Is SAID blind vir ANC se skuld? – AfriForum

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Donderdag ’n brief aan Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), geskryf waarin die organisasie duidelikheid vra oor die aangemelde uitstaande belastingskuld van die ANC.

AfriForum is bekommerd oor die pogings wat aangewend is om die ANC se geraamde R100 miljoen uitstaande inkomstebelasting in te vorder.

Luidens mediaberigte is daar wél inkomstebelasting van ANC-werknemers se salarisse verhaal, maar nooit aan die SAID oorbetaal nie. Volgens die verslae gebeur dit al sedert 2018.

“Dit is kommerwekkend dat die SAID nog nie ’n woord hieroor gesê het nie en dit wil voorkom of die ANC voorkeurbehandeling in dié verband kry,” sê Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum.

“In ’n tyd waar Suid-Afrikaners sukkel om die mas finansieel op te kom terwyl hulle toenemende belastingdruk ervaar, is dit absoluut onaanvaarbaar om te hoor van die ANC se belastingskuld en dat hulle nie gedruk word om inkomstebelasting te betaal nie – sou die berigte waar wees. As ’n gewone Suid-Afrikaner selfs die geringste berekeningsfout op hul belasting maak, sal die SAID aan hulle deur kom klop, maar die regerende party kan sowat R100 miljoen in inkomstebelasting skuld en dit word geïgnoreer.”

Werkers by die ANC se kantore landwyd het in Augustus vanjaar aangedui hulle gaan weens onbetaalde salarisse staak.

Dié werkers het in Junie al betoog oor die benarde situasie waarin hulle hul bevind en hul uitstaande Mei-salarisse is destyds ná die betoging betaal.

Die ANC se kontantvloeiprobleme en stakings deur sy werknemers weens agterstallige rekeninge het dié party verder genoop om op 12 Augustus ʼn skarehulpfonds te stig om geld in te samel.

Die ANC pak die skuld vir sy “kontantvloeiprobleme” onder meer op die algemene ekonomiese situasie, die inwerkingstelling van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye, asook ʼn dringende behoefte om die ANC se operasionele en finansieringsmodelle te moderniseer.

In AfriForum se brief aan Kieswetter versoek hy die SAID om die volgende vrae te beantwoord:

  • Watter stappe het die SAID gedoen om hierdie uitstaande bedrag van die ANC in te vorder?
  • Indien die SAID nog nie formele stappe gedoen het nie, verduidelik hoekom nie?
  • Kry die ANC voorkeurbehandeling as dit kom by die betaling van inkomstebelasting?

“As die regerende party nie hul belasting betaal nie, sal gewone burgers hulle voorbeeld begin volg. Dit maak die moontlikheid van ’n belastingopstand des te meer werklik.”

News 24 berig die Umkhonto we Sizwe (MK)‑veteraan Carl Niehaus – wat verlede Woensdag deur die ANC in die pad gesteek is – het Woensdag ʼn klagte van bedrog, diefstal en korrupsie teen hooggeplaastes by die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie ingedien.

Die klagtes is namens ANC-werknemers ingedien wat ontevrede is oor die R100 miljoen wat glo oor die jare uit hul salarisse in die vorm van werkgewersbydraes “gesteel” is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hardekwas ·

Ek weet nie hoekom Afriforum kla nie. Sars het n presedent geskep deur nie die anc te vervolg nie. Ek moedig alle besighede aan om nié hul wekers se inkomstebelasting aan sars oor te betaal nie. Hou dit terug tot die anc vervolg word. As hulle nie vervolg word nie, dan kan besighede hierdie belasting as adisionele wins beskou.

Kerneels ·

Miskien is hierdie die antwoord op ons soeke na ‘n manier om ‘n belastingprotes te loods…

Jack ·

Jy redeneer verkeerd. Die teruggehoue belasting geld behoort nie aan die werkgewer nie maar aan die werkers. Hulle moet dit terugkry.

Baardman ·

Nou gaan ons gehoorsame betalende burgers weer hulle skuld moet betaal. Petrolprys gaan seker ook een of ander obskure heffing kry.

JohanR ·

Onthou julle nog die vrou in 1989 : Leona Helmsley, wealthy New York City businesswoman and hotel magnate, went to trial in 1989 on charges of income tax evasion. Helmsley famously said, ‘Only little people pay taxes.” A jury of taxpaying little people was not impressed and Helmsley went to Federal prison. ANC 2021 – “only little people pay taxes.”

Frederik C ·

Met die oprigting van Nkandla moes Zuma R 45miljoen belasting betaal…..paar jaar gelede. Is dit reeds betaal ???

Kenny ·

Kan jou waarborg dit het n stille dood gesterf saam met die vbs se stropery

Skappie ·

Dit lyk of die ANC weg kom met alles. Gelukkig kry die apartheidjare nie hierdie keer die skuld nie.

TO ·

En wat beoog die minister om daaraan te doen want dis nie kleingeld, of gaan dit ook verdwyn soos comrade Zuma se tronkstraf

Jaco ·

Daars iets wat ek nie verstaan nie: die ANC is links en regs besig met staatskaping en korrupsie en onwettig incash uit tenders. Dan moet daar mos genoeg geld wees om hulle werkers te betaal.

Jack ·

Die Bybel meld dat daar vier of vyf dinge is wat nooit versadig raak nie, Die ANC word nou wellnie vernoem nie, maar hulle geldlus is onversadigbaar.

Thelsa ·

Kêrels, kêrels . . los maar. Party is meer ‘equal’ as ander

Nie Verbaas ·

Is dit nie bedrog as die geld van werknemers afgetrek word maar nie oorbetaal word nie? Hoe lyk die werknemers se opgawes dan as hulle volgens SAID nie belasting betaal het nie?

Moedeloos ·

Wil ek ook baie graag weet. Ek sou al in Polsmoor gesit het as ek natalig was en nie ons maatskappy se belasting oorbetaal het nie.

annie ·

Hoe kan ‘n party toegelaat word om aan verkiesings deelneem wat nie die landswette gehoorsaam nie? Mense wat vir die ANC stem is soos diegene wat botteltjies vol niks genaamd ‘Beloftes’ telkens ten duurste in winkels gaan koop en die niks op hul brood smeer. Bottel na bottel. Nnjamm!

Elize ·

Sars sal hulle nie vervolg nie maar o wee laat die kleintjies net R2-00 skuld dan wil Sars jou hof toe vat!
Hulle is self ANC so hoekom hulle boeties iets aandoen. Kieswetter is reg wat sy van sê – wetter!

Jack ·

Die anc besit die said en ek glo n korrupsie ondersoek by hulle sal die waarheid ontbloot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.