Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) steun grondonteiening mits dit op ’n verantwoordelike manier uitgevoer word om die foute wat destyds in Zimbabwe begaan is, te vermy, het die IVP Sondag gesê.
Die IVP wou nooit hê die grondhervormingsbeleid moet die land verwoes nie, het Velenkosini Hlabisa, die provinsiale sekretaris van die IVP en KwaZulu-Natal se premierkandidaat, gedurende die party se finale verkiesingsveldtog in KwaMashu, Durban, gesê.
“Ons glo nie in ’n onverantwoordelike grondverdelingsbeleid nie. ’n Praktiese voorbeeld daarvan is Zimbabwe. Op die oomblik betaal Zimbabwe se president wit boere. Dit is omdat Zimbabwe se president die realiteit besef het dat as jy nie vergoed nie, jy die ekonomie van die land gaan vernietig,” het Hlabisa gesê.
“Wat die IVP sê, is dat ons, wanneer ons aan bewind kom, die grond wat in die hande van die regering is, sal neem en dit onder ons mense sal verdeel sonder dat iemand vergoed word. Ons sal ook die grond neem wat in die besit van buitelandse beleggers en internasionale besighede is en dit sonder vergoeding onder ons mense verdeel.”
Volgens Hlabisa sal die IVP ook ʼn grondoudit doen om uit te vind wie die betrokke grond bewerk en dan landboukolleges op die been bring sodat jeugdiges met praktiese ondervinding op die plase toegerus kan word.
“Oor ’n tydperk van vyf jaar behoort ons ’n oordrag van grond te kan doen, want as ons vir mense grond gee sonder dat hulle toegerus is met die vaardighede om die grond te bewerk, sal hulle dit bloot terugverkoop omdat hulle honger is,” het Hlabisa gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Dos nie onverantwoordelik om grond te oneien van buitelandse beleggers nie?
Ons het beleggers nodig en julle wil hulle wegjaag?
Ja hulle steun ook “verantwoordelike” onderdrukking van minderhede. ‘n slegte voorbeeld is Nazi Duitsland, hier wil hulle dit verantwoordelik doen.
In zim het die mense al die grond en nogsteeds is dit n groot gemors ????
Sien dit as onortodokse voorverkiesing beloftes met die hoofdoel om stemme te werf.
die IVP sê hulle wil staatsgrond aan grondloses gee. onthou net, staatsgrond sluit die Kruger Wildtuin en die Karoo Nasionale Park in.
groot stukke grond, bestaande uit berge en ook vrugbare landbougrond, is in staatsbesit langs die Theewaterskloofdam. dit dien as n “spons” om water op te gaar, wat dan afvloei en deursyfer na die dam toe. dis selfmoord om daardie grond aan nuwe boere weg te gee.