Jaar ná raaiselmoord: ‘Ons is dit aan haar verskuldig’

Natasha Mans (Foto: Verskaf aan Maroela Media)

Natasha Mans se liggaam is gister presies ʼn jaar gelede in ʼn erf in Groenvlei buite Bloemfontein gevind ná sy sowat twee weke vermis was.

“Ek glo ons is op die regte pad en ons gáán Natasha se saak oplos,” het Leon Rossouw, ʼn private ondersoeker wat aangestel is om met die saak te help, Vrydag gesê. “Ons is dit aan Natasha verskuldig – sy verdien dit nie dat haar lêer net in ʼn kabinet beland nie. Ons sal aanhou tot ons die skuldige(s) vastrek.”

Mans se liggaam is op 13 Junie in Dennis Casten, haar vriend met wie sy ’n huis gedeel het, se erf in Groenvlei buite Bloemfontein gevind. Casten het haar liggaam onder ’n boom gevind nadat hy haar op 31 Mei as vermis aangemeld het.

Sy het ’n skietwond in haar bors gehad en ’n rewolwer, wat waarskynlik nie die moordwapen is nie, is langs haar lyk gevind. Die polisie het vroeër gesê hulle vermoed haar lyk is eers in ’n vrieskas gehou voordat dit onder die boom gelos is.

Volgens Rossouw fokus die ondersoek na Mans se moord nou op selfoontegnologie. “Jy kan met baie goed peuter wanneer dit kom by misdaad, maar nie met selfoontegnologie nie – dit vertel ʼn storie.

“Ons probeer nou iets doen wat nog met baie min sake gedoen is. Ons kyk nou na die ongeveer tien selfoontorings in die omgewing en die nagenoeg agt plekke waar kringtelevisiekameras is. Wanneer jy die goed kombineer, skep dit ʼn prentjie van ʼn voertuig wat êrens gery het, nommers waarvan en waarna gebel is, asook mense wat in en uit ʼn gebied beweeg het.”

Mans het op 31 Mei, die dag van haar verdwyning, met haar silwer Audi verskeie kere van die huis af gery en teruggekeer. Sy het die laaste keer op pad huis toe by ʼn vulstasie lugtyd gekoop.

Natasha Mans die oggend toe sy lugtyd gekoop het. Foto: Verskaf

Rossouw het gesê Mans is om 09:08 die laaste keer lewend gesien op kringtelevisiebeeldmateriaal waar sy in haar motor gery het en sowat 200 m weg van die huis af was. Die huis is in ʼn doodloopstraat, so Mans moes huis toe gery het.

Dit vat egter tyd om die inligting te bekom, maar, voeg Rossouw by, dit is noodsaaklik om alles wettig te bekom sodat dit as bewyse in ʼn hof kan dien. Ons het sekere aktiwiteite geïdentifiseer rakende wat moontlik gebeur het en wat ons nou opvolg. Ons moet net van alles sin maak en dit reg ontsyfer sodat dit die storie van wat gebeur het, kan vertel.”

Nadat Mans verdwyn het, was daar aanvanklik talle bewerings soos dat sy moontlik selfdood gepleeg het. Mans se dogter, Noeline Koekemoer, is in April 2015 in haar ouerhuis in Bloemfontein wreed verkrag en vermoor. Moses Maoka (37) is in Desember 2015 twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord en verkragting van Noeline. Mans het destyds op Noeline se liggaam afgekom.

“Ek ondersoek glad nie selfdood nie. Ek ondersoek moord – dit is my fokuspunt. Niks of niemand gaan my anders oortuig nie.”

AO Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het gesê daar is geen nuwe verwikkelinge in die saak nie en dat die ondersoek voortduur.

Enigiemand met inligting word gevra om Rossouw by 079 240 3491 te bel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Diefie ·

Ek glo julle sal die moordenaar nog hierdie jaar kry. Wens julle alle sukses toe.

Cherokee ·

Gie-util het geploeg selfs voor jy jkom jy kon priotieer

tarien ·

wat doen die 2 mans so naby aan haar terwyl sy lugtyd koop dit is nie hoe n tou lyk terwyl jy iets koop in n winkel nie, vreemde mense sal ek nie toelaat so naby aan my as ek besig is om in my handsak te werk en met geld werk nie

Botterblom ·

Soms is die antwoord nie te ver nie…. Dit is net die bewyse wat soos n puzzle tyd vat om te bou… Glo n paar senuwees knaag bietjie… Ek wens vir n wonderwerk wat die doodstraf genoem word….

Sarel ·

Nou al jaar en dit is jaar te lank. Dink aan familie wat nie afsluiting kan kry nie. Hoop dit raak nie een van die onopgeloste sake soos op Stellenbosch word nie.

Delia ·

Ek wonder of haar dogter se moordenaar nog in die tronk is.
Sy het seker getuig in sy saak.

HM ·

Daardie arme vrou was deur ongelooflike hartseer. Ek persoonlik glo dat sy vermoor is. En die een wat aandadig was sal nie wegkom nie. Nooit nie. Hoop saak word vinnig opgelos. Sterkte

Linda ·

Die hele land sal bly wees as hierdie moord opgelos kan word. Ons wil nie moordenaars daar buite he, wat elke dag rondloop nie !

TLC ·

Daar is lande waar hul nie tipe saak binne 48 ure oplos
Maar nou ja dit is in ander lande
Mag jy en jou kind nou sag rus in ons Vader se arms
Amen

Jammer om te vra ·

Wie woon nou saam met Carstens in die huis en hoe lank na Natasha se dood het dit gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.