IVP ontken interne struwelinge

Mangosuthu Buthelezi. Foto: GCIS

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het weer sy nasionale verkiesing uitgestel, maar ontken dat dit as gevolg van interne probleme in die party is.

Albert Mncwango, adjunk- nasionale woordvoerder, het Maandag by die party se hoofkantoor in Durban berigte verwerp dat daar struwelinge in die party is oor wie die opvolger sal wees. “Die IVP is steeds verbind daartoe om ʼn konferensie te hou.”

Die party se laaste verkiesingskonferensie was in Desember 2012 waar stigter en president Mangosuthu Buthelezi (wat vanjaar sy 90ste verjaarsdag gevier het), aangewys is om die party te lei. Die IVP se grondwet is by dieselfde konferensie gewysig om ʼn adjunkpresident aan te stel. Mzamo Buthelezi is in dié amp aangestel.

Mangosuthu het in Oktober verlede jaar aangekondig dat hy nie in Desember 2017 vir herverkiesing beskikbaar sal wees nie. Hy het aangekondig dat sy party se leierskap ingestem het om Velenkosini Hlabisa in sy plek aan te stel – Mzamo is dus oorgesien.

Die IVP het in daardie stadium gesê die 2017-konferensie is uitgestel weens “logistieke kwessies”, insluitend ʼn oudit van takke.

Mncwango het Maandag gesê die party het in Januarie op bedrieglike takke van die party afgekom en daar is nog “ernstige probleme”, ondanks ʼn ingryping deur die leiers van die party. “Dit sal ʼn nadelige impak hê op die algemene konferensie, insluitend moontlike regstappe,” het hy verduidelik.

Volgens hom het dié probleme daartoe gelei dat strukture nie behoorlik kon voorbereidings tref vir die konferensie nie. “Die lys van afgevaardigdes is in hierdie stadium nie volledig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Abe ·

Die IVP kan nie die verkiesing uitstel nie. Hulle het seker die verkiesingskonferensie uitgestel (1e par.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.