Jacob Zuma: Dit is tyd

Adj.pres. Cyril Ramaphosa by die Nelson Mandela-eeufeesvieringe. Foto: ANA

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het bevestig die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gaan Maandagmiddag in Irene, Centurion, ʼn noodvergadering belê om pres. Jacob Zuma se toekoms te bespreek.

Ramaphosa het Sondag by Kaapstad se stadsaal gepraat as deel van die viering van oudpres. Nelson Mandela se 100ste geboortejaar.

Ramaphosa se toespraak het op presies dieselfde tyd afgeskop as Mandela se toespraak 28 jaar gelede toe hy op 11 Februarie 1990 vrygelaat is.

Dit was sy eerste openbare optrede sedert “geheime gesprekke” verlede week begin het om Zuma se toekoms te bepaal.

Ramaphosa het hulde aan Mandela gebring en gesê die Nelson Mandela-eeufees bied die ANC die geleentheid om van nuuts af te begin.

Sedert Ramaphosa die ANC se leierskap in Desember gewen het, het hy onder druk gekom om sy voorganger as die hoof van die staat te herroep. Zuma, wie se presidensie deur talle skandale gekenmerk is, weier om uit te tree.

Ná die week se gesprekke tussen Ramaphosa en Zuma oor die verandering van leierskap, is Suid-Afrikaners onseker gelos oor die pad vorentoe. Die groot vraag is: wanneer gaan Zuma gaan?

Die onrustigheid is verskerp toe die jaarlikse staatsrede vir Donderdag onbepaald uitgestel is.

Hoewel Zuma se ampstermyn volgende jaar tot ʼn einde kom, het omstredenheid oor sy regsgedinge sy leierskap van die ANC onaanvaarbaar gemaak.

Ramaphosa het Sondag gesê onderhandelinge oor Zuma se toekoms gaan voort en moet “versigtig hanteer word” – dieselfde strategie hoe die ontslape staatsman “moeilike sake” hanteer het.

“In dié stadium van ons geskiedenis word ons herinner aan Madiba se buitengewone wysheid, insig en leierskapgehalte wat hom voorberei het om die land op ʼn pad van demokrasie te lei,” het Ramaphosa gesê.

“Dit is dié eienskappe wat ons moet verstaan, waardeer en toepas op ons pad van eenheid en vernuwing. Dit is Madiba se voorbeeld wat ons moet benader in die take wat ons moet onderneem.”

Hy het gesê die ANC se leierskap voer tans gesprekke oor “die oorgang na ʼn nuwe administrasie” en spesifiek om die “kwessie van die posisie van die president van die republiek te bepaal”.

“Die belang van Suid-Afrika moet eerste gestel word. Dit is die belang van julle, ons mense, wat eerste geplaas moet word, niemand anders nie,” het hy bygevoeg.

Sondagkoerante het Sondag breedvoerig oor Zuma se uittrede bespiegel.

The Sunday Times berig Ramaphosa probeer om Zuma se samewerking in die staatkapingsondersoek te verseker deur ʼn moontlike pleitooreenkoms ter tafel te lê.

Die koerant berig as deel van geheime gesprekke om Zuma se bedanking te verseker wil Ramaphosa hê Zuma moet die polisie en vervolgingsowerhede bystaan om die primêre staatskapingsbegunstigdes, die Gupta-familie, aan die pen te laat ry.

“Zuma wil na bewering hê die staat moet sy regskoste betaal, sou hy vervolg word, maar Ramaphosa is huiwerig om hiertoe in te stem sonder die onderneming van die president om dié wat vir die staatskaping verantwoordelik is, vas te vat,” lui die berig.

City Press berig Ramaphosa “slaan vure dood” in sy party aangesien medeleiers, partystrukture en lede van die publiek ongeduldig raak met die tempo van die gesprekke oor Zuma se uittrede.

Die koerant berig die kansellering van Woensdag se spesiale NUK-vergadering, wat Zuma die rooikaart kon toedien, het nie byklank gevind by die senior leiers nie.

Terwyl sommige van die ANC se top-ses glo ontstoke is met ʼn “veglustige” en “oneerbiedige” Zuma, het Ramaphosa aan die onderhandelingsnoodlyn vasgeklou as die beste manier om ʼn “lelike en verdeelde oorgang” te vermy.

Volgens diegene na aan die gesprekvoering is van Zuma se voorwaardes om uit te tree sy veiligheid en dié van sy familie, dat voorsiening vir sy veiligheid op die huidige vlak voortgesit word en dat die staat sy regskoste betaal vir die huidige en ʼn toekomstige regstryd wat gekoppel word aan sy ampstermyn.

Ramaphosa het Sondag bevestig die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergader Maandag om kwessies rakende Zuma af te handel.

“Ons gaan die kwessies bespreek, want ons mense wil dit afhandel. Die uitvoerende komitee sal dit doen. Ons weet die saak moet afgehandel word, ons weet julle soek afsluiting.”

Die waterskeidingvergadering begin vanmiddag om 14:00.

Intussen dreig opposisiepartye en die burgerlike samelewing met ʼn massa-optrede Maandag in Pretoria se middestad om teen Zuma te betoog.

Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gesê die betogings sal onwettig wees, maar die metropolisie is slaggereed om die situasie te hanteer. Die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het hulself van die optrede gedistansieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Natasha kapp ·

Jz weet hy gaan verantwoording moet doen oor die 783 klagte van korrupsie dis hoekom hy aandring dat alle voordele voortgaan asof hy president is. Hy het SA al te veel gekos met sy kabinetskommelinge! Weg met ZUMA. Hy kan net kry wat al die ander presidente kry! Geen spesiale voordeel vir hom

Dinarie ·

Die lede van die ANC onder leiding van Mnr Zuma beroep hulself graag daarop dat SA deur n demokratiese bestel regeer word.

Die.itonie is egter dat in volwasse demokrasieë (bv Swede, Noorweë en andere) sou die president reeds bedank het wanneer hul gekonfronteer word met n fraksie van die skadale soos bestaan rondom Mnr Zuma.

Vraag: Wat verstaan mens uit die dinge?

Haan ·

Demokrasie werk slegs in n homogene samelewing. Demokrasie is die stelsel wat Barabas bó Jesus gekies het. n Vrot boom kan nie goeie vrugte dra nie. Ek is moeg vir die juk van die ANC. Ons wil vry wees… WAARLIK vry

Alida ·

Dank die krimineel summier af!! Hy is nie verhewe bo die wet nie (in sy eie woorde) maar noudat dit na sy kant toe kom nou stel hy eise. Hy moet rekenskap gee 780 aanklagtes het nie uit die lug uit geval nie.

Basjan ·

Dit is nou die hoeveelste “noodvergadering”. Gaan daar ooit iets van kom?

Hendrik ·

Indien die ANC hierdie saak nie regkry nie kan dit nogal in ‘n burgeroorlog ontaard. Zuma moet net die woordjie laat val dat die ANC die Zulus uitgewerk word en dan het die land moeilikheid. Zuma en die ANC wil natuurlik al ses kante van hul EIE broodjie gebotter he.

honourable member ·

Whatever. Sien is glo. Hierdie man het n baie dik vel. Niks sal ooit met hom gebeur nie.

Tau ·

Daar is te veel amptenare in die ANC en die Komitee wat net so skuldig is aan staatskaping, bedrog en self-verryking om waarlik die land, die mense en die belastingbetalers in ag te neem. Te veel menseregte aan korrupte kriminele elemente terwyl die hele land, veral die armstes van die armes daaronder ly. Net ‘n wonderwerk sal doeltreffend wees.

Willie ·

Hier sal nou daadwerklik n streep in die sand getrek moet word. Daar is geen weisheid of volwassenheid in die ANC se topbestuur nie, meerderheid van hulle. Die gaan oor rampokkery nie die welstand van die ANC of regering nie… Ek dink Nelson mandela se ideale is onregstelbaar geskend deur boewery… Ek betwyfel sterk of enige party of leiers die vrot SA kan red…

Ai afrikanertjie .. tiepies of is dit tipies ·

Alida, jy wen ‘n roomys hoor..

Genieve ·

CR se woorde Saterdag; Julle is ons mense,kom eertse bo die belange van ander mense,nou wonder ek hoekom vat hulle dan solank om ontslae te wil raak van zuma as die belasting betaler se balange dan eerste kom?

B-man ·

Nee, wanneer leier van ANC praat van ‘ons mense’ is dit seker die party se mense. Maar wanneer die staatspresident praat van ‘ons mense/our people’, behoort dit al die staat se inwoners in te sluit. Ongelukkig, dink ek, weet ons almal dat dit nie die geval is nie.

Andre ·

Ek dog Ramaphosa is so `n goeie onderhandelaar? Stuur JZ in sy maai, hy moet in die tronk gaan sit.

Meneer ·

Hulle is almal bang vir JZ. Sal glad nie verbaas wees indien hulle oor ‘n week nog onderhandel nie…

jaco ·

Julle wat so graag wil hê Ramaphoza moet nou daadwerklik optree, gaan nog lang trane huil wanneer hy eers president is. Dan volg radikale ekonomiese transformasie en radikale grondhervorming. Al wat nou op die korttermyn gaan gebeur is ‘n sterker Rand teenoor die dollar en seker ‘n 50 sent per liter verlaging in die petrolprys. Maar as Ramaphoza eers ten volle in beheer is, gaan SA onder al Zuma se nonsens na ‘n Sondagskoolkonsert lyk.

MTSteyn ·

Korrek, uiteindelik ‘n weldeurdagte stukkie kommentaar.

Liewe leser, jou lewe as blanke/swarte/indier/kleurling gaan nie onder Cyril verbeter nie. CR het dit reeds aan jou genoem, as jy maar net mooi geluister het. Onthou jy dan nie dat hy jou onder hierdie gemors in onderhandel het nie; daar in die vroee 90’s toe behoudendes uitgeskel is as dom en kortsigtig!

My oorle ouma het eens op ‘n tyd genoem “dat dit die reg van die massas is om verkeerd te wees.” Ek neem aan sy moes dit iewers raakgelees het.

Die ANC se demokratiese revolusie sal nou- uiteindelik onder slinkse Cyril – voltrek word!

Safety first ·

JZ wil he dat sy veiligheid gewaarborg moet word. Maklik , laat hom iewers op n plaas woon, dan is hy net so veilig soos die boere. C Max is natuurlik die heel veiligste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.