Jaar ná Pta-pastoor se moord: ‘Dit raak net erger’

past. Elsabé van Niekerk. Foto: Verskaf

ʼn Jaar gelede is ʼn hegte gesin in twee geskeur met die wrede moord op ʼn geliefde pastoor van Pretoria.

Past. Elsabe van Niekerk (55) is op 11 April in haar broer se werkswinkel in Gezina in die Moot-omgewing vermoor. Haar skoonseun, Stefan Visser (29), is kort ná haar moord in hegtenis geneem. Sy is dood aan 31 steekwonde vermoedelik van ʼn “knuckle duster”-vuisystermes en is vier keer gesny. Visser se moordverhoor begin volgende week in die Pretoria-hooggeregshof en is vir twee weke geskeduleer.

ʼn Emosionele Dirk van Niekerk, Elsabe se man, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dinge raak net erger en nie beter nie. “My hart bly stukkend en ek weet nie meer hoe om aldag kop bo water te hou nie. Ek moet maar my emosies vir myself hou om sterk te probeer staan vir die kinders en kleinkinders. Ons bid net dat geregtigheid in die komende hofsaak sal geskied,” het Dirk gesê.

Elsabé sou Saterdag 56 jaar oud geword het. Die gesin het haar verjaardag gedenk deur haar graf in die Heatherdale-begraafplaas in Akasia te gaan besoek.

Die egpaar se dogter, Leandri (30), en Visser was besig om te skei ten tyde van Elsabe se moord. Leandri en Visser het twee kinders. Visser het tydens sy borgaansoek beweer sy skoonouers het in hul huwelik ingemeng en hom daarvan weerhou om sy twee kinders te sien nadat hulle met die egskeiding begin het.

Visser beweer hy het “geknak” toe Elsabe die dag van haar moord op hom gegil en hom gestamp het, waarna hy nie meer kan onthou wat gebeur het totdat hy later dieselfde dag by die huis van sy vriendin, met wie hy in verhouding is, se ouma in Rietondale in hegtenis geneem is nie.

Elsabé en Dirk van Niekerk. Foto: Verskaf

Die egskeiding is amptelik in Augustus bekragtig, op dieselfde dag waarop Visser se verhoordatum vasgestel is. Hy is sedert sy inhegtenisneming in aanhouding in die Kgosi Mampuru II-gevangenis nadat sy borgtogaansoek in Junie van die hand gewys is.

Elsabe was ʼn gospelsanger, pastoor en omroeper by Rainbow Gospel Radio, ʼn Christelike radiostasie.

Leandri sal haar ma altyd onthou as die “gesin se hart”. “Ons harte voel al die emosies en vrae op een slag, maar liewe Jesus sal eendag vir ons sê hoekom sy so gou moes gaan. Haar liefde het ons sterk en bymekaar gehou. Sy was die persoon met die mooiste hart en het altyd net die mooi in almal gesien,” sê Leandri in ʼn huldeblyk aan haar ma.

“Ek mis haar drukkies, soentjies en stem soos wat sy geloop en sing het as sy besig was met iets. Die kinders verlang so baie en wil net weet wanneer ons hemel toe kan gaan om net vir hul Ouma Baby hallo te sê. Ek hoop ek kan eendag net die helfte die vrou wees wat my ma was. Ek was so bevoorreg om haar as my ma te kon hê en kon nie vir ʼn beter ma vra nie.”

Dirk het sy vrou, met wie hy 36 jaar getroud was, Meisiekind genoem. “Ek het vir Jesus gebid en gevra dat Hy vir my ʼn vrou sal stuur. ʼn Vrou sag van geaardheid, met ʼn sprankelende persoonlikheid en met die mooiste lang swart hare en blou oë. Dit is presies wat ek gekry het. Al die jare het sy by my gestaan deur dik en dun, maak nie saak hoe moeilik dit gegaan het nie, sy was altyd daar vir my en haar familie. Geestelik was jy sy gom wat ons familie bymekaar gehou het,” beskryf Dirk haar.

Die Van Niekerk-egpaar se seun, Ben, het op 15 Maart 21 jaar oud geword. Vir hom was sy ma sy alles en het mense altyd geterg dat hy ʼn “mama’s boy” is. “Niks kan die leegheid beskryf wat ek sonder haar voel nie, maar ek weet hoe lief sy vir die Here was en sy is nou by Hom.”

Lees die vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

CHRISTA ·

Hoekom gebruik hy die egskeiding as ‘n ekskuus vir die moord as hy reeds in ‘n verhouding met ‘n ander vrou was?

AL ·

Dis hartseer, geen familie behoort deur so n trauma te gaan nie. Ek wens hierdie wêreld was genees van al die bose mense.

Nini ·

Hierdie engel van n vrou is my tannie. My tannie was n vrou duisend, sy het altyd vir vrede try hou as ons niggies en neefies onder mekaar baklei het. My tannie het n hart van goud gehad, n voorbeeld vir ons almal. Was te gou weg geskeur, maar weet verseker my tannie rus sag in God se arms. Love you forever our angel

Tyd ·

Dink aan die kinders en hul mammas Wat aleen die kinders moet groot maak
Hy moes gedink het
Daar is maniere om sitsusies te hanteer

E ·

Dit is tragies wat gebeur het. Ek glo dat daar baie minder sulke voorvalle sal wees as mense mekaar in ag neem en elkeen hul kant van ń betrokke saak kan stel. My blou is nie noodwendig ń ander se blou nie. Leef en laat leef.

E.K. ·

Ai mense, moenie mekaar aanvat niee. Hierdie is alreeds so hartseer so moet asb nou nie dinge van mekaar of oor mekaar sê nie. Ons land is in so hartseer toestand soos dit is – laat die gereg sy beloop neem en laat ons hierdie familie sterkte, aanvaarding en vrede toebid. Dis al hoe hul oor dit sal kom as hul probeer (hoe moeilik ookal) aanvaarding kry. Ons almal sal eendag voor ‘n Regter staan, moenie dat ons gedagtes, woorde en dade oor mekaar en teenoor mekaar gaan maak dat ons met hangkoppe daar moet staan nie.

Ai tog EK ·

Nog ‘n pastoor!~! Gee almal asb die geleentheid om hulle menings te lug.

E.K. ·

Ai tog EK – wat ek geskryf het is ookop jou van toepassing. Persoonlike aanvalle/om my name te noem is soos water op ‘n eend se rug. Sela

Liza ·

Daar sal ‘n baie goeie rede wees hoekom sy skoonma kamstig ingemeng het…..Sy het gesien wat aangaan, en het haar doger en kleinkinders net beskerm glo my…. my kinders en kleinkinders sal ek baklei tot die einde……. net jammer sy mos boet daarvoor…..lafhartige skoonseun is hy….. en Christa ek stem saam met wat jy se……..ek oordeel nie maar hy sal sy dag kry eendag….. die Bybel se jy mag nie moord pleeg nie…en dis een van die 10 gebooie….
Sterkte aan die familie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.