Jaar ná Lily-mynramp: ‘Ons doen alles wat ons kan’

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

Die Lily-myn. Foto: Verskaf.

ʼn Volle jaar nadat ʼn skeepshouer met drie mynwerkers daarin in ʼn reuse-sinkgat verdwyn het toe ʼn gedeelte van die Lily-myn naby Barberton, Mpumalanga, ineengestort het, is die opsporing van die skeepshouer steeds ʼn prioriteit, het die minister van minerale hulpbronne Sondag gesê.

Vandag is dit presies een jaar sedert die Lily-mynramp toe die ingang na die myn op 5 Februarie 2016 ineengestort het. ʼn Skeepshouer wat as ʼn lampkamer gebruik is, het tydens die ineenstorting onder reuse-klippe en grond beland. Die drie mynwerkers, Pretty Nkambule, Solomon Nyerende en Yvonne Mnisi, wat ten tyde van die tragedie in die skeepshouer was, is sedertdien nog nie gevind nie.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het gesê die departement het die afgelope jaar onverpoosd gewerk om te verseker dat die skeepshouer gevind en na die oppervlak gebring word. Talle probleme, onder meer die verdere verswakking en ineenstorting van die grondwande rondom die area, het reddingspogings onmoontlik gemaak en dit is opgeskort om die verdere verlies van lewens te voorkom. Altesaam 76 mynwerkers is uit die myn gered voordat reddingspogings gestaak is.

Intussen is ʼn inter-ministeriële komitee aangestel om die families en die werknemers wat deur voorval geaffekteer is by te staan. Volgens Zwane bly die hoofprioriteit egter om die skeepshouer te vind sodat die drie werkers se families afsluiting kan kry.

“Ons het volle begrip vir die families en die algemene publiek se frustrasie oor die lang tydperk wat dit neem om die proses af te handel, maar ons wil Suid-Afrika verseker dat ons alles in ons vermoë doen om die saak op te los,” het Zwane gesê.

'n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting op 5 Februarie 2016 van Vantage Goldfields se Lily-myn. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die departement het reeds sy ondersoek na die voorval afgehandel en dit is omgeskakel na ʼn ondersoek in terme van die Wet op Myngesondheid en Veiligheid, wat binne die volgende paar dae sal begin. Mynbedrywighede kan nie hervat word nie totdat hierdie ondersoek afgehandel is.

“Indien daar bevind word dat daar roekeloosheid of nalatigheid was wat tot hierdie ongeluk gelei het, sal die reg sy verloop neem. Die departement is ook in gesprek met die Nasionale Vervolgingsowerheid (NVG) om moontlik die vermoë te versterk om persone wat nalatig is in die uitvoer van hul pligte, te vervolg,” het Zwane gesê.

“Die gesondheid en veiligheid van werkers is noodsaaklik vir langtermyn volhoubaarheid in die mynbedryf. Ons doen weer eens ʼn beroep op alle rolspelers in die bedryf om dit ʼn prioriteit te maak. Werkers se lewens moet nie as goedkoop geag word nie.”

Vantage Goldfields en sy sakereddingspraktisyn is steeds aanspreeklik vir die betaling van R200 000 aan die families van Mnisi, Nkambule en Nyerende, asook R50 000 aan elk van die werkers wat gered is.

“Ons verseker weer eens die families, werkers en die publiek dat hierdie kwessie die aandag sal kry wat dit verdien,” het Zwane gesê.

Lees alle vorige berigte oor die Lily-myn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christo Bester ·

Die regering het geen benul en prioriteit ten opsigte van tydperke nie. Daar kon verseker meer gebeur het binne die jaar wat verby is.

Johannes van Staden ·

N hele jaar 365 dae …en niks verder nie …hoe kan dit nog n prioriteit wees …die grond gaan nie skielik nou stabiel raak nie …se eerder ons weet nie wat om nou verder te doen of se dit reguit dat die kostes te hoog gaan wees …julle dink mense is onnosel terwyl julle useless is en van een tee en koek na die volgende gaan …geen wonder soos iemand terreg gese het julle is almal byna oorgewig

Jaco ·

Gelukkig is daar in Afrika altyd nog n dag dalk jaar dalk dekade maar in die geval eeu

Neilia ·

Mense wat nie op n myn gewerk het en nie weet wat daar aangaan moet liefs stil bly. As jy kyk hoe diep daai sink gat is sal jy verstaan dat niemand dit kon voorspel . Dis soos as dit reën en ek voorspel n modder storting. Jy kan eenvoudig nie .. dis nie net die wat gered is en die wat oorlede is wat geafekteer is nie . Hoeveel mense dink julle werk op n myn ? 100 ? Nee daar is duisende . So hulle het almal verliese gehad . Party was te oud om weer oor te begin . Myne vat nie sommer ouer mense oor dit te hoë risiko is. Die company moet daai mense uitbetaal kry en over en dan. Hulle ga nou karring tot niemand niks meer oor het .. ?

Paul ·

Daar het nie duisende mense in daardie myn gewerk nie. Dit was ‘n klein myn, glad nie op die skaal van ‘n plek soos Driefontein of Mponeng nie.

Die berig behoort ook nie sommer so te sê dat die mynmaatskappy aanspreeklik is vir R200 000 aan die families van die drie oorledenes, en R50 000 aan elkeen van die werkers wat gered is nie. Daar is geen so plig op hulle nie – dit was sommer net iets wat Zwane gesê het om goed te probeer klink. Hy het geen mag om so iets af te dwing nie en geen reg om beloftes namens enige maatskappy te maak nie.

Helene ·

Ons beleef n erge water krisis in die land en in die Wes Kaap is dit baie erg. Gaan na bl. 5 van Die Burger van vandag 6 Februarie 2017 en dan sal mense sien wie dit is wat water mors. Almal wat hierdie water so mors is maar net n bewys as jy alles verniet kry weet jy niks van besparing nie. Ons hou julle dop en gaan julle aankla! “Mark my words”

Willem32 ·

Regering kon nie geld bestee vir die operasie nie want sy nuwe swembad moes eers gebou word

John ·

Kyk net hoe lyk dit daar. Chaos. Gevaarlik. Daar word beweer die mynbase wag net dat die families die pad vat, dan begin hulle maar weer. Hierdie bestuurstyl word regoor die wereld gevolg.

ex lily ·

na n jaar se lee beloftes en nog steeds niks net nog lee beloftes. daar is baie wat alles verloor het
en nog steeds verloor. di ex werkers moet begin praat daar wat alles aan gegaan het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.