Jaagduiwels op N12 vasgetrek

Argieffoto

Vier motoriste wat betrap is dat hulle vinniger as 160 km/h ry, is die afgelope naweek op die N12 in Alberton in hegtenis geneem.

Lt. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), het in ʼn verklaring gesê die eerste spoedvraat is Saterdag omstreeks 07:15 vasgetrek toe hy teen 171 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery het. Die 22-jarige bestuurder en sy twee passasiers in die VW Golf het beweer hulle moes vinnig ry omdat een van hulle se ma siek is en hulle by haar in Edenvale moes uitkom.

Later daardie oggend is ʼn 34-jarige man in ʼn Mercedes Benz vasgetrek toe hy 165 km/h gery het.

Mokheseng het gesê ʼn derde motoris in ʼn swart BMW is omstreeks 07:15 vanoggend in hegtenis geneem. “Die 28-jarige man, wat onder die invloed van alkohol was, en sy vroulike passasier het 189 km/h gery. Die paartjie het beweer hulle was op pad terug van ʼn funksie en was haastig om by die huis te kom om te slaap,” het Mokheseng gesê.

Nog ʼn motoris, ʼn 21-jarige man, is om 10:25 in hegtenis geneem nadat hy 163 km/h in sy Ford Fiesta gery het. Hy het gesê hy is op pad na ʼn afspraak in Fourways.

Al vier motoriste is aangekla van roekelose en nalatige bestuur en sal binnekort in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

Mokheseng het gesê daar is dié naweek ook 91 verkeersboetes op dieselfde plek uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kan verstaan ·

Was dit ‘n Kuga kan ek verstaan dat hy tuis wou kom vóór dit aan die brand slaan. Ek reken die verkeersmanne sou dit ook so insien.

Hennie ·

Daar sal altyd mense wees wat jaag, om die spoedgrens af te bring na 100 km/uur sal geen effek he nie. Die regte ding is wat hier gebeur het, om hulle voor te le en te vang.

Rupert Ashford ·

Ja Hennie die wette is daar. Dit moet net toegepas word. Maar hulle moet ook strenger wees. Eerste oortreding swaar boete/tronk. Tweede keer kar geskut vir 30 dae/lisensie opskort. Derde keer kar en lisensie permanent kwyt. Dis ‘n slagting daar buite.

Basson ·

Wie se hulle (behalwe die persoon onder die invloed) het roekeloos en nalatig bestuur het?
Baie bestuurders wie < 120 ry is 'n veel groter gevaar op die pad, veral sommige van die dubbelkajuit bakkie bestuurders! (Van 'n sekere handelsmerk!)

Inteendeel – dis 'maklike geld' om te vang vir spoed.

William ·

165 Km/h is nie vinnig nie. Meeste motors doen baie meer as dit en vinnig ook.
Dit is nie net spoed nie, maar onbekwame bestuurders wat ongelukke veroorsaak. Op Autobahn in Duitsland word jy beboet as jy te STADIG ry.

Spoedgrens is in my opinie ver te laag.
Probleem is te veel trokke op die pad, asook los klippe en padwerke wat nooit ophou nie.
Hoekom ry mens n’ Duitse motor wat 300km/h kan ry, en word beperk to 120?.
Ry liewers dan ou VW Beetle as jy dan binne perke wil bly.
Ja dit is die spoedgrens maar wat se wette word eitlik gehoorsaam in SA deur die mense wat kastig die wette afdwing?.
Daar is nie een persoon wat so vinnige motor koop , en wat hom NIE nou en dan ‘oopmaak’ om die krag te voel nie.

Anoniem ·

Eerstens, Baie geluk met jou duur Duitse motor.
Ek weet nie of jou motor uitgekom het met ruite wat so getint is dat jy nie die wereld om jou kan sien nie, weet jy dan nie dat die Meeste, by ver die Meeste mense in Suid-Afrika finansieel sukkel nie? Ek kan jou waarborg dat motor onderhoud vir meeste mense die laagste prioriteit is. Ek voel die spoed limiet is reg soos hy is en ons almal moet maar die reels gehoorsaam

t ·

@ William – Jy is een van duisende mense wat daagliks die paaie gebruik. Ongeag of jou motor 30 of 300 km/h kan ry; JY IS NIE ALLEEN OP DIE PAD NIE! Daar is nooit ‘n tyd op enige van ons snelweë wat jy regtig kan waarborg jy is alleen nie. Dis hoekom daar reëls is. Wanneer almal hou by die reëls gebeur daar nie slegte dinge nie. As jy wil jaag, gaan na ‘n renbaan toe, betaal ‘n fooi en gaan jaag na hartelus om die baan. Selfs 300km/h as jy wil.
Gaan Google die verskil tussen lae- en hoëspoed ongelukke, dan praat jy weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.