‘Is jy die koedoe-ou?’

Martin Basson ná die val. Foto: Facebook

Martin Basson ná die val. Foto: Facebook

ʼn Fietsryer van Pretoria se deelname aan ʼn bekende fietsren is Saterdag op verrassende wyse onderbreek, nadat ʼn koedoe hom van sy fiets af gespring het.

Martin Basson (30) het Saterdag aan die Nissan TrailSeeker Bundu Bash-bergfietswedren deelgeneem by die Buffelsdrift-bergfietspark, ongeveer 15km noord van Pretoria. Die park grens aan die westelike kant van die Dinokeng-gebied.

Basson het Maandag aan Maroela Media vertel dit was die eerste fietsren waaraan hy in meer as twee jaar deelneem en hy wou juis weer met dié stokperdjie begin deur die 40km-wedren aan te pak. “Ek het seker so 14km van die wedren afgelê en by ʼn bult afgery toe ʼn koedoe amper reg langs my teen die draad vasspring. Die koedoe het in die proses die draad plat gespring. Nog twee koedoes het oor die stukkende draad gespring en die een reg in my vas. Ek is van my fiets af gegooi en het in ʼn sekelbos langs die pad beland,” het hy gesê.

Volgens Basson het die koedoes veroorsaak dat omtrent 600 meter van die draad omgeval het en twee anders fietsryers het snye opgedoen nadat die draad bo-op hulle geval het. “Ek het nou maar net skrape en snye van die val opgedoen en my skouer is potblou gekneus,” het hy gesê.

“Een van my vriende het gestop om my op te help en ek het verder gery en probeer om die wedren te voltooi. Maar ek dink hierdie wedren was nou maar net nie vir my beskore nie, want net so 6km verder het ʼn stok dwarsdeur my band gesteek en ek het wéér geval. Ek kon die een gat in die band regmaak, maar nie die tweede gat nie, toe sê ek net vir my vriende, ek is nou klaar!” vertel hy laggend.

Basson sê dat hy gelukkig nie ernstige beserings opgedoen het nie. Paramedici by die wedren het sy skrape en snye skoongemaak. ʼn Dokter het hom ook later ondersoek en bevestig hy is nie ernstig beseer nie. “Ek is eintlik baie gelukkig, want dit kon baie erger gewees het. Nadat die koedoe my getref het, het ʼn stuk uit my valhelm gebreek, dus kon dit eintlik baie lelik uitgedraai het.”

Hy sê hy kan ongelukkig nie nou met ʼn medalje spog na die wedren nie, maar hy kan darem van sy buitengewone ervaring vertel. “Toe ek later by die eindstreep staan terwyl hulle my wonde skoonmaak, het iemand wat ek nie ken nie na my toe gekom en gevra: ‘Is jy die koedoe ou?’ Ek het nou ʼn lekker storie om te vertel!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Carol ·

Dis nou n storie vir jou kleinkinders. Bly jy het nie erger seer gekry nie. Koedoes us gevaarlik.

Helen Doman ·

Daai skouer lyk vir my darem vrekseer. Dink hoe dit brand.

Sakkie Kruger ·

Die amptelike naam vir die SA fiets ry span “die Koedoes”

Perdekrag ·

As jy nou gestop het om die koedoe n lift te gee dan het dit miskien anders afgeloop maar ry volgende keer met n tandem fiets kan jy 2 koedoes n lift gee.
Maar tog bly dit n pynlike storie , aauuuw

Johan ·

Ek het jou Saterdag na die resies gesien en nogal gewonder hoe ry n mens so rof fiets dat jy met sulke battle scars oor die eindstreep ry!

Rapes ·

Tong in die kies wonder ek. Gaan die koedoe nou aangekla word vir aanranding of onwettige kruis van pad?

Marina ·

Dit was nou so lekker om weer vir ‘n slag iets ligs te lees en die pittige segoed maak sommer mens se dag. Arme ou, lyk maar seer.

James Moore ·

Die koedoe gedeelte is nie so erg maar daai sekelbos!! Ouch, gee tot n trekker n puncture!!

humor ·

Hierna sal koedoebiltong spesiaal lekker wees. Het dit op my plaas gebeur sou jy beslis as prys n paar kg uitsoek biltong gekry het. Hoop die eienaar is vrygewig!!!

Erich ·

Sport is gevaarlik – did hoekom ek dit eerder kyk vanuit my rusbank

Pieter ·

Een koedoe en twee koedoe en daar lê Basson, tra la la , daar lê Basson Tra La la…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.