Jacob ‘No. 9’ Zuma speel enorme geheime rol by ANN7

Die voormalige redakteur van ANN7, Rajesh Sundaram. (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma het ʼn enorme rol in die totstandkoming van die nou ontbinde ANN7 gespeel en selfs redaksionele beleid vir die pro-ANC-regeringsnuuskanaal bepaal, het Rajesh Sundaram, die kanaal se voormalige redakteur, aan die kommissie wat staatskaping ondersoek, gesê.

Sundaram beweer Zuma was die de facto-hoofredakteur en het vergaderings by sy Pretoria-woning in die aanloop tot die bekendstelling van ANN7 gehou. Só hoogs geheim was Zuma se rol, dat die omstrede Gupta-familie enige lid van die span verbied het om eers sy naam te noem.

Sundaram het getuig die Guptas het vir die oudpresident ʼn kodenaam – “No. 9” – gegee, en daar is só na hom verwys.

“Tydens besprekings by spanvergaderings waar ons saam met ander senior bestuurslede insette moes lewer en voorleggings moes doen, het Atul Gupta ons beveel om nie by name na die president te verwys nie.

“Hy het gesê ons moet na hom verwys as No. 9. Ek het gevra waarom No. 9? Hoekom nie No. 3 of No. 7 of No. 10 nie?

“Atul het gesê nommer 9 was die kode wat die ANC se intelligensiegroepering gedurende die apartheidsjare aan Zuma gegee het en dat dit ʼn kodenaam was wat hy in dié geval wou gebruik.”

Sundaram het gesê hoewel Zuma se seun Duduzane ʼn aandeel van 21% in Infinity Media gehad het, het hy geen beduidende rol in die stigting en bedryf van die nuuskanaal gespeel nie. Sy pa het die aktiewe rol gespeel en het terugvoervergaderings met die bestuurspan en die Guptas gehou.

Die eerste vergadering van die ANN7-span is gelei deur Sundaram en Zuma, en het op ʼn Sondag in Junie by die presidentswoning in Pretoria plaasgevind. Hy het gebeure opgeroep met die hulp van sy boek, Indentured: Behind the Scenes at Gupta TV, wat geskryf is na aanleiding van ʼn dagboek wat Sundaram gehou het terwyl hy in Suid-Afrika was.

Hy het gesê hy was verras deur die lakse veiligheidsmaatreëls by die woning en veiligheidsbeamptes het hulle byvoorbeeld nie geskandeer nie.

“Ons is in ʼn vertrek in die woning ingeboender. Ek het Ashu Chawla reeds daar gesien sit, met sy selfoon wat by ʼn muurprop ingedruk is sodat dit kon herlaai. Dit was die eerste keer dat ek hom persoonlik ontmoet het.

“Moegsien Williams, Nazeem Howa en Atul (Gupta) het ʼn paar minute later ingekom. Atul was ongeduldig en wou hê die vergadering moet begin…. Hy het gesê die president kan ons nie so laat wag nie. Chawla het gesê die president was in ʼn ander vertrek besig met vergaderings en sal binnekort kom. Hy het ingekom en na ʼn paar minute gaan sit.

“Ons het dit vreemd gevind dat ʼn staatshoof betrokke is by ʼn nuwe televisiekanaal wat nog nie eens bekendgestel is nie,” het Sundaram gesê.

Zuma het spesifieke vrae oor die projek gevra en ʼn verslag is aan hom gegee waardeur hy voor die volgende vergadering kon lees. Op streng instruksie van Atul Gupta het hulle aan Zuma verduidelik hoe die stasie gaan lyk, wat die naam en handelsmerk sou wees en hoe die verkrygingsproses vir toerusting werk. Zuma wou ook weet hoe die nuusinhoud gaan verskil van ander nuuskanale in Suid-Afrika, het hy gesê.

“By vorige vergaderings waarvan ek nie deel was nie, het die president ʼn naam soos dié van (die internasionale nuuskanaal) CNN voorgestel. Hy het Africa News Network voorgestel. Die idee was om ʼn Afrika-nuusnetwerk te hê waar Suid-Afrikaanse joernaliste kan verslag doen oor die wêreld, nes CNN. Atul het voorgestel dit word ANN7 genoem. Die sewe is bygevoeg omdat ANN reeds elders as handelsmerk bestaan.”

Sundaram het getuig die Guptas het Zuma laat glo hulle gaan sy voorstelle implementeer. Hulle het selfs saam gelag oor die Waterkloof-voorval in 2013, toe ʼn private vliegtuig met Indiese gaste van die Guptas toegelaat is om by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria te land.

Dié voorval het ʼn herrie veroorsaak.

“Hulle het gesê dit is belangrik dat Zuma voel dat daar na hom geluister word. Atul het vir my gesê ek moet seker maak die president voel só wanneer ek met hom praat. Hulle het baie naby aan die president voorgekom en wanneer sy familielede daar rond was, is hulle op hulle voorname gegroet.

“By die vergaderings wat ná die Waterkloof-landing plaasgevind het, het dit gelyk asof hulle verhouding net sterker was. Daar was niks wat aangedui het dat die voorval enige impak op hulle verhouding gehad het nie. Dit was asof niks gebeur het nie. Hulle het heerlik gelag daaroor,” het Sundaram aan die kommissie gesê.

“Ek het gedink dis ʼn speletjie wat hulle met die president speel. Hulle het by hom die indruk geskep dat hulle sy idees ernstig opneem, terwyl die Guptas ieder geval sou doen net wat hulle wil en Zuma se planne in die asdrom gooi.”

Atul Gupta het later by Sundaram gespog oor die familie se noue band met Zuma.

“Kyk, ek het vir jou gesê die band wat ons met die president het, is baie nou. Hy sal rotsvas by ons staan.”

Toe sekere televisieverslaggewers geweier het om weens die eienaars se slegte openbare profiel vir ANN7 te werk, het die familie vir Zuma genader. Die oudpresident het Jimmy Manyi as ʼn goeie kandidaat voorgestel, het Sundaram getuig.

Zuma wou egter nie hê dat die kanaal as ʼn ANC-propagandamasjien gesien moet word nie. Die kanaal sou wel dekking aan opposisiepartye gee, maar in ʼn negatiewe lig.

“Hy het gesê (die nuuskanaal) eNCA berig net negatief oor hom en die regering. Hy wou subtiele propaganda in nuusberigte hê. Hy het gesê eNCA herhaal te veel programme en dat hy dit vervelig vind. Hy was gekant teen handpoppe (eNCA se satiriese karakter Chester Missing) wat met politici die spot dryf en het kamerahoeke gekritiseer.”

Sundaram het gesê dit het duidelik geword dat hy, ten spyte van sy “vet salaris” van R100 000 per maand, vir “die mafia en ʼn propagandaprojek” werk.

Hy het getuig dat die Guptas nie ʼn veer gevoel het oor inhoud nie, maar die kanaal so vinnig as moontlik aan die gang wou kry sodat hulle deur advertensiegeld uit staatsdepartemente kon begin maak.

“Hulle was haastig om die kanaal aan die gang te kry en hulle wou so gou moontlik ʼn wins begin wys. Die inhoud, gevoel en voorkoms van die nuuskanaal het tweede viool gespeel teenoor die Guptas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Petro ·

Ja dis waarmee hy hom besig gehou het terwyl die land brand….

Christa ·

Hy is skelm Soos die houtjie van die half want Hy Weet Hy Kom Niks oor nie. Almal kry Seker n deel van Sy wins

???? leser ·

afriforum stel die skurke (zuma en sy seun) aan die kaak, dat hulle kan “SIT” vir hul aandeel aan alles
ASSEBLIEF

Gert van Wierdapark ·

JZ was dus blykbaar die “dirigent” by die tv-kanaalwaar hul na sy pype gedans get op die maat van die zupta-shuffle, “Pay us the money”!? He-he-he!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.