Is Jacob Zuma op pad uit?

Pres. Jacob Zuma (Oktober 2016) Foto: GCIS, Flickr

Pres. Jacob Zuma (Oktober 2016) Foto: GCIS, Flickr

Die mosie van wantroue, wat glo die afgelope naweek tydens ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) teen president Jacob Zuma ingedien is, was moontlik ʼn opportunistiese skuif van ʼn groeiende anti-Zuma kamp binne die party om die president se uittrede te bewerkstellig.

Volgens prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, was die NUK nog altyd ʼn veilige hawe vir Zuma. “Ek het egter verneem van Zuma se lojaalste ondersteuners het die naweek ʼn troue bygewoon, wat die moontlikheid van ʼn geslaagde mosie teen Zuma tydens die NUK-vergadering vergroot het. Dit kon dalk die beweegrede agter [Derek] Hanekom se dapper besluit wees om nou die mosie in te dien.”

Maroela Media het vroeër berig die vergadering wat in Irene, Pretoria plaasvind, is tot Maandag verleng nadat Hanekom, minister van toerisme, glo ʼn mosie van wantroue teen Zuma ingedien het. Daar word ook bespiegel Zuma wil moontlik ʼn kabinetskommeling aankondig om ontslae te raak van ministers wat hom nie steun nie.

Duvenhage het gesê hy kan nie werklik nou sê of die mosie suksesvol sal wees nie. “Die kort en die lank daarvan is dat Zuma in die moeilikheid is, maar hy het al sewe mosies van wantroue teen hom in die parlement oorleef. Indien die mosie suksesvol is, sal Zuma se party presies vir hom kan sê wat om te doen, maar ek glo nie hulle sal enige radikale besluite neem nie. Hulle sal hom uitbestuur Nkandla toe, terwyl hulle vir hom ʼn soort politieke amnestie bewerkstellig.

“As die mosie van wantroue nie slaag nie, sal Zuma en sy ondersteuners met ekstra vertroue en vuur die nuwe jaar binnegaan.”

Dr Eugene Brink, ʼn senior navorser by die Solidariteit Navorsinginstituut, meen ook dit was moontlik ʼn opportunistiese skuif. “Die winde binne die ANC en drieparty-alliansie is besig om teen Zuma te draai, met Cosatu wat ook nou hul voorkeur vir Cyril Ramaphosa as Suid-Afrika se volgende president bevestig het.

“Hanekom was dalk vroeër te bang om dit te doen, omdat Zuma nog te sterk gestaan het. Ramaphosa het hom dalk ook iets soos ʼn pos aangebied om die mosie in te dien. Dit kan ook ʼn strategie wees vir mense soos Ramaphosa en Gwede Mantashe om dit nie self te doen nie en hulself nie heeltemal bloot te stel nie. Hanekom het baie invloed binne die NUK en is al van 1994 af daar, maar hy gaan nie president of leier van die ANC word nie en dus kan hy die indiening van mosie meer geloofwaardig doen.”

Oor bespiegelinge oor ʼn moontlike kabinetskommeling is ontleders dit eens – dit word lankal verwag. “Zuma is ʼn uitstekende taktikus en daarom sou hy wag met só ʼn skommeling totdat dit hom pas. Die verskillende kampe in die ANC is nou duideliker as ooit tevore en Zuma sal moontlik probeer om van die kommuniste soos [Aaron] Motsoaledi, Hanekom, Blade [Nzimande], Ramaphosa en [Pravin] Gordhan ontslae te raak en hulle met lojaliste te vervang,” het Duvenhage gesê.

“Kabinetskommelinge in die Zuma-era, maar ook voor sy bewind, word gebruik om die leier se mag te konsolideer en nie om beter regering vir die publiek te lewer nie. ’n Sleutelvraag is of Gordhan iewers heengaan? En wie sal hom as minister van finansies vervang as hy skuif?” het Brink gesê.

Volgens Brink is die ANC verdeeld soos nog nooit tevore nie en die drieparty-alliansie is ook op ʼn algehele laagtepunt. “Dit laat Zuma nog toe om te triomfeer, andersins sou hy al weg gewees het.

“Dit wil lyk asof die pro-Zuma kamp homself sedert die Augustus-verkiesing om elke hoek en draai in ʼn doodloopstraat vasloop. ʼn Klomp ‘pionne’, wat Zuma se vuilwerk vir hom doen, soos Shaun Abrahams en Brian Molefe, betaal ʼn hoë persoonlike prys daarvoor. Die anti-Zuma kamp groei ook en raak meer uitgesproke. Cosatu en die SAKP stel dit ook grootliks prontuit dat Zuma moet gaan en begin selfs al hul voorkeur vir ander presidentskandidate, soos Ramaphosa, uitspreek. Dit gebeur nie sommer nie. Hulle weet die ANC is in ʼn krisis omdat Zuma en sy trawante dit sy eie klein koninkryk wou maak.”

Duvenhage waarsku egter Zuma se vertrek sal ʼn radikale verandering vir die ANC en die land beteken. “Suid-Afrika bevind hom in ʼn moeilike omgewing, ekonomies en polities. Ons moet net onthou Zuma se verwydering sal ʼn moeilike en selfs bloedige proses wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Niel ·

Dit sal ‘n verligting wees as Zuma uit is! Hoop dit kan gebeur, hy het enorme skade aangerig

Henry McDonald ·

‘n Moeilike en ‘selfs bloedige proses’ inderdaad – 14 ANC-raadslede- kandidate in aanloop tot die Munispale Verkiesings in KZN vermoor; ‘ verkose DA Raadslid in Daniëlskuil na bewering deur ANC-kandidate vermoor…….Bloedig ? – Die tekens is daar ja beslis…. en dit maar tydens en in aanloop tot ‘n plaaslike verkiesing……….. nou nog nie eers by die gevolge van ‘n ZUMA-afdanking uitgekom nie…….

Lance ·

Wel hy werf lekker stemme vir die DA ….gesien met die onlangse verkiesing

MikeT ·

Hy het seker al amper sy 9 lewens opgebruik… die probleem is al gaan hy sal daar radikale ingryping in baie gebiede moet wees. Daar gaan nie een dag verby dat mens nie van nog korrupsie te hore kom nie so dit sal die groot uitdaging wees. Sou hy kabinet skommel glo ek natuurlik hy sal Molefe baie vinnig inbring om Gordan te vervang … onthou hy het “hartseer” bedank en is nie asulks afgedank nie. Vraag is ook verder Zuma het nog geen verdere kommentaar of aksie geneem rakende Jiba en kie nie so ja hy kan al hierdie aksies van redes wat deur die mense gegee word aanvaar met ligte tikkie op die vingers en duidelike opdragte te gee dat volgende rondte suksesvol moet wees…. kyk maar na polisie minister en natuurlik die valke hoof …. ons gaan nog “fun ander games” sien in die volgende paar maande … en onthou daar is nie meer Madonsela nie.

Waarheid ·

Zuma se vertrek gaan sy Zoeloe ondersteuners laat besef die ANC Zoeloes se invloed is nou finaal weg. Dit gaan lei tot ‘n herrangskikking van die ‘swart partye’. Ek reken binne twee jaar gaan jy die Nuwe ANC onder Malema sien, wat die kommuniste gaan insluit. Die ‘True ANC’ onder die ouer garde en Cosatu. ‘n nuwe Zoeloe Party gaan gestig word deur oud Zoeloe ANCs, Inkatha, oud Zoeloe DAs, endiesmeer.

Die uurglas vir die ANC soos ons hom nou ken, loop uit …

Jakes ·

Rosalind, steek uit en bring jou man saam, sommer die bure ook. Kommen taar en dade verskillende dinge.

Anoniem ·

Hou hom daar. Sy teenwoordigheid gaan maak dat die opposisie in 2019 Gauteng by die ANC afneem.

Cacophony ·

“Let it be let it be. Speaking words of wisdom let it be”

Etienne ·

Wat het die slim Proffessore en Doktore nou eintlik kwytgeraak ? Miskien, dalk, tog, waarskynlik , moontlik ? Sê eerder jul het nie die vaagste benul nie -soos 99 % van ons !

Verıtas ·

Ettıenne, dıe Doktore en Proffessore dınk anders as ons gewone sterflınge. Dankıe tog dat hulle nıe dıe meerderheıd vorm nıe. Polıtıek ıs, weens dıe dıversıteıt van dıe rolspelers, nıe ‘n eksakte wetenskap nıe. Gelukkıg nıe. Dınk net hoe saaı dıt sou wees om alles, polıtıes gesproke, op ‘n rekenaar te kon uıtwerk. As mens luıster na dıe onsın wat sommıge Doktore soos Blade Nzımande kwytraak, vat dıt nıe veel, polıtıes gesproke, om ‘n Doktor te word nıe. Polıtıek en geleerdheıd het regtıg nıe veel ın gemeen nıe. Ons presıdent ıs ‘n sprekende voorbeeld hıervan.

Kobus ·

Soos die afgelope Amerikaanse Presidentsverkiesing bewys het,het ek my bedenkinge oor al die politieke kommentators se stellings en peilings…net so nou met die NUK indaba waar Jacob Zuma moet veg teen n mosie van wantroue,kan geen politieke kommentator met reg n voorspelling waag wat die uitkoms gaan wees,al word inligting gelek,bly die menslike faktor van emosie,hebsug en intimidasie die kern waarop n voorspelling onvoorspelbaar is….

Etienne ·

Dankie, eks ‘ n rekenmeester -eksakte studie veld – nou verstaan ek hoekom ek hul nie verstaan nie.

Johnny ·

Volgens ‘n bron van News24 het die ou kalant blykbaar die vergadering oorleef. Mooi so! Meer stemme vir su opposisie.

Nee ·

Nee hy is nie oppad uit nie, almal wat hom TEESTAAN is oppad uit. Dis eintlik goed so, dan kan hulle NOG harder slae kry by die volgende verkiesing .. dalk as hulle hom nou vervang kry die ANC weer lewe .. gee hom kans om die party te vernietig.

Kobus ·

Daar moet onthou word , was dit nie vir Zuma nie, het die DA nie PE , Johannesburg en Pretoria se munisipale verkiesings gewen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.