Jacob Zuma: ʼn Gevalle president

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Jacob Zuma (75) was sedert die begin van die jaar toenemend onder groter druk om uit te tree.

Die oproep vir sy uittrede het momentum opgebou ʼn week voordat hy sy staatsrede vir 2018 op 8 Februarie sou lewer. Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het in dié week gesê hulle sal ʼn negende mosie van wantroue in die president instel. Daar was ook sprake dat talle opposisiepartye nie die staatsrede sou bywoon nie omdat hulle nie deur ʼn president toegespreek wil word wat die grondwet verontagsaam nie.

Zuma se presidentskap strek oor bykans meer as ʼn derde van Suid-Afrika se geskiedenis sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994, maar  aanklagte van korrupsie en staatskaping wou net nie wyk nie. Die land se ekonomiese verval is ook voor die voete van Zuma se administrasie gelê.

As Zuma nie self wil uittree nie, moet die ANC die staatshoof uit sy pos onthef, het die opposisie en die burgerlike samelewing geëis, veral nou dat die regerende party ʼn nuwe president in Cyril Ramaphosa het.

Sy presidentskap sal nie sommer as maklik beskryf kon word nie, en die man is dikwels in skandale en omstredenheid gehul.

Hoe het Zuma gekom tot die punt waar hy verwyder sou word en toe bedank het – hier is ʼn tydlyn van ʼn paar sleutelsake:

Zuma, die adjunkpresident, word aangekla

Zuma het van 1999 tot 2005 as die land se adjunkpresident gedien onder pres. Thabo Mbeki. Hy was gewild en charismaties, maar is die trekpas gegee nadat hy by aanklagte van korrupsie betrek is.

Voor die aanklagte is hy lank as die natuurlike opvolger vir Mbeki beskou.

Zuma het as tiener reeds by die ANC se geheime militêre vleuel aangesluit in die stryd teen apartheid voordat hy saam met Nelson Madela na Robbeneiland gestuur is.

Hy het in 1997 die adjunkpresident van die ANC geword.

Later het sy betrokkenheid by die wapenskandaal, wat Suid-Afrika sowat R30 miljard gekos, en wat talle Europese maatskappye ingesluit het, aan die lig gekom.

Zuma se finansiële raadgewer, Schabir Shaik, is in Junie 2005 aan korrupsie en bedrog skuldig bevind en het tydens sy verhoor vir Zuma geïmpliseer.

Zuma het die aanklagte ontken, maar is kort daarna as adjunkpresident afgedank. Zuma is dieselfde jaar nog aangekla, maar die saak teen hom is in 2006 van die rol geskrap.

Zuma is ook in 2005 van die verkragting van ʼn familievriend se 31-jarige dogter aangekla. Zuma het die aanklagte ontken en beweer die vrou, wat ʼn vigsaktivis en self MIV-positief is, het daartoe ingestem.

Zuma is in Mei 2006 onskuldig bevind en het ʼn reeks lastersake teen talle mediahuise ingestel na aanleiding van hulle beriggewing oor die saak. Hy het aangevoer sy konstitusionele reg om te antwoord en homself te verdedig is van hom ontneem.

President Jacob Zuma Foto: GCIS

Zuma verkies as president van die ANC en later van die land

In Desember 2007 is Zuma verkies as president van die ANC.

Op 20 September 2008 het die ANC Mbeki uit sy pos onthef en twee dae later het hy sy bedanking aangekondig. Die herroeping volg op ʼn beslissing van die hooggeregshof in Pietermaritzburg dat Mbeki glo betrokke was by ʼn politieke sameswering teen Zuma.

Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, het in April 2009 besluit om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie. Zuma is die maand daarna as president van die land ingehuldig.

Die DA het gesê die besluit om die 783 klagtes van bedrog, rampokkery en korrupsie teen Zuma te laat vaar was irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn versteekte politieke motief. Die DA het hierna met regsaksie begin om die klagtes heringestel te kry.

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Nkandla: ʼn Swembad, amfiteater en hoenderhokke – maar wie het betaal?

Die bouwerk aan Zuma se Nkandla-woning het aan die begin van 2010 afgeskop en is in November 2011 voltooi. Dit het eers in 2012 aan die lig gekom dat belastingbetalers grotendeels hiervoor opgedok het. Thuli Madonsela, openbare beskermer, het in dieselfde jaar ʼn ondersoek na Nkandla van stapel gestuur. Haar verslag, “Secure in Comfort”, is in Maart 2014 bekend gemaak.

Madonsela het in die verslag bevind dat Zuma en sy gesin onregmatig voordeel getrek het uit veiligheidsopgraderings van R246 miljoen aan sy private woning. Sy het aanbeveel dat Zuma miljoene rande aan die staat moet terugbetaal.

In Maart 2016 het die konstitusionele hof bevind dat Zuma persoonlik ʼn gedeelte van die staatsgeld wat aan niesekuriteitsopgraderings by sy private Nkandla-woning bestee is, moet terugbetaal.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in sy uitspraak bevind Zuma het versuim om die grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom toe hy  Madonsela se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het.

Zuma was nie geregtig om lede van die Nasionale Vergadering opdrag te gee om hul eie ondersoek na die opgraderings by sy Nkandla-woning te doen en hul bevindinge hoër te ag as dié van die OB nie.

Opposisiepartye en die burgerlike samelewing het weer eens geëis dat Zuma eerder moet bedank.

In Junie 2016 het die tesourie bekend gemaak dat Zuma R7,8 miljoen aan die staat moet terugbetaal vir Nkandla.

In Desember 2017 het die konstitusionele hof beslis dat die Nasionale Vergadering nie daarin geslaag het om meganismes in te stel om Zuma verantwoordbaar te hou nie na aanleiding van die vorige beslissing in Maart 2016.

zuma-en-staatskaping-2

Foto van pres. Jacob Zuma: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Staatskaping

Thuli Madonsela, openbare beskermer, is in Maart 2016 gevra om staatskaping te ondersoek. Dit is voorafgegaan deur verskeie berigte oor Zuma se verhouding met die Gupta-familie en hul invloed op regeringsbesluite en -kontrakte aan maatskappye wat met die omstrede familie verbind word. Zuma het die uitreik van die verslag probeer keer.

Madonsela se verslag is uiteindelik op 2 November 2016 uitgereik ná ʼn hooggeregshof-beslissing. Sy het onder meer bevind daar was beweerde pogings van omkopery en gereelde kontak tussen regeringsamptenare en die Gupta-familie.

Madonsela het aanbeveel dat Zuma binne 30 dae ʼn kommissie van ondersoek na staatskaping moet instel en dat hoofregter Mogoeng Mogoeng moet besluit wie aan die hoof van die kommissie sal staan.

Zuma het in Desember 2016 die Pretoriase hooggeregshof versoek om die openbare beskermer se staatskapingverslag en die aanbevelings daarin tersyde te stel.

Openbare verset teen Zuma het steeds toegeneem en is in April 2017 op die spits gedryf met talle landwye betogings onder die vaandel van #ZumaMustFall.

‘n Protesoptog teen pres. Jacob Zuma wat in Desember 2015 in Johannesburg gehou is. Foto via Twitter.

Die DA het in Junie 2017 ʼn aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring vir ʼn bevel dat Zuma die opdrag van Madonsela om staatskaping te ondersoek, geïgnoreer het. Zuma het ʼn teenaansoek gebring. Adv. Busisiwe Mkhwebane, Madonsela se opvolger, het in die dieselfde maand aangekondig sy gaan ʼn voorlopige ondersoek na staatskaping doen.

Zuma se teenaansoek is in September 2017 aangehoor en uitspraak is voorbehou. Uitspraak is later dieselfde maand gelewer en daar is beslis dat Zuma nie onmiddellik ’n kommissie op die been hoef te bring nie hangende sy aansoek om Madonsela se staatskapingverslag te hersien. Dié aansoek is in Oktober aangehoor.

In Desember 2017 is Zuma se aansoek dat Madonsela se verslag hersien moet word, met koste deur ʼn volbank regters in die hooggeregshof verwerp. Die hof het ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek. Die hof het ook beslis dat Zuma persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te bekom wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag uit te reik.

Zuma het op 9 Februarie die regulasies vir die geregtelike ondersoek na staatskaping uitgereik.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, het gesê die regulasies verskaf die wetlike raamwerk vir die opstel van kommissies van ondersoeke.

Oktober 2017: Die ou aanklagte is weer terug

Die appèlhof het Zuma en die NVG se aansoeke om verlof tot appèl, met koste, van die handgewys.

Op 1 Desember het die DA sy voorlegging oor die korrupsieaanklagte by die NVG ingedien. Die party het daarin redes aangevoer waarom Zuma op 18 aanklagte van (12 van bedrog, vier van korrupsie, een van geldwassery en rampokkery) vervolg moet word. Die aanklagte spruit uit ʼn KPMG-ondersoek wat bevind het 783 betalings van meer as R4 miljoen is vir en namens Zuma deur Schabir Shaik en sy Nkobi-groep tussen 1995 en 2006 uitbetaal.

Zuma se prokureurs het op 31 Januarie sy vertoë by die NVG ingedien met redes waarom die aanklagte van korrupsie nie weer teen hom ingestel moet word nie.

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

18 Desember 2017: Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa, die land se adjunkpresident, is in Desember as president van die ANC verkies. Hy het die leisels van die party oorgeneem in ʼn tyd waarin die party se steun en gewildheid onder Zuma se leiding begin kwyn het.

Sy veldtog vir die leierskap van die ANC is gebou rondom sy standpunt teen korrupsie en hy het homself direk teenoor Zuma geposisioneer.

Uitgestel tot verdere kennisgewing

Sedert Ramaphosa die leierskap van die ANC oorgeneem het, het die druk op Zuma om uit te tree toegeneem. Die tyding het sodoende gedraai teen die man wat tot dusver elke mosie van wantroue, verslag, aanklag en hofsaak teen hom oorleef het.

Die vraag is nou of die einde van Zuma werklike verandering vir Suid-Afrikaners sal beteken? Sal dit werklik die einde van Zuma wees? Met die talle aanklagte van korrupsie en die ondersoek oor staatskaping wat nog afgehandel moet word, sal dit sekerlik nie die laaste keer wees wat die land Zuma se naam hoor nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarel Strydom ·

1) Die ANC speel vir die 2019 verkiesing. Ek betwyfel of die ANC enige beleidsveranderung sal toepas.
2) Die Ondersoek na Staatskaping is so wyd gemaak dat ek glo nie sal in Zuma se leeftyd afgehandel kan word nie.
3) Dit lyk asof Hoofde van sekere Instansies nou skielik hulle werk begin doen omrede Zuma hulle nie meer sal kan beskerm nie.
4) Wanneer word Magashule en die huidige OB, wat albei Zuma mense is vervang.

Gerhard ·

Vir Jan Afrikaner op die straat beteken dit niks dat Zuma weg is nie. Kyk maar na Zim, die bleekgesig boere van daar sal nooit hulle plase terug kry nie. Die waarheid is dat grondonteiening en vermarginalisering nou die Afrikaner werklik in die gesig staar on CR.

Waghond ·

Ongetwyfeld die swakste president ooit sedert Uniewording in 1910.

Anti-ANC ·

Ek stem saam met Sarel en Gerhard. Maar julle sal ook saam stem dat God nie halwe werk doen nie. Ons was nie verniet met ons gesigte in die stof op Bloemfontein nie. Its Time

Derek ·

Stem saam, het vanoggend vir die Here die eer daarvoor gegee!

Anti Maroela ·

Ek stem saam met Sarel en Gerhard. Maar julle sal ook saam stem dat God nie halwe werk doen nie. Ons was nie verniet met ons gesigte in die stof op Bloemfontein nie. Its Time

Hester ·

Wie is volgende in lyn vir president ek vrees dat malema n kaans staan en nie vir rasistiese redes nie maar vir die veiligheid van ons land elke keer as ek op lees daar oor spreek hy net rasistiesie komente oor ons wot volk uit

Johannes ·

Zuma en Shaik is albei besondere karakters, Hoop dat die howe die vertoue in die regstelsel kan herstel deur die twee vir ‘n baie lang tyd op te sluit, sonder enige spesiale gunsies. Terselfdertyd sommer al die dokters en medepligtiges wat die lagwekkende gemors veroorsaak het ook. Hoe kan ‘n persoon wat kastig sterwend was en wat om mediese redes verskoon en vrygelaat word na al die jare nog rondrakker.
dat Klou vir alles wat hulle werd is se rol as ‘n mo.hy in sy mediese parool hopeloos gehoop het, te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.