paneel

Wag egter net so ’n bietjie voordat jy nou dadelik na jou e-sigaret gryp. Die paneel het sélf twee sleutelbeperkinge op hul navorsing uitgewys.

Die eerste is dat die paneel nie genoegsame data gehad het vir hul navorsing nie. E-sigarette is ʼn redelike nuwe produk en die paneel het gesê daar is nog nie veel navorsing beskikbaar oor verslawing, siektes en selfs sterftegevalle wat met dié jongste nikotienproduk geassosieer kan word nie.

Die tweede beperking is dat die paneel deskundiges nie gekies is volgens ʼn sekere formule nie en dat dit moontlik was dat sekere lede van die paneel bevooroordeeld teenoor e-sigarette kon wees.

Riccardo Polosa, ʼn professor in geneeskunde wat deel van die paneel was, was byvoorbeeld ook ʼn konsultant vir die Arbi Group Srl, ʼn e-sigaretverspreider. Nog ʼn kenner op die paneel, dr. Karl Fagerström, het as ʼn konsultant gedien vir die meeste maatskappye met ʼn belangstelling in die behandeling van tabakverslawing. Een van dié maatskappye is Nicoventures, wat deur British American Tabacco aangestel is om nie-tabak-nikotienprodukte te ontwikkel en te kommersialiseer.

Lancet sê die navorsing is “buitengewoon flou”

Terwyl die gier van e-sigarette wêreldwyd posgevat het na aanleiding van die paneel se bevindinge, het die kritiek net so vinnig gevolg. Lancet, ʼn mediese joernaal, het ʼn week ná die publikasie van die openbare gesondheidsdepartement se verslag, ʼn rubriek geplaas waarin die navorsing van die paneel as “buitengewoon flou” beskryf is.

Lancet het tot die gevolgtrekking gekom dat dié departement hul vertroue geplaas het in die bevindinge van kundiges wat self erken het hulle het nie oor die nodige bewyse vir die navorsing beskik nie. Boonop was daar ook die gevaar van botsende belange.

Twee weke later is die navorsing verder deur die British Medical Journal gekritiseer. Twee Britse professore het gesê die navorsing was eintlik maar net ʼn vergadering van 12 mense wat ʼn multikriteria-besluitnemingsmodel ontwikkel het om hul menings oor die nadele van verskillende produkte wat nikotien bevat, op te bou.

Prof. Lekan Ayo-Yusuf, die adjunk-visekanselier vir navorsing aan die Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit (voorheen bekend as Medunsa) skryf gereeld oor tabakbeheer en -gebruik in Afrika suid van die Sahara. Hy het aan Africa Check gesê hy twyfel sterk of navorsers dieselfde resultate sal verkry as hulle die aanvaarde risikobepalingsbeginsels vir navorsing oor produkte wat nikotien bevat sou gebruik, in plaas van die kriteria-model wat die 12 kundiges op die Engelse paneel verkies het.

e-sigaret-vaping-rook-01

E-sigarette se gewildheid is wêreldwyd aan die toeneem. Dit is egter nog nie duidelik hoe skadelik dit vir die rokers en omstanders is nie. Foto: Kjerstin_Michaela/Pixabay.com

Wat weet ons dan eintlik oor die veiligheid van e-sigarette?

Die verslag wat die basis vorm vir die aanname dat die rook van e-sigarette 95% veiliger is as gewone sigarette, hou dus nie werklik water nie. Tog is daar dalk ander, meer deeglike, wetenskaplike studies wat die aanname beter ondersteun.

Ongelukkig blyk dit dat dit heeltemal te vroeg is om in alle sekerheid te kan sê. Die Cochrane-netwerk van gesondheidsnavorsers is tans besig om alle studies wat tot en met Januarie 2016 gedoen is te ondersoek wat beweer dat e-sigarette rokers gehelp het om op te hou om tabak te rook.

Volgens die navorsers lyk dit of daar wel tans konsensus heers dat e-sigarette aansienlik veiliger is as tradisionele sigarette, gebaseer op die beskikbare bewyse. Hulle erken egter dat verdere navorsing nodig is om e-sigarette se veiligheidsprofiel in vergelyking met gevestigde rookverslawingshulpmiddels te bepaal.

Nog ʼn artikel, dié keer gepubliseer in die joernaal Preventative Medicine, het gekyk na die breë gesondheidseffekte van e-sigarette. Dit het studies wat tot en met 14 Augustus 2014 gepubliseer is, geëvalueer. In dié artikel is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die navorsing te veel metodologiese probleme het en uit te min navorsing bestaan. “Daar is ook te veel teenstrydighede in die resultate en ʼn gebrek aan langtermynresultate. Om hierdie redes kan daar nog nie duidelike gevolgtrekkings oor die onskadelikheid van e-sigarette gemaak word nie. Tog kan dié soort sigarette ook nie heeltemal as onskadelik beskou word nie.”

Die Amerikaanse voedsel- en dwelm-administrasie (FDA) het om hierdie redes ook nog nie e-sigarette wat nikotien bevat, as ʼn produk goedgekeur wat mense kan help om op te hou rook nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in Augustus 2016 ook uiteindelik gesê daar is geen geloofwaardige wetenskaplike syfers beskikbaar vir hoeveel veiliger die gebruik van e-sigarette teenoor gewone sigarette is nie.

“Die skade wat aan ander mense berokken kan word, moet ook in ag geneem word wanneer die bewyse geëvalueer word; ʼn mens kan nie uitsluitlik kyk na die skade wat ʼn individuele e-sigaretroker opdoen nie,” het Ayo-Yusuf gesê.

“E-sigarette is dalk tans ʼn ‘doeltreffende’ nikotien-afleweringsapparaat vir ʼn individuele roker, maar dit is nog onbekend hoe ‘effektief’ dit is om rookskade aan die bevolking te verminder.”

Verder meen Ayo-Yusuf dat die beskikbaarheid van e-sigarette sonder die nodige regulasies en wetgewing daartoe kan lei dat dit weer algemeen aanvaarbaar word om gereeld in die openbaar sigarette te rook. Rook kan ook weer onder jongmense bevorder word.

Die slotsom is dus dat die aanname dat e-sigarette 95% veiliger is as gewone sigarette tans nie klinkklaar bewys kan word nie. Talle navorsing sal nog gedoen moet word om met die nodige wetenskaplike geloofwaardigheid te sê of e-sigarette soveel veiliger is as die tradisionele rookgoed.

  • Piotie is ʼn mediese dokter van Kameroen en het ʼn meestersgraad in openbare gesondheid aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy werk tans as ʼn navorser by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se reproduktiewe gesondheid en MIV-instituut.
  • Lees die oorspronklike Engelse artikel op Africa Check se webwerf. Lees meer artikels waarin feite nagegaan is deur Africa Check se Facebook-blad te besoek, of volg die organisasie op Twitter.
  • Fotokrediet: Vaping360.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Vrikie ·

Weet nie hoekom die mens moet rook nie ons word dan sonder skoorstene gebore (die meeste van ons). Maar as julle dan aan iets moet suig is beter goeters as sigarette

Leon ·

So ook alkohol, gemors kos, gaskoeldrank ens ens ens, dis maar menslike keuse, rook maak minder dood as obesity related siektes. Dalk moet daar op kos ook fotos geplaas word van hoe n vet mens lei.

Koos1 ·

Vrikie, jy is mos gebore met voete en nie wielletjies nie, nè? So verkoop jou kar en loop maar waar jy wil wees!

Kevin ·

Vandag se tyd is die proefkonyne vir vape en e sigarette, onthou toe rook, gewone rook ook as “veilig” beskou was, oor 30jaar van nou gaan vaping ens dieselfde pad as sigarette loop.

Roker ·

Ek is ‘n roker, het al opgehou vir ‘n jaar en weer begin. Dit is seker een van die moeilikste goed om te doen….. om op te hou rook. Ek was ‘n onaangename mens, het gewig opgetel, en ek was sielsongelukkig…… As jy nie self gerook het nie, sal jy nie verstaan nie. Ek en my man het gisteraand daaroor gepraat. Ek wil regtig ophou. En ek dink daaraan om die e-sigaret aan te skaf. Ek het net nie die uithouvermoe om net die pakkie neer te sit nie. Maar ek glo dat daar baie minder nadele in die e-sigaret of vape is as die sigaret. Ek is reg om op te hou.

Dewald ·

Ek was self n roker, en verstaan helemal waardeur jy gaan, ek het nou so jaar en 3maande ophou rook, ekt vir my n vape gekry met 3mg nikotien en toe oorgegaan na die nikotienlose een, en om eerlik te wees, het dit my baie BAIE gehelp, ek rook nie n sigaret nie, wanneer ek voel ek raak lus, dan vat ek n trek of twee, en boonop niks nikotien nie, dis waar die geheim le, vir my. Sterkte!

Jakals ·

Die geheim le in Allen Carr se easy way to stop smoking boek. Dit het my gehelp om op te hou rook. Dit was die maklikste uitdagings van my lewe gewees.

JayT ·

Roker, ek verstaan 100% jou onvermoë om te kan ophou. Ek is self ‘n roker wat nou suksesvol ophou rook en en voltyds damp (vape) en van 12mg nikotien na 1.5 mg toe verlaag het. My doel is 0mg. Wat die “gerieflike” artikel nie noem nie is dat gewone sigarette meer as 4000 skadelike middelle bevat, waarvan ‘n groot persent van dit giftig is. Damp toestelle (vaping devices) sit vloeistof (wat Propylene Glycol wat in asma pompies ens voorkom bevat, sowel as voedsel graad Vegetable Glycerene wat onskadelik is en geurmiddels. Die enigste skadelike inhoud van damp vloeistof is nikotien wat jy in veel minder hoeveelhede in neem met damp (vaping) as wat jy sou met ‘n gewone sigaret. So doen jouself ‘n guns en gaan oor, jy sal baie gesonder voel en wees! Dit gesê sou ek nie ‘n persoon wat nog nooit gerook het aanbeveel om te damp nie, maar well rokers aan beveel om dit te gebruik as ‘n staak middel.

X roker ·

Ek het 26 jaar gerook en het 3 maande geede ophou rook en begin Vape, na 4 dae het my rokershoes verdwyn my reuk en smaak is weer normaal en ek voel soos n splinternuwe sikspens, Vape is beslis nie skadelik nie daarvan getuig my ligaam. Dit het beslis my lewe positief verbeter baie beter as rook. Kry net n goeie vape met n goeie batery lewe. Ophou rookwas nog nooit so maklik nie ek beveel dit beslis aan as jy wil ophou rook.

Marius ·

Jy kan maar ek het gerook vir 28 jaar en 3 maande my laaste siggaret neergesit en begin vape, die beste ding wat ek kon doen in my lewe. My vrou het ook gerook en vape ook nou al 2 en n half maande. Gaan na n vape shop hulle gaan jou baie mooi help. Gaan op google en search vir vape shop rond om jou, kry vir jou n starter kit daar is baie. Eks nie een dag spuit nie!

Leon ·

Ek het nou al 3 weke opgehou rook en geniet my vape. Voel gesonder en stem saam dis baie beter as rook. Het self toetse gedoen op die werk se carbon monoxide gas detectors. Sigaret rook behaal tot 800ppm teen 0ppm van vape

Sê maar net ·

My man, wat n jare lange roker is, het 9 maande terug sy gewone sigarette verruil vir n e-cigarette en het nog nie een dag terug gekyk nie. Sy smaak- en reuksintuig het 100% verbeter en hy het nie meer n “rokers hoesie” nie. En n groot pluspunt is my huis ruik nie meer soos n asbakkie nie.

Zebeebee ·

Ek wil begin deur te se ek is nie n mediese professioneel nie. Wat ek hier kommentaar is als wat deur die “vaping community” en navorsers hiervan voorgele is. Popcorn lung of bronchiolitis is n groot ding wat so rukkie terug uit gekom het. Die siekte word veroorsaak deur n chemikaliee genoem diacetyl. Die is die bestandeel wat gebruik word om botter of roomerige geure te maak.

Die siekte se eerste bekendstelling was in ‘n mikrogolf popcorn fabriek in 2000 n paar van die werkers die toestand ontwikkel het. Daar was net 8 mense van die fabriek aangetas van Gilster-Mary Lee popcorn plant wat dit gekry het.

Daar is ook bewys dat diacetyl in n enorme persentasie meer voorkom in sigarette as in enige e-sigarret. Maar net om veilig te wees het al die geur vervaardigers in die vape industrie hulle geure verander on nie meer diacetyl te bevat nie al het die FDA dit gestel as generally regarded as safe. Die FDA het ook bevestig dat hulle kannie bewys dat diacetyl die rede was vir die siekte popcorn lung nie.

Daar is verskriklik baie inligting oor die siekte op die internet. Ek hoop my kommentaar help so bietjie vir die wat onseker is.

Pro-eCig ·

Popcorn lung (soos die naam aandui) is en was nog altyd ‘n simptoom van ‘popcorn’ en in hierdie geval mikrogolf ‘popcorn’. Mense gooi dit nou vir bangmaak voor e-sigarette se deur. Alles gaan oor geld. Die tabak bedryf wil oorleef. Hoekom verban hulle nie liewers ‘microwave popcorn’ nie? Lees gerus “Zebeebee” se kommentaar.

Scalla ·

Baie maklike manier om op te hou rook, kry net jou kop reg en moenie n sigaret aansteek as jy wakker word nie.

ROOKIE ·

Ek is chronies asmaties en het my Twisp 4 jaar terug begin rook en van daar af is my asma onder beheer geen gehoesery in die oggende nie, smaak en reuk sintye is beter en kos smaak weer heerlik. Ek het dieselfde dag as wat ek die twisp gekoop het my pakkie sigarette neer gesit en nooit weer aan n sigaret geraak nie. Ek rook nou nog aan my twisp en geniet dit vreeslik baie daar is geen rede waarom ek sommer sal ophou twisp nie.

Nic ·

Interressante artikel en ek erken ons weet dalk nog te min. Al wat ek vir julle kan sê is dat ek soos n nuwe mens voel, vandat ek tabak prysgegee het en nou net Vape. Die feit dat daar niks teer in is nie maak die werledse verskil. Nou moet ek net ophou Vape!

Swartkat ·

Het vir 48 jaar gerook soos ‘n ou steenkool trein en net die sigarette neergesit en rook nou al vir 4 jaar niks. Kan nie glo dat ek vir soveel jaar gerook het nie,kan rook nou nie verdra nie, sintuie het drasties verbeter en ek ruik nie meer soos ‘ n ou sigaret nie.

GES ·

Ek het reeds meer as 30 jaar opgehou rook. Dit was moeilik maar dit verg net eenvoudig ʼn wilsbesluit. Die uitdaging lê daarin om te volhard. Ek het vir my die saak uitgemaak dat dit ʼn mors van tyd is om besluite te maak en môre weer oorboord gooi. Dit het ook ʼn baie nadelige effek op ʼn mens se persoonlike lewe. Moenie besluite ligtelik neem nie maar staan en val daarby. Watter vorm van rook dit ook al is kan nie gesond wees nie. Maak ʼn ingeligte wilsbesluit en hou daarby. Niks in die lewe kom maklik nie dit kos wilskrag, ons het mos ʼn Helper.

kobus ·

EK IS BAIE LIEF VIR ROKERS, HULLE TYD IS MIN…..DANKIE TOG.

Renier ·

Ek het vir 27 jaar gerook, en 5maande terug begin Vape…. Tot vandag nog nie weer my mond aan ‘n sigaret gesit of nicotien in my Vape. Dis soos enige iets nuuts, mens moet dit eers verstaan, as mens dit nie verstaan gaan jy natuurlik sleg praat… Veiliger as rook?…. Definitief…

Karen ·

My man gebruik ook ‘nTwisp, maar die liquid is baie duur, R180 vir 20ml.

Pro-eCig ·

Twisp is belaglik met hul pryse. Die meeste plekke verkoop handelsmerk ‘liquid’ vir R50 per 10ml. en R120 per 30ml. en tot R150 vir 50ml. Julle moet net ‘n gaan rondkyk by ander verskaffers.

Pro-eCig ·

My dokter het na 38 jaar van sigaretrook gesê ek moet ophou. My longe was moeg. Dit het my ongeveer 15 minute in die oggend geneem om myself uit te hoes voordat ek net ‘n normale gesprek kon voer. In die nag het my asemhaling geroggel of gefluit. As ek lag of oefening doen het ek begin hoes. Ek het alle moontlike hulpmiddels gebruik, maar kon my afhanklikheid nie baasraak nie. Ek het oorgeslaan e-sigsret toe en tabak totaal uitgeskakel. Na twee jaar van e-sigeret rook het dieselfde dokter in Februarie van hierdie jaar gesê my longe is skoon en ek klink weer soos ‘n jongman. Ek kan enige asemhaling toets slaag. Die gehoes, roggel en ge-fluit is weg reeds 3 weke nadat ek van tabak na e-sigarette oorgeskakel het. Ek voel ook beter en kan nou weer oefen. Ander voordele soos asem, reuke, as en toppers en natuurlik finansies is daar outomaties by ingesluit. Natuurlik is net suurstof die beste vir jou longe, maar in vandag se tye met spuitkannetjies, massa voertuig uitlaat, vliegtuie en menige ander besoedeling van alle kante is dit egter ook nie eers moontlik vir die wat tabak vermy nie. Daar is menige ander middels betrokke by die veroorsaking van bv. longkanker en ander siektes. Ek praat niks goed nie, maar e-sigarette is duisend maal ‘n beter alternatief as tabak.

Lucy ·

Soos ek verstaan is die e-sigaret n hulpmiddel om heeltemal op te hou rook. Ek het vreeslik baie gerook en 3 jaar terug n e-sigaret gekoop en nie weer aan n sigaret geraak nie. Ek sukkel nou om die e-sigaret te los en heeltemal op te hou rook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.