IVP bereid om oor veelparty-pakt te gesels

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: ANA)

Die IVP het ingestem om samesprekings te hou met enigiemand wat sy “waardes en beginsels deel” rakende die moontlikheid om ʼn veelparty-pakt vir volgende jaar se verkiesing saam te stel.

John Steenhuisen het met sy herverkiesing as die DA-leier onder meer die IVP genooi om ʼn sogenaamde “Moonshot”-pakt met enersdenkende politieke partye, burgerregtegroepe en burgerlike organisasies te vorm sodat die ANC ontsetel kan word, die EFF uit regering kan bly, en om ʼn nuwe nasionale opposisiekoalisie-regering daar te stel.

“Die IVP het nog altyd gedoen wat in die beste belang van die land is. Hoewel die IVP nie ʼn nasionale opposisiekoalisie-regering-ooreenkoms met enige party aangegaan het nie, glo ons daar is ʼn behoefte vir politieke partye om hieroor te praat,” sê Mkhuleko Hlengwa, woordvoerder van die party.

Terwyl sommige politieke partye reeds hul steun vir die moontlike pakt uitgespreek het, is ander weer bekommerd dat die DA ander partye as “pionne” gaan gebruik en ʼn “grootbroer”-mentaliteit aanneem.

Die IVP het ook die DA hierteen gemaan, en sê daar moet eerder ʼn inklusiewe omgewing van betrokkenheid geskep word vir die pakt om suksesvol te werk.

Volgens Hlengwa sal die IVP die DA se uitnodiging aanvaar en sy insig oor ander lande wat ʼn lang geskiedenis van suksesvolle koalisieregerings het, met die konvensie deel.

“Ons sal nie op ons ideale toegee nie en sal die besprekings aanpak vanuit ʼn grondslag van uitgebreide ervaring wat oor die jare heen opgedoen is,” sê hy.

“Die IVP weet wat werk en wat nie werk nie wanneer dit by politieke pakte kom. Ons sal dus ons wysheid aan hierdie konvensie bied in die hoop dat dit die algemene foute kan vermy wat vorige verhoudings tussen opposisiepartye verswak het.”

Die IVP is veral bekommerd oor die stand van sake in Ekurhuleni en Tshwane, waar koalisieregerings die voortou neem.

“Waarvoor Suid-Afrikaners nou hoop, en waarvoor hulle vra, is dat eendersdenkende partye suksesvolle werkverhoudinge begin ondersoek sodat ons ons land uit ʼn krisis kan stuur,” sê Hlengwa.

“Die IVP slaan ag op hierdie hulpkreet, daarom is dit tyd vir ʼn konstruktiewe betrokkenheid by partye wat ʼn nuwe regering wil vorm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos 100 ·

Al hoe koalisies kan werk is om dit VOOR ‘n verkiesing bekend en bindend te maak. Dan kan die kiesers hul keuse uitvoer en na die verkiesing moet dit geinplementeer word soos ooreen gekom. Tans word alle koaliesies na verkiesings onderhandel, wat in wese die kieser se stem net laat strek tot in wese vir of teen die ANC.

Kokkie ·

Klink sinvol, gematig . Maar kan enige koalisievennoot waarlik vertrou word? Ons sien mos hoe hop sekere partye rond as iets hulle nie pas nie.

Elize ·

Kan mense tog net begin saamwerk vir die behoud van hierdie land??

Manie ·

Met koalisies moet die troubrief en skeibrief saam opgestel word, dan weet alle betrokkenes hoe dit gaan werk voor, tydens en na die “huwelik”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.