Jacob Zuma vir al die verkeerde redes onthou

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Jacob Zuma sal sekerlik in die geskiedenisboeke opgeteken word as een van die swakste en mees omstrede leiers wat die suidelike deel van die vasteland tot dusver opgelewer het.

Dit is die mening van politieke leiers wat met Maroela Media gesels het oor Zuma se tyd as Suid-Afrika se president kort voordat hy bedank het.

Zuma het uiteindelik besluit om te bedank nadat hy deur middel van ‘n mosie van wantroue verwyder sou word. Dit nadat die land al amper twee weke lank asem ophou om te hoor wat die finale besluit oor die toekoms van die omstrede staatshoof is ná talle samesprekings met die leierskapsliggame binne die ANC.

Prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het gesê hy glo Zuma sal veral onthou word vir die omstrede wyse waarop hy die bewind van die regerende party en die land oorgeneem het. “Te midde van dit alles het Zuma aan bewind gebly en is daar ook nog gesukkel om van hom ontslae te raak.

“Hy sal onthou word vir sy skakeling met die onderwêreld van die politiek waar hy deur die taxi-bedryf en die politieke mafia ondersteun is. Hy het in sy tyd as leier die veiligheidsomgewing gemanipuleer om mag te behou deur ʼn stelsel van kaderontplooiing en patronaatskap, en het gepoog om daardie mag tot die bitter einde te behou.”

Duvenhage het gesê hy dink nie iemand sal ooit vir Zuma as ʼn held onthou nie.

Argieffoto

“Daar is gerugte dat Zuma reeds in sy tyd as hoof van veiligheid in die ANC se Quatro-aanhoudingskampe in Angola misdaadelemente gebruik het en dat hy later net dieselfde soort elemente in die staat geïnstitusionaliseer het.

“Hy het die vermoë gehad om altyd sy eie belange eerste te plaas en dié van die staat was sekondêr.”

Prof. Amanda Gouws, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, beaam hierdie siening oor Zuma: “Hy was telkens bereid om belastingbetalers se geld en die staat te gebruik tot sy eie voordeel – ek dink daar is baie min positiewe dinge waarvoor hy sal onthou word.

“Wat vir my uitstaan is dat Zuma nooit ʼn eerbare man was of is nie. Hy het geen begrip vir geslagsgelykheid gehad nie, hy het dan op die rug van ʼn verkragtingsaak president geword.

“In sy tyd as president is die staat so uitgehol dat die staatskas nou met ʼn geweldige tekort sit en boonop het sy presidentskap gesorg vir ernstige politieke onstabiliteit in Suid-Afrika.”

Sy het verwys na ʼn onlangse middelbladberig in die Mail & Guardian. Dié koerant het 182 voorblaaie met berigte oor Zuma geplaas. “En hy het elke keer vir die verkeerde redes die voorblad gehaal.”

Die era ná Zuma

Cyril Ramaphosa (Foto: ANA)

Duvenhage maan egter dat daar die afgelope tyd dalk ʼn te groot fokus was op Zuma en wat met die staatshoof moet gebeur. “Dit handel egter nie nou net oor een persoon nie – daar is ʼn hele politieke netwerk van gevestigde belange wat sal ontrafel sal moet word. Dit verklaar ook waarom Zuma so aan sy posisie geklou het.

“Almal praat nou oor Zuma maar weet ons werklik wat gaan gebeur noudat hy geval het?

“Almal kyk eufories na Cyril Ramaphosa en dink hy moet ʼn towerstaf swaai om alles reg te ruk, maar ʼn hele stelsel kom nou in sy totaliteit onder druk met Zuma se bedanking.

Duvenhage het gesê daar is ʼn sterk mobilisasie vanuit KwaZulu-Natal, ʼn provinsie wat vir die eerste keer in jare nie verteenwoordiging in die top-leierskapstrukture van die ANC het nie, wat teen die regerende party kan swaai en strukture maklik kan ondermyn as hulle nie gelukkig gehou word nie.

“Dit kan die ANC sy 2019-verkiesing kos as hierdie partye binne die ANC se belange nie reg gehanteer word nie. Sou die ANC die verkiesing verloor, sal die land se politieke speelveld heeltemal verander.”

Hy meen Ramaphosa geniet tans groot steun, maar gaan hy almal wat hom nou dra kan akkommodeer met posisies? “Iewers gaan iemand uitgesluit en ontevrede voel.

“Verder is daar talle uitdagings, veral op ekonomiese vlak soos met Eskom. Hoe gaan Ramaphosa dit hanteer en herstel?

“Hierdie is nie ʼn maklike politiese tyd in Suid-Afrika nie. Wat post-Zuma gebeur is die groter werklikheid wat in die volgende jaar sal afspeel en ʼn mens moet dít dalk eerder ontleed.”

Wat moet nou gebeur?

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die twee ontleders meen daar is ʼn paar dinge wat nou gou ná Zuma se bedanking sal moet gebeur om die land op ʼn beter politieke en ekonomiese pad te plaas.

Volgens Gouws is Suid-Afrikaners optimisties oor Ramaphosa as leier van die regerende party en die land en daarom glo sy hy sal so vinnig as moontlik self die staatsrede moet lewer.

“Die volk wil nou ʼn goeie boodskap hoor en hulle wil uit Ramaphosa se eie mond hoor wat sy planne vir die land is.”

Dit sal dalk ʼn uitdagende taak wees, meen Gouws. Hy sal moet verduidelik hoe die tekort op die staat se rekening aandag gaan kry en wat hy beplan met die kwessies van staatskaping en korrupsie.

Duvenhage het gesê Ramaphosa sal homself so gou as moontlik as ʼn strategiese en visionêre leier moet bewys.

“Ramaphosa sal die ANC op ʼn grondslag moet plaas wat hulle weer ʼn kompeterende party maak. Tans is hulle net te disfunksioneel daarvoor.

“Hy sal beslis oor die vrese rondom grondonteiening moet besweer en hanteer, terwyl hy beheer van die land se politieke, ekonomiese en maatskaplike uitdagings neem. Dit is ʼn reuse-uitdaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hans ·

14 Feb moet nou leke jaar n publieke vakabsie dag wees. Dink net hoe bevoordeeld die sal voel wat valantyns vier. Jammer ek doen dit nie, doen dit elke dag.

Anton J Jansen ·

Iemand wat dink CR het ‘n ligte taak op hande, droom soveel soos Zuma. Om af te breek is maklik, maar om op te bou vat tyd. Die sukses van Ramaphosa gaan nie deur hom alleen bepaal word nie, maar deur elke persoon in hierdie land se toegewyde ondersteuning.
As CR slim is – tenminste slimmer as Zuma – sal hy ‘n groter en sterker nalatenskap as selfs Madiba kan bewerk deur die hele volk se vertroue in die ANC én swart leierskap terug te wen en ‘n daadwerklike diens aan alle Suid-Afrikaners te lewer. Nou is ook die tyd vir ons almal om die verlede wat gerieflikheidshalwe kunsmatig aan die lewe gehou word, finaal die knoppie te druk en dit af te skakel. Die vooruitgang in hierdie land gaan nie ‘n eenmanpoging kan wees nie, maar ‘n massaveldtog waartoe elke landsburger ‘n positiewe bydrae sal moet lewer. Vra jouself af: Waar kan ék begin met die opbou van hierdie land en sy mense?

Hans ·

Oooooo ek kan sien hoe gaam van die ander jou komentaar kritiseer en afbreek. ek moet sê van my kant af kon ek dit nie beter gestel het nie. Die groot vraag op almal se lippe is grondhervorming en die opsetlike uitmoor dery van ons boere, wat gaan daar gebeur?

Wurmpie ·

Hy het gekies om so onthou te word. Nou wil ons hom net nog in die tronk sien vir alles wat hy oor onthou word

Tokkie ·

Daar is n hele aantal ministers wat nog in die staatsdiens is wat die korrupte dade saam met hom uitgevoer het – hulle moet ook bedank of afgedank word !!!!

John ·

Diegene wat telkens vir Zuma gestem het wanneer hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas is, is verdag maar sal nou hul baste wil red deur Cyril te besing. Hoe wakker verstand en hoe gebalanseerd ons nuwe leier is, sal ons weldra uitvind ~ hopelik nie weer net ‘n skok nie. Al die semi-staatsinstellings is onder beleg met lee beursies en miljoene oppertuniste stroom na kampusse vir beter dae. Indien Sjina sy goue handjie hierheen uitsteek en hulp verleen, sit Cyril oor 10 jaar met ‘n klomp Sjiaane in Saxonworld naas ons ander vrolike uitlandse skeppers agter hoe mure en sug van weelde en ons…

Nettie ·

Swakste president wat daar nog was………………… sal onthou word vir al die skelmstreke en korrupsie. Hy moet nou net aangekla word …………………………

Theresa ·

Absoluut. Hy kon nie so disrespekvol teenoor ‘n hele land se mense optree en nou op ‘n stoep gaan sit en met ‘n giggel net maak of niks gebeur het nie. Topposisie verg top optrede. Hy kon dit nooit bied nie.

EMMA ·

Lank gewag vir die vreugdevolle dag. Maar nou sal almal aan die werk moet spring om die mooi land te red van die afgrond. Dan weet hy konsuis nie wat het hy verkeerd gedoen nie. Grap!!

ontevrede leser ·

wat my vraag is: waarom gaan lê ons “presidente” alewig in die buitelande, buurlande rond om hulle gemors te wil help regmaak, hoekom nie by hul eie huise en probeer dit skoonmaak nie, (seker te kortsigtig om hul eie foute raak te sien)(te veel rooi miere)

Jacques Venter ·

As n rugby speler in n ernstige motor ongeluk was en verpleeg is in icu, sal hy nie die volgende dag vir die Springbokke kan speel nie.

Ramaphosa erf n land op die rand van n afgrond. Hy erf ook al die “Presidents Keepers”

Moet asb nie gou wonderwerke verwag nie

Gerhard ·

Ek verwag geen wonderwerke nie. Maak ‘n punt van wat jy hier vandag geksryf het en kom dan terug daarna wanneer CR se termyn verstrek. Kyk dan waar jy gefouteer het in jou denke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.