‘Jaagduiwel’ by rivier vervolg

Die Range Rover jaag tussen swemmers deur in ’n rivier. (Foto: Skermgreep uit video)

Die bestuurder van die Range Rover wat op Nuwejaarsdag tussen swemmers deur by ’n rivier in KwaZulu-Natal gejaag het, word nou strafregtelik vervolg.

Lt.kol. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die 31-jarige verdagte is kort ná die voorval by Pelican-eiland in die hawe van Richardsbaai in hegtenis geneem en het intussen in die plaaslike landdroshof verskyn.

Hy staan tereg op die gebruik van ’n voertuig in ’n kusgebied sonder toestemming en verskyn weer vroeg volgende maand in die beskuldigdebank.

Daar kan in beeldmateriaal op sosiale media gesien word hoe die silwerkleurige Range Rover onder luide gejil deur die water jaag terwyl twee insittendes hul koppe by die voertuig se sondak uitsteek. In nog ’n video kan daar gesien word hoe die voertuig eindelik in die water beland en vasval.

Gwala sê die polisie het Nuwejaarsdag ’n klagte ontvang oor dié video’s op sosiale media. ’n Ondersoek is van stapel gestuur en meer inligting rakende die bestuurder is ingewin.

Die verdagte is eindelik op 4 Januarie na die Richardsbaai-polisiestasie geneem waar hy in hegtenis geneem en aangekla is.

Die man verskyn weer op 10 Februarie in die hof.

Maroela Media het ’n navraag aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur om meer inligting rakende die verdagte te bekom en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

nou wat van poging tot moord siende hy daar gejaag het tussen mense? hul lewens was in gevaar.

Sean

Waar is roekelose en nalalige bestuur asook poging tot moord vir sy passasiers asook mense in die water??

Pablo

Duur motor maar geen breins. Lekker ou Richardsbaai. Die motor wou seker n bietjie gaan afkoel. He he hee eee

Twallie

Ja nee. As die alkohol vloei…..

Mariana

Ongelooflik hoe hy ander se lewens in gevaar stel. Hy was seker gesuip of iets, want normale mense doen nie sulke goed. Hoop hy word goed gestraf.