Jacob Zuma herroep

Pres. Jacob Zuma. Foto: Themba Mtshali, KZN-premierskantoor

Pres. Jacob Zuma is Dinsdag deur die ANC herroep.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het tydens ’n mediakonferensie by Luthuli-huis bekend gemaak dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) besluit het om Zuma te herroep.

Magashule het gesê die besluit om Zuma te herroep is geneem na uitgerekte besprekings oor die impak wat dit op die land, die ANC en die funksionering van die regering sal hê.

Magashule het ook bekend gemaak dat Zuma herhaaldelik meer tyd versoek het maar dat die NUK nie ten gunste daarvan was nie. Daar is nie onmiddellik meer besonderhede bekend gemaak oor wat volgende gebeur nie.

Na politieke ontleders en die media byna al ʼn jaar lank daaroor bespiegel het, is dit nou amptelik. Die aankondiging volg nadat die NUK tot in die vroeë oggendure oor Zuma se lot vergader het.

Twee duidelike magsentrums, een by Luthuli-huis en een by die Uniegebou, het ontstaan nadat adjunkpres. Cyril Ramaphosa in Desember by die ANC se leierskapkonferensie in Johannesburg verkies is om die leisels as die president van die regerende party oor te neem.

Ramaphosa se oorwinning is wyd as ʼn terugslag vir Zuma en sy ondersteuners beskou omdat hulle reeds vroeg in die leierskapstryd om beheer vir die ANC hulle steun aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, kabinetslid, oudvoorsitter van die Afrika-Unie en eksvrou van Zuma toegesê het.

Dit het reeds vroeg geblyk dat Zuma nie vir lank sou aanbly as die staatshoof van die land nie en nie sy tweede termyn as president in 2019 met die volgende algemene verkiesing sou voltooi nie, daarvoor is daar net te veel verskille tussen die standpunte van Ramaphosa en Zuma.

Boonop het gerugte oor staatskaping, korrupsie en talle hofsake soos ʼn donker wolk oor die kop van die president gehang. Al hoe meer gerugte oor ʼn beplande uitgangstrategie vir Zuma het kort na die uitslag van die ANC-leierskapkonferensie die ronde begin doen.

Nkandla en veiligheid in gerief

Die konstitusionele hof het kort ná die leierskapkonferensie ʼn uitspraak gelewer waarin dit beslis het die Nasionale Vergadering het nie daarin geslaag om meganismes in plek te stel om Zuma verantwoordbaar te hou nie.

Dit het gevolg nadat dieselfde hof in Maart 2016 gesê het Zuma het versuim om die Grondwet te handhaaf, te verdedig en te respekteer en dat hy versuim het om sy grondwetlike pligte na te kom. Die hof het ook beslis Zuma moes R7,8 miljoen terugbetaal wat op nie-veiligheidsopgraderings aan sy privaat Nkandla-woning bestee is. Zuma het die geld in September 2016 terugbetaal nadat hy ʼn huislening aangegaan het. Die totale koste vir Nkandla het meer as R246 miljoen beloop.

Die 783 betalings

Zuma se prokureurs het vroeër die maand sy vertoë aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig oor waarom die 18 aanklagte – 12 van bedrog, vier van korrupsie, een van geldwassery en een van afpersing – wat spruit uit die 783 betalings van meer as R4 miljoen wat na bewering deur en vir Zuma deur Schabir Shaik en sy Nkobi-groep tussen 1995 en 2006 gemaak is, weer teen hom ingestel moet word nie.

Die DA het in November verlede jaar dokumente vir die herinstelling van die aanklagte by die NVG ingedien en het aangevoer die besluit hieroor wat in April 2009 geneem is om die aanklagte teen Zuma terug te trek, enkele maande voordat hy tot president verkies is, was irrasioneel.

Die appèlhof het vroeër beslis dat die besluit deur Mokotedi Mpshe, vorige hoof van die NVG, om die aanklagte terug te trek, wel onwettig was. Zuma is daarna die geleentheid gegun om ʼn vertoë te rig oor hoekom die aanklagte teen hom nie weer ingestel moet word nie en die aanvanklike sperdatum hiervoor was 30 November maar Zuma het sewe weke uitstel gekry.

eNCA het berig Shaun Abrahams, tans nasionale direkteur van openbare vervolging, het die vertoë ontvang en sy span aanklaers het twee weke kans om die vertoë te bestudeer voordat hy besluit of Zuma aangekla sal word of nie.

ʼn Raamwerk vir die ondersoek na staatskaping

Asof die net nie reeds styf genoeg om Zuma gespan is nie, is daar ook aan die einde van Januarie ʼn raamwerk vir die geregtelike kommissie van ondersoek oor bewerings van staatskaping bekendgemaak.

Dit sluit ʼn ondersoek oor die berugte Gupta-familie en hul beweerde onbehoorlike invloed op Zuma en sommige kabinetministers in.

Die ondersoek, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, sal ook bewerings van korrupsie ondersoek.

Volgens ʼn opdrag wat in die Staatskoerant gepubliseer is, moet die kommissie ondersoek instel na, bevindings maak, verslag doen oor en aanbevelings maak, met inagneming van die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor staatskaping. Die kommissie moet sy verslag en aanbeveling binne 180 dae vanaf die aanvang van die kommissie aan die president voorlê.

Nie sommer net stil-stil gaan lê nie

Zuma het ondanks die toenemende druk om as staatspresident te bedank, duidelik gewys dat hy van voornemens is om met sy uitvoerende pligte voort te gaan, eerder as om bloot net die handdoek in te gooi.

Zuma het luidens berigte herhaaldelik bloot geweier om te bedank. Hy het glo boonop ʼn lys van eise vir sy vroeë uittrede gestel wat insluit dat hy ʼn waarborg moet ontvang dat sy regskostes betaal sal word, dat hy sekere pligte sal kan nakom soos om steeds staatshoof van die land by die volgende Brics-beraad in Julie te wees en die weermag amptelik te mag groet.

“ʼn Mens wonder altyd hoekom iemand vir tyd sal speel, veral as die uitkoms dieselfde sal wees, maar om tyd te koop is die strategie van iemand wat nie ʼn plan het nie en so word tyd self die plan, want wie weet wat kan gebeur as daar genoeg tyd is,” het Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, vroeër die week aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lourens ·

Waarom nog ewe respekvol na die vent verwys as “president” Zuma?

Blah blah ·

Die bure se honde wat geblaf het, het meer sin gemaak as die snert wat daai ‘beskuldigde’ kwyt geraak het. Dink n graad 2 debat sou beter sin gemaak het.

Piet Pompies ·

Is dit dan so moeilik om jou lot te aanvaar, as jou tyd aangebeek het om te gaan, pak jou tassie en verlaat die situasie met waardigheid.
Zuma se toekoms na president lyk moeilik en dit wil voorkom of hy sy aftrede in die tronk gaan beleef.

E ·

Ag asseblief. Hy is soos ń knapse kêrel wat klou. Hy en al sy maitjies. Sal my nie verbaas as hul vir CR uitkry om Mrs. president te maak nie. Niks wat ons sê of graag wil hê maak meer ń verskil nie. Daar word so surkus voor die media gehou met nogal grappe en gelag tussenin, maar agter geslote deure word daar lekker gekonkel om selfverryking.

Zexit Cyrilbrations ·

Zuma is soos ‘n stuk vleis wat baie lank in die marinade kon rus en nou reg is vir die braai. Cyril, gaan kry die vuurhoutjies, daar is klaar 783 kole op die braaier!

Johannes ·

Cyrilbrations nogal… wat presies sien jy in ramaphosa?

Yolandi ·

Dames en Here… Die einde is beslis nie in sig nie! Volgens Ace het die man niks verkeerd gedoen nie. Geen wonder hy skop so vas nie,… Die ANC kan hom nie antwoord as hy vra “maar wat het ek verkeerd gedoen nie” op die Dinsdag het ek nie woorde nie want eks bevrees ons het 2 tree voorentoe gee maar 3 terug. Hulle herroep hom nie omdat hy iets verkeerd gedoen het nie maar bloot omdat hulle, hulle prosesse agtermekaar wil kry! Dis snert! As hulle nie kan sien wat hy verkeerd gedoen het nie gaan hulle sy voute herhaal…

christa ·

het Zuma nooit as president erken nie. Hy is dit nie werd nie. Nou vir die volgende stap om ANC uit te stem

Johannes ·

Het nog GEEN ANC comrade as president erken nie. Die ANC het onregmatig aan bewind gekom.

Verstom ·

DD datum op verbruikers item duidelik aangeteken 13-02-2018. Jou doppie is geklink MNR ZUMA. NIEMAND HET ENIGE VERTROUE IN JOU NIE, behalwe jou cronies wat hulle seertjies moet lek as hulle ook moet waai.

John Samuel ·

Interresant genoeg verwys die internationale pers BBC nie na hom as “president” nie maar slegs as ‘Mr.’ .

zoom zoom ·

Jakob vat jou goed en vrouens en trek Dubai toe na jou gupta vriende. Hiekom hier wil bly as jy in Dubai in weelde kan leef of is dit tebna aan Mnr Puttin

Vermeende ·

Nou gaan die poppe begin dans, Zuma sal nou moet self betaal vir sy regsuitgawes en die kluis se sleutels is pas by hom gevat, die man wat nie kan tel nie is nie dom nie, hy weet hy gaan tronk toe so wat bly oor…………terug baklei, nou gaan hy sy hakke inslaan en fight, hy het geen ander keuse nie.

Spiekeries ·

Waarom die weermag persoonlik gaan groet? Wat voer hy in die mou? Ek ruik ‘n muishond.

Kobus ·

Hoekom vreugdevure aansteek?Hy wel herroep,maar moet eers bedank voor ons van hom ontslae is…daar is geen tydslyn…sal nog lank met hom sit…solank is hy nog steeds president…letwel met geen hoofletter….hy mos gevra om die Brics nog as president toe te spreek en die weermag gaan soengroet…daardie Judaskus spel niks goeds….STAATSGREEP!!!!!!

humor ·

As hy steeds hardkoppig sal volhou om nie die amp neer te le nie gaan hy probleme kry. Kan hy dan nie insien dat hy steeds besig is om sy graf dieper te grawe nie. Hy moet so gou as moomtlik kies of hy hard of sag wil gaan. Daar le in elkgeval vir hom n harde pad vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.