Alberton-trokdrywer in hof

Isaac Wade Maruding. Foto: SAPA

Isaac Wade Maruding. Foto: SAPA

Isaac Wade Maruding, die vragmotorbestuurder wie se vragmotor in Oktober tydens spitsverkeer op die N12 in Alberton, Johannesburg in talle voertuie ingeploeg het, het Woensdag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

Staatsaanklaer Jonh Ntuli het landdros Samuel Hlubi versoek om die saak teen Isaac Wade Maruding uit te stel sodat hy ʼn regsverteenwoordiger kan aanstel. Hlubi het Maruding van sy reg ingelig om ʼn advokaat aan te stel, vir regshulp aansoek te doen of sy eie verdediging te hanteer.

Maruding het deur ʼn tolk gesê hy sal sy eie advokaat aanstel en dat hy in ʼn maand of twee gereed sal wees vir die hofsaak om voort te gaan. Hlubi het die saak tot 23 Januarie uitgestel. Maruding, geklee in ʼn denim en swart sweetpaktop, se borg is verleng. Hy is tydens ʼn vorige verskyning op borgtog van R7 000 vrygelaat.

Maruding het reeds aangedui dat hy onskuldig gaan pleit. Hy voer aan dat die vragmotor se remme onklaar geraak het. Hy staan tereg op vier aanklagte van strafbare manslag en ʼn aanklag van roekelose of nalatige bestuur.

Hy is al voorheen aan strafbare manslag sowel as roekelose of nalatige bestuur skuldig bevind vir twee voorvalle wat in Viljoenskroon in die Vrystaat plaasgevind het.

Maruding is op 15 Oktober in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat hy op 14 Oktober tydens spitsverkeer in nagenoeg 50 voertuie ingeploeg het. Die botsing het drie mense se lewens geëis en 16 mense beseer.

Lees alles, en sien beeldmateriaal van die Alberton-ongeluk hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

“Truck” = “vragmotor”, nie “trok” nie. En “driver” = “bestuurder”, nie “drywer” nie. Dus : “truck driver” is “vragmotorbestuurder”, nie “trokdrywer” nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.