
Oudpres. Jacob Zuma se private woning in Nkandla, KwaZulu-Natal (Foto: @power987news, Twitter)
Jacob Zuma mag dalk Nkandla kwyt wees omdat hy nie die lening van R7,3 miljoen, wat hy van die berugte VBS Bank ontvang het, kan terugbetaal nie.
Volgens berigte op eNCA en in Business Day het die bank se likwidateur die volle bedrag van die rekening verlede maand geëis, maar Zuma het ʼn kennisgewing ingedien dat hy van voorneme is om die dagvaarding teen te staan.
Die voormalige president het egter die sperdatum om sy pleidooi in te handing gemis en nou mag die aanklaer die saak na die hof verwys vir verstekvonnisoplegging.
Volgens die dagvaarding wat in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg uitgereik is, het Zuma al sedert Augustus verlede jaar versuim om sy lening terug te betaal en kan die eiendom dalk nou teruggeneem word, berig Business Day.
VBS Mutual Bank het verlede jaar gesluit nadat R2 miljard na bewering deur sy direkteure gesteel is. Al vyf van die direkteure is sedertdien gesekwestreer.
“Zuma het nie daarin geslaag om sy maandelikse paaiemente te betaal soos wat ooreengekom is nie. Dit is kontrakbreuk,” het die likwidateur luidens berigte in die dagvaarding gesê.
Die oorspronklike lening tussen Zuma en VBS is in 2016 aangegaan om die regering terug te betaal vir die geld wat Zuma onregmatig gebruik het om verbouings by Nkandla aan te bring. Dit nadat Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer bevind het dat Zuma staatsgeld gebruik het vir die R200 miljoen opgraderings aan sy huis.
Toe hy in 2018 uit sy pos as president verwyder is, het Zuma gesê hy is te arm om sy regskoste te betaal, nadat die Pretoriase hooggeregshof beslis het dat hy nie staatsgeld kan gebruik om sy regskoste te dek nie. Hy het al aan sy ondersteuners gesê dat hy van sy klere moes verkoop, berig Business Day.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
39 Kommentare
Die ou mense het gesê : kierantjies braai uit….
Kry vir jou Zuma, kry vir jou.
My aarde, hoe so?
Dalk moet hy die manne in Dubai vra vir ‘n kleinerige ou leninkie.
Sy seun kan en sal hom help
Wat sal jy in elk geval ekonomies met die eiendom kan aanvang as iemand dit sou koop ?
Sjoe, en ons moet dit glo?? Jy het nie geld nie, sure!