Isabel van Coller-moord: Verhoor begin ná drie jaar

Isabel van Coller en Harriet Ackermann (Foto: Facebook)

Die verhoor van Goliath Biazza, die man wat vir die moord op Isabel van Coller teregstaan, sal na verwagting Maandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg begin.

Van Coller is die oggend van 15 November 2019 tydens ’n kaping in Bramley, Johannesburg, doodgeskiet. Kringtelevisie-beeldmateriaal wat die gewelddadige kaping en Van Coller se sinnelose skietdood vasgevang het, het ná die voorval wyd opslae gemaak.

Dit blyk uit die beeldmateriaal dat Biazza, een van vier vermeende kapers, die doodskoot afgevuur en in Van Coller se voertuig weggejaag het. Hy staan tereg op klagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingegryp het namens Harriet Ackerman, die tweelingsuster van Van Coller en ’n senior aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), omdat die saak aanvanklik van die rol geskrap is.

Maroela Media het vroeër berig dat verskeie verdagtes ná Van Coller se dood met haar selfoon in hul besit in hegtenis geneem is. Geen klagte is egter teen hulle aanhangig gemaak nie en Ackerman is ingelig dat hulle nie met die kaping verbind kon word nie.

In Maart 2020 het die staat Ackerman ingelig dat ander verdagtes wat bekentenisse gemaak het, in hegtenis geneem is en dat die saak in die hooggeregshof verder gevoer sou word.

In dié stadium is Biazza egter die enigste een wat aangekla is en in verband met Van Coller se moord vervolg word. Geen ander verdagtes is tans in aanhouding nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Van Coller se familie en sal die hofverrigtinge bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.