Is lag regtig die beste medisyne?

(Foto: Stormy All/Unsplash)

Soms kan jy jou lag nie hou nie, jy lag in jou vuis (stil-stil lag), dat ander jou kleintongetjie kan sien (hartlik lag) of jy lag jou ʼn boggel met ʼn skuifraam (hard lag).

ʼn Mens is partykeer dik van die lag en wanneer jy sukkel om jou lag te hou, dan proes ʼn mens, of die emosie kry die oorhand en jy bars uit van die lag.

Die Engelse digter en dramaturg, William Shakespeare, het op ʼn keer gesê: “Hulle wat lag, wen.” Talle mediese studies is dit eens dat lag natuurlike medisyne vir jou geestesgesondheid is en uiteindelik ook ʼn geneesmiddel vir stresverligting.

Kort- en langtermynvoordele van humor

In ʼn artikel deur Robinson, Smith en Segal (2021) op helpguide.org hou lag verskeie voordele in: Dit versterk jou immuunstelsel, gee jou gemoed ʼn hupstoot, help jou om van woede ontslae te raak en dit verskans jou teen die nadelige invloed van spanning.

Wanneer jy begin lag, verlig dit nie net jou gemoed nie, dit het ook ʼn invloed op jou liggaam. Op kort termyn het dit die volgende uitwerking:

  • Lag verhoog jou inname van suurstofryke lug; dit stimuleer jou hart, longe en spiere en verhoog die endorfiene wat deur jou brein vrygestel word.
  • Lag stimuleer ʼn vinnige bloedsirkulasie. As dit gebeur, kan jy ʼn kalmerende gevoel ervaar wat stres en spanning verlig.

Bykomend tot die korttermynvoordele hou lag ook op lang termyn bepaalde voordele in. Dit sluit onder meer die volgende in:

  • Positiewe gedagtes lei tot die vrystelling van neuropeptiede. Dit is breinchemikalieë wat bekend is daarvoor om angs, stres en ander verwante geestestoestande te beveg. Om te lag kan dus jou immuunstelsel ʼn hupstoot gee.
  • Lag kan pyn verlig deurdat die liggaam sy eie natuurlike pynstillers vervaardig.
  • Om te lag help om spanning, depressie en angs te verminder en kan jou gelukkiger laat voel. Dit kan ook jou selfbeeld verbeter.

Wenke om jou sin vir humor te verbeter

Robinson, Smith en Segal (2021) meen ʼn noodsaaklike bestanddeel om jou sin vir humor te ontwikkel, is om jouself nie te ernstig op te neem nie. Hier is ʼn paar wenke wat jou sal help om meer te lag:

  • Lag en die wêreld lag saam met jou. Probeer om vir jouself en oor jou eie situasies te lag. Selfs al voel dit aanvanklik geforseerd. Oefen om te lag en jy sal agterkom dat dit ʼn positiewe uitwerking op jou liggaam het.
  • Wanneer jy hoor dat iemand lag, beweeg nader. Humor kan soms ʼn gedeelde grap onder ʼn klein groepie mense wees. Dit is egter nie altyd waar nie. Mense deel meer dikwels as wat jy besef iets snaaks omdat dit hulle weer die geleentheid bied om nog te lag. As jy iemand hoor lag, beweeg nader en vra: “Wat is so snaaks?”
  • Daar is humor op die horison. Kies ʼn paar eenvoudige items soos foto’s, verjaardagkaartjies of strokiesprente wat jou laat lag. Stoor dit op jou foon, hang dit op in jou huis of kantoor of bêre dit in ʼn lêer of notaboek. Jy kan ook snaakse flieks, TV-reekse, boeke, tydskrifte of video’s identifiseer en dit byderhand hou vir tye wanneer jy humor nodig het.
  • Jy hoef nie altyd stil-stil te lag nie. Kweek ʼn gewoonte om tyd saam met vriende deur te bring wat jou laat lag en maak dan ʼn punt daarvan om snaakse verhale of grappies met die mense om jou te deel.
  • ʼn Grap is ʼn grap … maar nie ten koste van iemand anders nie. Gebruik jou beste oordeel om ʼn goeie grap van ʼn slegte of kwetsende een te onderskei.

Bykomende bronne: HelpGuide, Mayo Clinic, WebMD en Psychiatry Advisor.

Ter viering van Maroela Media se tiende verjaardag in 2021 is ons op soek na die Grootste Afrikaanse Grap van Alle Tye. Boonop staan jy die kans om een van twee vakansies na Mauritius te wen met die komplimente van World Leisure Holidays*! Kom lees meer oor dié kompetisie hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tanja ·

My skoonma het die gewoonte om so aasitterig te lag en dan probeer sy almal om haar te maak lag, maar dit is ongelukkig nooit suksesvol nie, want mens kan hoor dit is aansit en nie ń opregte lag nie.
Maar wat my bekommer is dat my kinders dit nou ook aan geleer het, en dit is erger as ń aansit huil!

JohanR ·

Geen wonder Bathabile Dlamini, Bheki Cele, NDZ en Jessie Duarte lyk altyd soe suur!

Hennie J ·

As hierdie feite korrek is, dan sou ons hier in piesangland van die vrolikste wesens in die heelal wees,want ons lag elke dag vir die piesangregering!

Shakespeare ·

Partykeer wonder ek of dit regtig help en ek lag BAIE.

Wielspore ·

My twee dogters het so saam saam die tiener fase betree en ons as ouers het geleer om ons woorde mooi te kies as daar met hulle gepraat word anders skop die tiener nukke in.
Die een aand aan tafel vra die oudste van die twee, “Pappa, wat beteken verb?” My brein maak ‘n draai om die regte antwoord te gee en ek besluit om sommer bietjie humor in te bring en ek antwoord, “Dit is wanneer jy vir my kwaad word en jy jou vir my verb” (wip).
Daar beland ek in die dog box, tiener is ge-werb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.