Jaar na gru-ongeluk kry Affies-seun matriek

Lian Taljaard

Net minder as ʼn jaar nadat Lian Taljaard (19) in ʼn gru-ongeluk was en dokters min gehoop gehad het dat hy sou oorleef, het hy matriek met ʼn gemiddeld van 70% geslaag en verstom hy met sy deursettingsvermoë en ingesteldheid.

“Ek haal my hoed vir my kind af en die fantastiese resultate wat hy bereik het. Ons is baie trots en dankbaar,” sê Lian se ma, Cornel.

Net minder as ʼn jaar gelede het Lian se ouers langs sy bed in die Life Groenkloof-hospitaal gestaan waar hy in ʼn geïnduseerde koma was en hulle nie geweet het of hul seun gaan oorleef nie. Dit is egter ook hier waar hulle wonderwerk op wonderwerk beleef het.

“ʼn Jaar terug was hy amper dood, so ons het glad nie verwag hy moet sy matriek so vinnig klaarmaak nie. Hy het egter net gesê hy wil dit doen.” Lian wil volgende jaar BCom(Rek) gaan studeer.

Lian en ʼn vriend, Shaun Goedhals, was op 23 September van Bela-Bela na Pretoria op pad toe die ongeluk gebeur het. Hulle het saam met Lian se gesin die langnaweek op hul familieplaas buite die dorp deurgebring. Albei seuns was ten tyde van die ongeluk matriekleerders aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria.

Lian het uit die motor geval nadat dit gerol het. Lian, wat bestuur het, het glo uitgeswaai vir ʼn motor wat in die pad gestaan het toe hul motor gerol het. Sy gesig was vergruis, hy het bloeding op die brein gehad, sy bokaak en skedel was gekraak, hy het ʼn groot wond in sy kuit gehad en sy oor was afgeskeur.

Lian kan niks van die ongeluk onthou nie. “Ek kan ook omtrent niks van my tyd in die hospitaal onthou nie. Ek kry gelukkig nie terugflitse of goed wat my pla nie en ek was nie bang om weer in ʼn motor te klim nie. Ek onthou niks van die pyn of hoe ek gelyk het na die ongeluk nie.”

Die enigste tekens van die ongeluk en die ernstige beserings wat hy opgedoen het, is ʼn paar letsels en sy linkeroor wat geamputeer is. Ná ʼn maand in die hospitaal is Lian ontslaan.

Lian het intussen vir skanderings gegaan waar daar ʼn digitale beeld van sy skedel gemaak is. Daar word dan ʼn spieëlbeeld gemaak om te bepaal watter prosteses in sy gesig ingeplant moet word sodat albei kante van sy gesig weer dieselfde lyk.

Oor ses weke sal Lian vir die prosedures gaan om sy gesig weer op te bou. Daar is ook reeds vasgestel dat sy oor weer opgebou kan word en dit sal na verwagting volgende jaar gebeur.

Lian kan ondanks die verlies van sy linkeroor steeds normaal hoor, hoewel hy nie kan bepaal waar die klank vandaan kom nie. Sy spraak is ook weer heeltemal normaal en sy sig is ook amper weer ten volle herstel. “My korttermyngeheue is bietjie vrot, so kan ek nie so lekker onthou nie.”

Lian sal weens sy beserings nooit weer aan kontaksport kan deelneem nie, maar hou hom in die gimnasium besig en draf nou en dan.

Lian vertel hy het ʼn ruk gelede die paramedikus ontmoet wat hom op die ongelukstoneel behandel het. Hy en sy gesin was op pad plaas toe, toe hulle op ʼn ongelukstoneel afgekom en stilgehou het om te kyk of hulle van hulp kan wees. “So ek het hom toe ontmoet en met hom gesels.”

Lian se pa, Leon, is absoluut verstom oor die mediese tegnologie in Suid-Afrika. “Die dokters waarmee ons te doen gehad het, is wêreldklas.”

Cornel het weereens haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat hulle in dié moeilike tyd bygestaan het. “Ons is so dankbaar vir almal se hulp en gebede. Mens weet nooit hoe anders dit kon uitdraai nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wielspore ·

Well done, met so ‘n gesindheid gaan jy suksesvol in die lewe wees.

EB ·

Hulle was in ‘n enkel voertuig ongeluk (het uitgeswaai vir ‘n ander stilstaande voertuig) en die passasier het oorleef.

Al ·

Baie geluk! En dankie vir die Here se genade dat hy gespaar is.

CHAPPIES ·

So dankbaar saam met julle en dankbaar vir Vader se Groot Genade,dis wonderlik!
STERKTE vir die mediese prosedures wat nog moet volg en vir die toekoms,Lian!

Arno Scheepers ·

Baie sterkte aan Lian en die res van sy gesin.
Bly vertrou op God en HY sal jou genesing wees. Daar is harde werk, maar met jou familie se ondersteuning en God langs jou……wie kan jou keer?
Ons hou jou vordering dop en dra jou in ons gebede.

lh ·

Jy is PRAGTIG Lian! En jy is hier met ‘n rede. . .
Sterkte op jou pad vorentoe en mag AL jou drome waar word!

Suzette Geringer ·

Goed gedoen Lian!! Jou deursettingsvermoë is ‘n inspirasie. Mooiste wense vir ‘n pragtige toekoms.

Piesang ·

JY IS KWALITEIT JONGMAN EN DIE HERE HET ‘N GROOT PLAN MET JOU!

Liza ·

Well done…..trots op jou…….Mag jou toekoms vorentoe net geseend wees…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.