It’s Time: Buchan praat oor droogte, misdaad en grond

Angus Buchan op die verhoog by die It’s Time-gebedsbyeenkoms (27 Oktober 2018). Foto: Reint Dykema

“Tensy God vir jou sê om die land te verlaat, bly jy net hier.”

Só het Angus Buchan Saterdag aan die derduisende mense gesê wat die It’s Time-gebedsbyeenkoms, oos van Pretoria bygewoon het. Mense het van heinde en ver gekom, onder meer van Namibië en Portugal, om saam met mede-Christene vir die toekoms van Suid-Afrika te bid.

Organiseerders kon nog nie ʼn amptelike beraming gee van hoeveel mense die byeenkoms bygewoon het nie.

Ná ʼn oggend van lofprysing en aanbidding was Buchan net ná 13:00 op die verhoog om ʼn sterk boodskap te lewer. “Ons moet vandag ons sondes bely. Ons moet bid dat God hierdie plek kom reinig. En ons moet bid vir Suid-Afrika,” het Buchan gesê.

Mosiuoa Lekota, president van Cope, by die It’s Time-gebedsbyeenkoms (27 Oktober 2018). Foto: Reint Dykema

Hy het aan die skare gesê indien God aan jou leiding gee om Suid-Afrika te verlaat, is dit wat jy moet doen. “Bid en vra vir ʼn antwoord. En as jy nie ʼn antwoord kry nie, is dit ook ʼn antwoord! As God nie vir jou sê om hierdie land te verlaat nie, dan bly jy. Wat my en my familie betref, ons sal hier bly en die Here volg.”

Buchan het verskeie knelpunte in die land aangeraak, onder meer die skrikwekkende moordsyfer, ongelykheid, die droogte en die grondkwessie.

“Hierdie grond was hier voor jou en hierdie grond sal nog hier wees wanneer ek en jy weg is. Hierdie grond behoort aan God. God het aan ons hierdie land gegee. Ons bid dat die regering die wysheid sal kry om die kwessie reg te bestuur en om die wil van die Here hiermee te volg.”

Hy het gesê Suid-Afrikaners moet bid dat die regering die regte ingesteldheid oor die grondkwessie sal kry en met wysheid sal optree.

Die skare neem deel aan lofprysing by die It’s Time-gebedsbyeenkoms (27 Oktober 2018). Foto: Reint Dykema

Buchan het ook gebid vir gelyke geleenthede vir alle Suid-Afrikaners, in skole, universiteite en werksplekke. “As jy nie hard werk nie en jy het nie die nodige kwalifikasies om universiteit toe te gaan nie, dan hoort jy nie daar nie. As jy hard werk en jy kry die nodige kwalifikasies, bid ons vir die Here om ʼn pad vir jou te maak om universiteit toe te kan gaan. Ons bid vir die Here dat die mense van hierdie land hard sal werk en dat hulle geseën sal word vir hierdie werk.”

Buchan het hom ook uitgespreek oor die talle mense wat daagliks in Suid-Afrika vermoor word en gesê dit is iets wat onmiddellik moet endkry. “Ons moet bid dat die Heilige Gees sal ingryp, dat ons mense beskerm sal word. Ons moet ook bid dat God die polisiemag sal beskerm en dat hulle nuwe respek in hierdie land sal kry.”

Die evangelis het ook gebid vir reën oor Suid-Afrika, veral in gebiede wat nog erg onder droogte gebuk gaan.

Hy het die skare aangemoedig om nie net vir die land te bid nie, maar ook vir mekaar. “Van vandag af kan jy die wêreld ingaan en sê jy is ʼn wedergebore Christen. Jy kan vir die wêreld sê: ‘Ek is ʼn volgeling van Jesus Christus.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.