Jaar ná Stella-moorde: ‘Dit raak nie beter’

Sharnelle Hough (Foto: Verskaf)

Oor presies ʼn week sal dit ʼn jaar wees sedert die skoknuus die land getref het – twee tienermeisies se liggame is in die koshuis by Hoërskool Stella in Noordwes aangetref.

Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) – boesemvriendinne tot die dood.

“Nee, dit raak nie beter nie,” sê Ronnie Hough, Sharnelle se pa. “Mens probeer maar aangaan, maar as die son sak, raak dit weer moeilik. Ek dink nie dit sal ooit beter raak nie.”

Hough was vandeesweek weer in die hooggeregshof in Mmabatho waar Xander Bylsma (20) op aanklag van moord op Sharnelle en Marna verskyn het. Bylsma ontken skuld.

Die verhoor is egter uitgestel nadat Bylsma se tweede regspan ook aan die saak onttrek het weens ʼn vertrouensbreuk.

Hough moes maar weer in die pad val terug Geysdorp toe sonder enige antwoorde op die talle vrae wat deur sy kop maal. Maar hy sal weer terug wees op 29 Julie wanneer die saak hervat, al is van die getuienis hóé moeilik om te hoor. “Ek wil weet wat aangaan, ek wil al die feite kry. Mens hoor so baie stories… Ek het nie belanggestel om die polisieverklarings en goed te lees nie. Ek het gesê ek sal die ware feite in die hof gaan hoor.”

Xander Bylsma in die hof. Foto: Mariné Lourens

Die hofverrigtinge is nie net emosioneel uitputtend nie, maar ook finansieel. Elke keer moet Hough ver ry om by die hof te wees en by die huis, waar hy as ʼn voerkraalbestuurder werk, staan die werk stil. “Dit kos ʼn klomp geld om so op en af te ry,” sê hy.

Sharnelle se ma, Sonja, woon op Koster en is ook meestal in die hof wanneer die saak aangehoor word. So ook Marna se ouers, Stefans en Rianet.

Hough onthou nog goed sy laaste gesprek met sy enigste kind. Dit was die aand van 25 Mei verlede jaar, ure voor Sharnelle en Marna se ontydige dood. “Ek het daardie aand met haar gepraat en sy en Marna het nog in die kamer gespeel. Sy was haar vrolike self. Ek moes haar selfs in ʼn stadium vra om vir Marna bietjie stil te maak, want ek kon nie hoor wat sy sê nie soos die twee lag.”

Die twee meisies sou die volgende oggend die skoolbus haal om sport op Koster te gaan kyk. Toe hulle nie opdaag om op die bus te klim nie, het hul koshuismoeder hulle gaan soek. Sharnelle se liggaam is aangetref waar dit aan ʼn nylontou aan die trapreling gehang het. Marna se liggaam is in die badkamer gevind met ʼn handsakband om haar nek.

“Toe ek daardie oggend nie vir Sharnelle op haar foon in die hande kry nie, het ek die koshuisvader gebel. Hy het gesê ek moet kom, daar is fout by die koshuis. Die kinders het selfmoord gepleeg,” vertel Hough.

Wat gaan deur ʼn ouer se gedagtes wanneer hulle so iets hoor? “Dit was soos ʼn skop in die tande… Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink dit kan nie waar wees nie.”

En toe nog ʼn groter skok – Sharnelle en Marna is vermoor. En die jong man wat in hegtenis geneem is, is niemand anders as Sharnelle se eks-kêrel nie.

Marna Engelbrecht (Foto: Verskaf)

Dit is duidelik dat Hough nie juis oor Bylsma wil praat nie. Ja, hy het hom geken. Bylsma was gereeld by die Hough-gesin aan huis. Nee, hy het nooit so iets van hom verwag nie. Bylsma was altyd ordentlik, altyd voorbeeldig. Daar was nooit enige rede tot kommer nie.

Bylsma het nou geleentheid om ʼn nuwe regspan aan te stel en met hulle te konsulteer voor die verhoor einde Julie weer sal hervat. Dit sal nog ʼn hele paar maande wees voor dié hoofstuk afgesluit kan word.

“Mens sal seker maar meer afsluiting kan kry as die saak verby is. Ek wil net weet wat gebeur het. Ek wil weet wat in sy kop aangegaan het. Maar die hartseer, dit sal nooit beter raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ronnie is absoluut reg….NIKS raak beter nie, jy leer maar net om daarmee saam te leef, want jy het eintlik geen ander opsie nie. Wat egter belangrik is, is om hulp te kry om jou te help om hierdie tipe verlies te verwerk…..want anders word dit naderhand alles oorheersend en later in jou lewe kan dit nie meer verander nie. Vra vir my, ek weet….Ek is bitter spyt dat ek nooit gaan hulp vra het nie en altyd geglo het ek sal dit “self hanteer”….Dit was ‘n fout. Sewe en Twintig jaar later…en NIKS het beter geword nie…ek het net al hoe meer mense van my af weggestoot…. Innige simpatie aan AL die ouer-pare wat hierdeur moet gaan, dit is nie maklik nie.

Jenny ·

Ek is so jammer om van jou hartseer te hpor. Soos ek hoerdie boodskap tik, het ek trane in my oè. Dis nooit te laat om hulp te kry nie. Al gaan jy net in “chat rooms” in op die internet? Probeer net, jy het niks om te verloor nie. xx

Helena. ·

Ja dis jammer dat dinge so uitgerek word. Mense wat vrae vra en die antwoorde is daar maar die lafaard kan nie reguit antwoord nie. Die gereg moet sy gang gaan, ek hoop net hy kom nie vry nie..twee jong lewens is weg en ouers treur..dit kan nie maklik wees nie..so jammer vir almal wat ly..

Leoni ·

Ek kan my nie indink wat die ouers moet deurmaak nie! Hoekom hoekom??? Vrae wat hul elke dag mee worstel! Sterkte aan almal!!!

Erick ·

Geliefde klein Koster bly ook gedurig in die nuus. Sterkte aan die ouers. Verskriklik.

Andreas ·

Jammer, maar als in die land gebeur so stadig, selfs as die son sy kop in die weste laat sak, kom sy skaduwee doer uit die ooste oor die horison aan.

Andreas ·

Mens voel jammer dat mens sulke ‘wyshede’, dalk eerder onwyshede in sulke tye moet kwyt raak, maar mens pink eers ‘n traan, dan druk mens voort.

Watter tyd om sulke goed kwyt te raak is dan nou reg?

Anoniem ·

Bylsma, jy weet presies wat Jy gedoen het, God SAL met Jou afreken – jy veroorsaak baie PYN

Andreas ·

Hoekom kan mens nie ‘n standbeeld vir hier twee oprig nie? ‘n Standbeeld om ere te bring aan die vrou wat ons misbruik, baie keer van jongs af, dilwels, in ons gedagtes, in ons drome, die sensuele. En dan is dit so dat hulle ook net mense geskape is. Gee hulle deernis en liefde, koester hulle. Behandel hulle sag. Hulle het ook drome.

Maryna Wood ·

My hart gaan uit na die ouers en breek vir dit wat hulle moet deurgaan. Ek weet presies hoe dit voel. Ons seun se saak Richard Wood wat deur sy “vriende” aangerand is en vir dood gelos is word nou al vir amper twee jaar uitgestel terwyl die twee beskuldigdes vrylik daar buite uit op R5000 borg rondloop. Maar ek WEET my GOD slaap nie en geregtigheid moet geskiet. Die saak kom nou weer die 30ste Mei voor. Al my simpatie aan die betrokke ouers ek sal julle ook in my gebede hou .Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.