J. Arthur Brown appelleer teen vonnis

J. Arthur Brown. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

J. Arthur Brown. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Die voormalige Fidentia-baas J. Arthur Brown het by die konstitusionele hof aansoek gedoen om te appelleer teen sy 15 jaar vonnis vir bedrog, het The New Age Donderdag berig.

Brown voer in hofdokumente aan dat hy, indien hy in aanhouding bly, nie sal kan help om die fondse wat tydens sy ampstermyn verdwyn het, te verhaal nie.

“Die appèlhof ontneem die beleggers van hul regte om regverdig behandel te word en om in die regsproses oorweeg te word,” lui Brown se beëdigde verklaring. “Verder word die beleggers nou ontneem van hul reg op vergoeding as die beskuldigde hulle nie kan help in hul pogings teen die [Fidentia] kurators nie.”

Brown is gevonnis op twee aanklagte van bedrog wat verband hou met sy hantering van beleggings vir Teta, die opleidingsowerheid vir die vervoersektor, en die Mantadia Asset Trust Company tussen 2002 en 2006. Brown het aanvanklik tereg gestaan op 192 aanklagte.

Die appèlhof het Brown in Desember tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op elk van die aanklagte. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Hy is deur die appèlhof gevonnis nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) appèl aangeteken het teen die Wes-Kaapse hooggeregshof. Dié hof het Brown in Mei verlede jaar ʼn opgeskorte vonnis en ʼn boete van R75 000 opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Die skade is reeds deur hom gedoen, niemand sal dit kan regstel nie!

cjm ·

Ek vind die verhoging op appèl van die vonnis verbasend. In die eerste instansie is dit ongewoon dat vonnisse verswaar word op appèl. In die tweede instansie is Veldhuizen (die verhoorregter) ‘n gesoute regsman/regter met baie jare se ondervinding. Ek vind dit ongelooflik dat sy oordeel so geringgeskat kan word,

Ek praat nie goed wat Brown se skema aan mense gedoen het nie, maar hoeveel daarvan is op die ou end bewys as synde sy aanspreeklikheid? Wat my ook opval in baie van hierdie skemas is die name van hoge finansiële instellings betrokke, wat dan soos maer katte skree as dinge verkeerd loop. Hoe op dees aarde hulle nie deur die skemas kan sien nie, vind ek onbegryplik. Hulle gee in elk geval voor dat hulle alleswetend is as Jan Alleman ‘n paar sent by hulle probeer leen (en hulle dit weier)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.