Jacques Pauw: ‘Ek is nie bang vir inhegtenisneming’

Jacques Pauw, die skrywer van The President’s Keepers, by die bekendstelling van die boek in Pretoria (9 November 2017). Foto: ANA

Die joernalis en skrywer Jacques Pauw het Donderdag gesê hy is nie bang om in hegtenis geneem te word oor die skokkende onthullings in sy boek The President’s Keepers nie.

Dit kom nadat die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) Woensdag strafregtelike aanklagte teen Pauw by die polisie ingedien het. “Die Valke sê dit is nie ʼn aanklag nie, dit is slegs ʼn klagte. Ek glo nie een van die twee nie. Ons beraadslaag Vrydag met ons senior regspan en ons sal ʼn aansoek om borgtog voorberei indien ek in hegtenis geneem word,” het Pauw gesê. “Ons weet nie, enigiets kan gebeur.”

Hy het gepraat by die bekendstelling van The President’s Keepers – Those Keeping Zuma in Power and out of Prison in Pretoria.

Die TV-aanbieder Nkepile Mabuse het ʼn onderhoud met Pauw by die bekendstelling gevoer en dit gestel dat om in hegtenis geneem te word vir die oortreding van die Wet op Intelligensiedienste “goeie nuus” sal wees, omdat dit net bevestig dat die inligting in die boek wel waar is.

Pauw het reageer: “Ek kan nie sien hoe hulle my kan aankla as ek valse inligting gepubliseer het nie, want dan sou ek glad nie die wet oortree het nie. As ek nie die inligting gepubliseer het wat hulle juis nie wil hê gepubliseer moet word nie, sou hulle my nie aangekla het nie. Dieselfde geld vir die SAID (Suid-Afrikaanse Inkomstediens) wat meen ek het die Wet op Belastingadministrasie oortree deur belastingbetalers se inligting te publiseer. As ek nie korrekte inligting van die belastingbetaler publiseer het nie, kan dit nie ʼn misdaad wees nie.”

Jacques Pauw, die skrywer van The President’s Keepers, by die bekendstelling van die boek in Pretoria (9 November 2017). Foto: ANA

Brian Fikani Dube, woordvoerder van die SVA, het Donderdag aan Maroela Media die aanklagte teen Pauw bevestig. Die Valke het ook bevestig dat die moontlikheid dat geklassifiseerde inligting in die boek gelek is, ondersoek word. Brig. Hangwani Mulaudzi van die Valke het gesê twee sake is na die eenheid verwys vir ondersoek.

Mulaudzi het gesê daar is geen lasbrief vir Pauw se inhegtenisneming uitgereik nie. Hy wou nie verdere kommentaar oor die saak lewer nie.

Honderde mense het Donderdag in lang rye by die Brooklyn-winkelsentrum gestaan om Pauw se handtekening te kry nadat hulle die boek gekoop het. Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het ook die geleentheid bygewoon.

Die SVA het sedert die boek uitgereik is twee briewe aan Pauw en die uitgewers gestuur waarin hulle eis dat The President’s Keepers onttrek en die verspreiding daarvan gestaak word. Die SVA voer aan daar is talle feitefoute in die boek en dat inligting wat in die boek onthul word “nasionale veiligheid bedreig”.

Van die bewerings in die boek sluit in dat pres. Jacob Zuma tydens die eerste paar maande van sy presidentskap ʼn salaristrekker was by Royal Security en ʼn maandelikse salaris van R1 miljoen ontvang het. Hy het na bewering ook versuim om belastingopgawes tydens die eerste paar jaar in sy amp as president in te dien. Pauw ontbloot ook ʼn beweerde komplot deur Zuma om sy massiewe R63 miljoen-belastingrekening te ontduik.

Pauw beweer ook Tom Moyane, die SAID-kommissaris, help Zuma om sy belastingverpligtinge te ontduik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Domvraag ·

As dit waar is dan is dit die mees veragtelikste dat jou president geen integriteit of respek vir sy amp het nie. Kan n mens so korrup wees?

Jacques venter ·

Ek kan alle mense aanraai om die boek te koop. Dit bevat inligting wat in geen geskiedenis boek opgeteken gaan word nie.
Ek het die Kindle weergawe gekoop.
Glo my hierdie boek gaan beleggings waarde hê.

Cherokee ·

Die digitale weergawe kan mos nie beleggerswaarde hê nie Jacques, maar die papierweergawe dalk wel.

Nico K ·

Baie goeie argument van Pauw. As hulle hom in hegtenis neem omdat hy vertroulike inligting gelek het, dan erken hulle alles is waar!

Willie ·

Die hartseer van alles is, die korruptes dink dit kom hulle toe…

Crystal ·

Jacques Pauw, jou boek gaan defnitief van die rakke af vlieg en die mees geleeste boek raak in die Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Staan vas.

Gogga ·

Baie geluk Mnr Pauw, ons staan bankvas agter jou! Dis LANKAL hoog tyd dat al hierdie gemors geopenbaar word. Hoe lank dink Zuma gaan hy nog wegkom met alles!! Sterkte vir jou en mag Hy jou bewaar.

Gogga ·

Baie geluk Mnr Pauw! Ons staan bankvas agter jou! Baie dankie dat jy alles blootgelê het- dit is LANKAL hoog tyd dat al hierdie korrupte gemors ooogevlek word. Mag Hy jou beskerm en bewaar!

Eish ·

Ek het groot bewondering vir die ondersoekende joernalis. Maak nie saak wie se hoenderhok hy die waarheidsjakkals in loslaat nie. Mag mense in hul duisende opruk met die hofsaak.

Ouma ·

Dit is n skande dat die man wat ons President genoem word op die SABC 2 nuus die naam van ons Here gebruik toe hy lag oor die boek – weet hy wie die Here is. Die ding moet liewers op sy kniee gaan en die Here vra om hom en ons land van korrupsie te verlos en nie lag daaroor nie.
Maar dit is so – hy is ongeskoold so ek glo nie hy ken die Here nie. Ek hoop iemand kan hom verduidelik wie die Here is maar ek glo nie hy sal verstaan nie.

T. van Schalkwyk ·

So, Jacques Pauw is oornag ‘n nasionale held omdat hy Jacob Zuma se sondes geboekstaaf het?

Stadig tog net oor die klippe.

En konsentreer vir ‘n slag op die “Keepers” en nie slegs op die “President” nie.

Ano ·

En so is Gerrie Nel en Afriforum DOODSTIL? Geen aanbod om hom te help nie?

Therese van Schalkwyk ·

Waarom altyd van AfriForum verwag om tot die redding te kom?
Pauw het tog sekerlik genoeg linksgesinde vriende wat hulp kan aanbied. Hulle was almal baie angstig om die ANC aan bewind te skryf.
Hy verdien heelwat met sy boek om Suid-Afrikaners te vertel wat hulle tot groot mate reeds geweet het, so kan heel waarskynlik sy eie verdediging bekostig sou dit nodig wees.

Alida ·

Waaroor kerm julle oor Gerrie Nel? Wat het hy hiermee te doen? Dink tog net vir ‘n slag logies. Dinge sal gebeur soos dit moed. Hou net op hamer op Gerrie Nel.

Alida ·

Het enigiemand wat so kerm oor Gerrie Nel van hom geweet voor hy die Pistorius saak hanteer het. Hy is nie ‘n god nie maar ‘n doodgewone mens. Hy sal die vervolgings doen as dit op sy pad kom en die mandaat het om dit te doen. Moenie hom oral insleep nie. Elke regsgeleerde en/of Advokaat kry ‘n mandaat en handel daarvolgens.

CHRISTA ·

Ek hoop die uitgewers gee vir Jacques Pauw ‘n GROOT bonus!! Hierdie boek gaan vir hulle miljuisende maak!! Kyk na die bonusse wat die Besturende Direkteure van ESKOM en SAA en TRANSNET kry en DIT nadat hulle hierdie staatsinstansies in die grond in bestuur!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.