IVP vra Ramaphosa moet ingryp by die lykshuisstaking in KZN

Argieffoto

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het Woensdag ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om dringend in te gryp by die voortgesette staking by lykshuise in KwaZulu-Natal.

Personeel by staatslykshuise in die provinsie is al vir twee weke lank besig met ʼn sloerstaking. Hulle eis ʼn loonverhoging en betoog teen “ondraaglike” werkstoestande soos stukkende lugversorgers, toilette, ou uniforms en ʼn gebrek aan skoonmaaktoerusting.

Maroela Media het vroeër berig Sibongiseni Dhlomo, provinsiale LUR van gesondheid, is gedwing om sake in sy eie hande te neem en het self twee outopsies uitgevoer toe forensiesepatologiedienste tot ʼn stilstand gedwing is by die Fort Napier Medico-lykshuis in Pietermaritzburg.

Ncamisile Nkwanyana, IVP-woordvoerder oor gesondheid, blameer premier Willies Mchunu vir die staking. Volgens Nkwanyana is Mchunu se versuim om in te gryp, ʼn duidelike teken dat hy nie besorg is oor die lot van die inwoners in die provinsie nie. “As die IVP sou ons verwag dat die premier sy stilswye verbreek en homself uitspreek teen die optrede van die provinsiale departement van gesondheid. Nou is dit hoogtyd dat die president ingryp,” het hy bygevoeg.

“Dringende ingryping is nodig, want dit is onaanvaarbaar dat families só lank vir die liggame van hul oorlede geliefdes moet wag. Die president moet dit as deel van sy ‘Thuma Mina’-veldtog doen wat dienslewering wil verhoog. Ons doen ʼn beroep op die president om sy belofte na te kom.”

Nkwanyana het gesê as die lykshuispersoneel nie doeltreffend hul werk verrig en lyke versorg nie, kan die publiek blootgestel word aan ernstige aansteeklike siektes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Hoeveel kickbacks is julle bereid om die despoot te betaal?

IK ·

Al gehoor van stakings in China?
Dalk is dit tyd vir oorname van SA?

SjN ·

Die LUR is bewus van die probleem aangesien hy self 2 outopsies gedoen het, kan hy nie dinge self uitsorteer nie, vervang die klomp stakers, daar is baie ander wat die werk kan en wil doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.