Jaarlikse mammogramme kan lewens red

Argieffoto. (Foto: marijana1/Pixabay)

Meer as ʼn kwart van nuwe kankergevalle in 2020 onder Suid-Afrikaanse vroue, en sowat 8% van kankersterftes, kan aan borskanker toegeskryf word.

Vroue wat jaarliks vir ʼn mammogram vir borskanker gaan se kanker word in ʼn minder gevorderde stadium opgespoor en ondergaan dus minder aggressiewe behandeling en het ook ʼn laer risiko om te sterf.

Die meeste Suid-Afrikaanse mediese fondse laat egter steeds net een mammogram elke twee jaar toe, hoewel een uit 25 Suid-Afrikaanse vroue jaarliks met dié siekte gediagnoseer word.

Vroeë opsporing van borskanker verbeter die kanse op oorlewing drasties en verminder die nood vir aggressiewe en indringende behandeling.

Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand en prof. Jackie Smilg, hoof van die Breast Imaging Society of South Africa (BISSA), benadruk dat die “goue standaard” vir opsporing van borskanker ʼn mammogram is, wat al die tekens van veranderings in die borsweefsel kan opspoor selfs jare voordat simptome ontwikkel.

BISSA is ʼn sub-spesialiteitsgroep van die Radiological Society of South Africa (RSSA).

“Verskeie kliniese studies het getoon dat mammogramme die risiko van sterftes weens borskanker drasties verlaag. Gegewe die positiewe impak van vroeë opsporing op ʼn pasiënt se lewe en die verminderde nood vir indringende en duur behandelings, is dit teleurstellend dat mediese fondse en regeringsagentskappe nie dié bewysstukke aanvaar vir die voordele van ʼn jaarlikse mammogram nie,” het Smilg gesê.

Sy het bygevoeg dat ʼn jaarlikse mammogram vir vroue tussen die ouderdom van 40 en 49 sterk aanbeveel word, aangesien die spoed waarteen gewasse groei in dié ouderdomsgroep verdubbel.

BISSA beveel aan dat vroue wat die borskankergeen dra of ʼn familielid soos ʼn ouer, suster, kind of ouma aan moederskant het wat voorheen met borskanker gediagnoseer is, as hoë risiko beskou word en dat hulle jaarlikse toetse moet laat doen vyf jaar voor die ouderdom waarop daardie familielid met borskanker gediagnoseer is.

Alle vroue behoort ook gereeld hulle eie borste te ondersoek en vroue wat ʼn gemiddelde tot ʼn hoë risiko loop behoort jaarliks vir mammogramme te gaan van die ouderdom van 40, ongeag of hulle enige simptome het of enige abnormaliteite gevind het.

Tomosintese, ʼn digitale tegniek wat ʼn 3D-aansig van die bors moontlik maak, en moontlik ʼn sonar, afhangende van die borsdensiteit, word saam met ʼn mammogram aanbeveel, terwyl ʼn addisionele MRI-skandering as ʼn addisionele voorsorgmaatreël aanbeveel word.

Smilg benadruk dat die hoeveelheid bestraling wat in moderne mammogramme gebruik word “onbeduidend” is, met geen bewyse van skade wat aan die borste of res van die liggaam aangerig word nie.

“Die voordele van skandering en vroeë opsporing weeg swaarder as die risiko wat met bestraling gepaard gaan,” sê sy.

Sy het ook gewaarsku teen tegnologie en toestelle wat ʼn alternatief tot ʼn mammogram bied. Dié alternatiewe word dikwels deur nie-mediesgekwalifiseerde mense en organisasies gedoen. Dit sluit in ʼn “borslig”, termografie, wat temperatuur variasies onder die vel se oppervlakte opspoor, en tasbare beeldvorming, wat elektronies borsweefsel se elastisiteit uitlê.

“Daar is geen bewyse dat hierdie metodes enigsins bydra tot die opsporing van borskanker wanneer dit met ʼn mammogram vergelyk word nie. Dit word dikwels hanteer deur personeel met geen mediese opleiding nie en kan uiteindelik meer skade aanrig deur borskanker mis te kyk, wat kan lei tot ʼn vertraagde opsporing en beperkte behandelingsopsies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Botterblommetjie

Mediese fondse betaal net elke twee jaar… Wie kan dit bekostig? Ek voel elkeval dat mediese fondse moet meer konsentreer oor hulle voordele op vrouens. Ons is sensitief wat sekere kankers betref, maar meeste ondersoeke word uit ons dag tot dag voordele verhaal. Ek voel daar is sekere ondersoeke met toetse wat apart vir vrouens gespesifiseer moet word in mediese fondse.

Eend Bessinger

Staatshospitale doen dit net op versoek vir staatspasiënte.. en net eenmalig. Mediese fondse doen dit net elke twee jaar op voordele. As jy meer gereeld wil toets, moet jy jou spaarfonds gebruik. Privaatpasiënte kan dit doen so gereeld hulle wil, maar dit kos ‘n plaas se prys…