Jaar ná Driehoek-tragedie: ‘Ek kry steeds terugflitse’

Cheverné Duvenage ‘n jaar na die tragedie.

Dit is vandag (Saterdag) presies ’n jaar sedert ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineengestort het en die lewens van vier leerders geëis het.

Dié tragedie het die oggend van 1 Februarie talle Suid-Afrikaners geruk, toe hulle hoor dat ’n loopvlak tussen een skoolgebou en ʼn ander kort ná 08:00 ineengestort het.

Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel het in die voorval gesterf en 29 ander leerders is beseer. Cheverné Duvenhage, toe graad 8, was een van die leerders wat ernstig in die voorval beseer was.

Cheverné (14) het onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar derm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen.

(Foto: Netcare911)

Vandag vertel Cheverné aan Maroela Media dat die mees geringe geluid soos ’n boek wat in die klas val, haar tot vandag toe terugneem na dáárdie dag.

“Ek probeer om nie aan daardie dag te dink nie, maar ek kry nog terugflitse. Dit is darem nie so erg soos die terugflitse wat ek destyds in die hospitaal gekry het nie. Toe kon ek soms die swaar brug op my voel. Nou sien ek partykeer myself onder die brug lê, maar ek is darem nie weer terug daar nie en voel nie meer die pyn wat ek gevoel het nie. Ek het geleer om anders daaraan te dink.”

Cheverné het verlede jaar in die derde kwartaal teruggekeer skool toe nadat sy maande lank in die hospitaal behandel is en toe daarna tuis moes aansterk. Hier het ’n vriendin haar elke middag besoek om haar te help opvang met skoolwerk. Ná harde werk kon Cheverné daarin slaag om haar skooljaar te voltooi.

Die toneel nadat die loopbrug by Hoërskool Driehoek ‘n jaar gelede ineengestort het.

Op die vraag oor hoe moeilik dit is om ná die tragedie op die skoolstoep te loop, antwoord Cheverné: “Ek het altyd gedink as ek nié in Driehoek is nie, sal ek dit nie oorleef nie. Ek het altyd gedink dit is die skool waar ek hoort.” Aan die begin van hierdie jaar het Cheverné egter begin wonder of sy nie tóg van skool moet verander nie. “Dit het darem beter geword en ek voel nog steeds dat dit my huis en familie is. Ek sien dit nou as ’n uitdaging.”

Sy verduidelik dat hoewel sy steeds maagkrampe kry en haar voet seer word van te veel stap, sy deesdae gesonder as ooit voel. Sy sal later vanjaar nog ’n operasie ondergaan en werk hard daaraan om so gesond as moontlik te lewe. Dit sluit draf en gesond eet in. “God laat my aangaan. As dit nie vir Hom was nie, sou ek nie hier wees nie. Ek word gereeld daaraan herinner dat ek ’n wonderwerk is,” sê Cheverné.

Nicola Senekal, Cheverné se ma, sê aan Maroela Media sy twyfel of enige kind ooit weer dieselfde sal wees nadat ’n tragedie van dié aard hulle oorgekom het. “Daar is definitief dinge wat verander. Sy het nog altyd ’n baie sterk persoonlikheid gehad, maar dis asof dit nou nóg sterker is, asof sy die lewe meer voluit wil geniet.”

Gedenkdiens

Die emosies het hoog geloop toe die Hoërskool Driehoek Vrydagoggend ’n gedenkdiens en kranslegging gehou het ter nagedagtenis aan die leerders wat in die voorval omgekom het. ’n Spesiale beeld is gedurende die oggend ingehuldig.

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

“Dit was nie ’n lekker dag gewees nie. Dit was baie emosioneel. Die hele week was eintlik baie emosioneel. Dit raak met tyd beter, maar dit bly altyd daar,” vertel Cheverné.

Volgens Cheverné staan die leerders wat in die voorval beseer is mekaar by. “Die wat seergekry het, gesels onder mekaar. Ons verstaan mekaar se pyn op ’n manier. Ons het almal daardie trauma beleef wat die ander nie het nie. Ons is ’n eenheid.”

Ricardo Erasmus, skoolhoof, sê dit gaan onder die omstandighede goed met die leerders.

“Daar is hoop vir die kinders. Ons het gesê ons wil aangaan en ons gaan aan, maar die hartseer sal altyd daar wees. Ek dink die belangrikste is om te sien dat mense ’n jaar later steeds bid. Daar is steeds mense wat vir ons omgee en bid en ons is dankbaar daarvoor,” sê Erasmus.

Lees alle berigte oor Hoërskool Driehoek die afgelope jaar op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

007 ·

Wat het met Maasdorp gebeur nadat hy gesê het wat hy gesê het oor die blanke kinders se lot?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.