IVP-voorsitter in Johannesburg sterf

Phumlani Skosana, die Inkatha Vryheidsparty se voorsitter in Johannesburg, is die afgelope naweek oorlede. (Foto: ANA)

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het Maandag die nuus gedeel dat die party se voorsitter in die Stad Johannesburg, Phumlani Skosana, die afgelope naweek gesterf het.

Luidens die party is Skosana dood ná ʼn lang siekte. “Ons probeer nog tot verhaal kom oor hierdie vernietigende werklikheid dat hierdie nederige en toegewyde lid van ons party oorlede is,” het Alco Ngobese, die provinsiale sekretaris van die IVP in Gauteng, gesê.

“Ons het baie hoë agting vir hom gehad en verwag dat hy nog groot hoogtes in sy politieke loopbaan sou bereik, ʼn loopbaan met ʼn fokus om ʼn lojale dienaar van die mense te wees.”

Ngobese het namens die IVP sy opregte medelye met die vriende, familie en naasbestaandes van Skosana uitgespreek. “Sy lewe het tot ʼn einde gekom, maar sy nalatenskap van wysheid, integriteit en moed sal vir altyd voortleef. Mag sy siel in ewige vrede rus.”

ʼn Gedenkdiens vir Skosana sal môre om 17:00 by die Bertha Solomon-ontspanningsentrum in Jeppe gehou word. Die begrafnis sal Saterdag in Ladysmith in KwaZulu-Natal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.