Jaagtog lei tot dood van drie metropolisielede

Drie lede van die Tshwane-metropolisie het op die toneel gesterf. (Foto: TMPD)

Drie lede van die Tshwane-metropolisie (TMPD) is dood toe ʼn vermeende dronkbestuurder Sondag in die vroeë oggendure reg van voor teen hulle vasgery het.

Die metropolisie sê ander beamptes het gesien hoe ʼn motoris omstreeks 02:00 roekeloos teen die aankomende verkeer in die Pretoriase middestad inry.

“Die beamptes het die motoris, wat in ʼn westelike rigting gery het, probeer voorkeer, maar die voertuig het weggejaag en die beamptes het dit agternagesit.”

Die beamptes het bystand van hul kollegas ontbied en nóg ʼn voertuig van die metropolisie in dieselfde omgewing het by die jaagtog aangesluit.

Dié voertuig het op die N4 tussen Transoranjeweg en Rebeccastraat in die weste van Pretoria reg van voor teen die voertuig wat weggejaag het, vasgery.

(Foto: TMPD)

“Die drie beamptes in die voertuig is almal op die toneel dood. Die name van die drie mans sal bekend gemaak word sodra hul gesinne in kennis gestel is,” het die TMPD in ʼn verklaring gesê.”

ʼn Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.

Verskeie drankbottels, sommige leeg en sommige daarvan vol, is in die motoris se voertuig gevind.

Die motoris wat aanvanklik weggejaag het, het ook op die toneel gesterf. ʼn Vrou wat saam met hom in die motor was, is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Die metropolisie het gesê hy is uiters geskok deur die dood van die drie lede en het sy diepste medelye met die beamptes se families en kollegas betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SwartBees ·

Dis die tiepe houding wat drankwinkels en kroeë weer kan sluit.

twaalfboor ·

Af vingertjie….. wat is JOU opinie dat jy nie saamstem nie? Of praat jy dronkbestuur goed?

Trotse Boervrou ·

Hierdie is verskriklik hartseer. Soveel simpatie aan die metropolisie wat hul lewens verloor het se familie. Dit was werklik so onnodig.

Ek wil aandring daarop dat dronkbestuurders lewenslank tronk toe moet gaan. Indien ‘n dronkbestuurder nie iemand se dood vandag veroorsaak nie, gaan hy dit nog in die toekoms veroorsaak. Dronkbestuur moet Zero Tolerance wees. Wanneer iemand begin drink is hy nugter. M.a.w. hy het presies geweet waarmee hy besig is toe hy begin drink het. Hy het die keuse gemaak om drank te misbruik! Daar moet streng wette daaroor wees. Dieselfde moet geld wanneer daar gesinsgeweld is as gevolg van drank. Hierdie groepie drankmisbruikers moet uit ons samelewing verwyder word. Hulle is die oorsaak dat die hele drankbedryf op sy knieë is. Tyd geword dat die publiek sulke suiplappe rapporteer voordat dit jou of my familie, of ons is, wat hulle of ons lewens verloor. Nou moet die industrie en ons egter onder die groep suiplappe se keuses ly. Nee wat, genoeg is genoeg.

C-Monster ·

Die wette is daar. Dis die toepassing wat kort.
Die gemors polisie vind dit net soveel makliker om agter spoed kameras weg te kruip, en omkoopgeld te eis. Of sagte teikens onnodig af te trek en te intimideer.

Remlut ·

Dronk mense moet baie omsigtig benader word, veral waar metro lede betrokke is.

Persheks Adri ·

Innige simpatie aan die families en sterkte vir julle in die moeilike tyd!

So onnodig dat mense sterf vir dronk mense! Geweet die lig van die verbod op drank gaan net moeilik bring en ja kruisig my oor dit, maar dis die waarheid!

Dink aan die mense wat hul werk kan verloor as die mense so onverantwoordelik is genade man ons baklei die hele tyd vir magsmisbruik! Nee, ek drink nie eers nie vir die wat wou weet

Pieter ·

Indien jy dronkbestuur en iemand dood ry of beseer moet die aanklag moord of poging tot moord wees. Jy weet mos die gevolge as jy drink en bestuur. Drink en bly by die huis.

Regstelsel is pateties, maar ja, selfs regters bestuur dronk en ry deur mure. Dit gaan hulle nie pas nie.

Is die aandklokreël nog van krag?

Chris ·

Die anti – drank brigade sal nou opspring en vinger wys. Noodlottige gevalle van dronkbestuur maak ongeveer 20% van ongelukke uit. Daar is meer mense wat in ongeslukke sterf wat moeg is, onbevoeg is, selfoon kletsers, onwettige bestuurslisensies, roekelose bestuur en nalatigheid. Daar is ook mense in die samelewing wat voertuie koop wat hulle nie weet hoe om te bestuur nie. Jong mense wat blitsige motors ry. Straat resiese jaag in die middernagtelike ure. Trok bestuurders wat lisensie koop. Ek kan aangaan met die lys. Die probleem is die kultuur van wetteloosheid vier hoogty.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.