Jacques Pauw kap Malema in ope brief

Jacques Pauw, die skrywer van The President’s Keepers, by die bekendstelling van die boek in Pretoria (9 November 2017). Foto: ANA

Die skrywer en ondersoekende joernalis Jacques Pauw het Julius Malema, leier van die EFF, in ʼn ope brief aangevat nadat laasgenoemde ʼn verskoning van Pauw geëis het oor ʼn twiet.

Malema het ʼn brief aan Pauw gerig en ʼn verskoning geëis nadat Pauw oor Tom Moyane getwiet het. “Why is Dali Mpofu committing hara-kiri in defending Tom Moyane? Is it because they have a common friend: tobacco-man Adriano Mazzotti. Under Moyane, Mazzotti’s R600 m tax bill disappeared. He also paid EFF registration fee in 2014 and gave Malema a loan to help pay his SARS bill,” het Pauw getwiet.

Malema het hierna tydens ʼn mediakonferensie gesê hy het Pauw versoek om sy stelling dat Mazzotti sy belasting betaal het, terug te trek. “Die EFF het nog nooit ontken dat Mazzotti ons registrasiefooi in 2014 betaal het nie,” het Malema bygevoeg. Hy ontken egter dat Mazzotti vir hom geld geleen het om sy belasting te betaal.

Pauw het egter teruggekap na Malema in ʼn ope brief op Facebook. “Jy is reg. Ek was verkeerd om te sê jy het ʼn lening van Mazzotti ontvang om jou belastingrekening te betaal. Jy het in werklikheid ʼn lening van R1 miljoen van Kyle Phillips, ʼn sakevennoot van Mazzotti en mededirekteur van Carnilinx (ʼn onafhanklike tabakmaatskappy), ontvang. Daar was berigte hieroor in die Sunday Times en ander koerante in 2015. Die Sunday Times het jou regsverteenwoordiger aangehaal waar hy gesê het jy het die lening by Phillips gevat nadat ʼn ander weldoener jou nie betaal het nie.”

Volgens Pauw het die koerant berig dat Malema aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens erken het dat hy die R1 miljoen-lening van Phillips ontvang het. “Jy het nooit enige berigte ontken nie. Dit is daarom veilig om te sê dit is waar dat jy die lening van R1 miljoen van Phillips ontvang het.”

Pauw het ook gesê hy sal nie om verskoning vra aan Malema nie. “Dit is irrelevant of jy die lening by Mazzotti of Phillips gekry het, want ek sal vir jou wys hulle is misdaadvennote in Carnilinx. Phillips is die direkteur wat algemene bedrywighede hanteer en Mazzotti is in beheer van korporatiewe verkope en bemarking. Albei het ʼn 16,6%-aandeel in die maatskappy.

“Ek sal aan jou inligting verskaf dat jy moontlik onwetend die opbrengs van misdaad ontvang het deur die lening van Phillips te aanvaar. Dit geld ook vir die R200 000 wat Carnilinx in 2014 betaal het vir die registrasie van die EFF as politieke party.

Julius Malema. Foto: Twitter

“Toe ek en jy ʼn gesprek gehad het einde Oktober verlede jaar in die tyd dat my boek, The President’s Keepers, gepubliseer is, het jy Mazzotti as ʼn ‘broer’ beskryf. Ek wil jou verwys na ʼn beëdigde verklaring van 52 bladsye wat Mazzotti op 6 Mei 2014 onderteken het. Adriano Sauro Lorenzo Mazzotti het die beëdigde verklaring aan die SAID gemaak in ʼn poging om Carnilinx se belastingrekening, wat honderde miljoene rande beloop het, te vereffen. ʼn Bedrag van R600 miljoen word gereeld genoem.”

Volgens Pauw word daar in die verklaring erken dat Carnilinx soms korrupte en onwettige transaksies aangegaan het, waaronder die smokkel van tabak. ʼn Deel van die beëdigde verklaring lui: “Die kontant wat ontvang is, is aangewend om die mense na wie verwys is te betaal en die balans is deur die drie van ons in gelyke verhoudings behou. Ek wys egter daarop dat ʼn aansienlike bedrag van hierdie geld deur ons drie as maatskappy-uitgawes gebruik is, vir onder meer duur middagetes, die vermaak van sakelui, politici en ander mense.”

Pauw wou by Malema weet of hy bewus was daarvan dat hy moontlik geld ontvang het wat deur misdaad verkry is.

Volgens Pauw het Carnilinx se belastingrekening verdwyn toe Tom Moyane in Oktober 2014 by die Inkomstediens aangestel is. “Moet jy nie die SAID, die Valke en die NVG vra waarom bogenoemde misdade nie ten volle ondersoek en vervolg is nie aangesien jy so ʼn uitgesproke teenstander van korrupsie is? Mazzotti en die ander direkteure was bereid om skuldig te pleit aan oortredings van artikel 112 van die Strafproseswet. Hoekom is dit nooit gedoen nie? Wie beskerm Mazzotti, Phillips en die ander direkteure?”

Pauw sluit die brief af deur vir Malema te sê Mazzotti en Phillips is nie “koorseuns” nie en dat Malema daarvan bewus moet wees. “Jy moet weet dat Mazzotti met onsmaaklike karakters meng. Weet jy dat die apartheidsmoordenaar Craig Williamson een van sy sakevennote was? En dat daar foto’s is van jou en Mazzotti in die teenwoordigheid van die selferkende moordenaar en bendelid Mikey Schultz?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Elvira ·

Dankie mnr Pauw. Jy sal nie n antwoord ontvang vanaf Malema nie. Mens mag nie die waarheid in hierdie land op die lappe bring nie.

Koos de Meyer. ·

Te minste een persoon wat ruggraat het om sy kop vir hom te was. Wel gedaan Jakkie.

Mielie ·

Baie insiggewend. Iemand wat nie terug staan vir JM nie. Nou weet die publiek n bietjie meer. JM is niks beter as Zuma nie..Wonder waarmee hy nog betrokke is

Jerry ·

Ignoreer Malema, behalwe wanneer jy konkrete bewyse het soos mnr Pauw, dan looi jy vir Malema tot daar by oom Daantjie in die kaller hok!

Andrea van Vuren ·

The Presidents Keepers is die wonderlikste ding wat ons volk getref het. Dankie Jaqcues, vir jou moed en deursettingsvermoë. Moenie ophou skryf nie. Ek glo jy het nog baie om te openbaar!

Hannes ·

Kan ons net die bewoording rekry asb, mens kan nie skuldig wees of pleit aan oortreding v art 112 vd SPW nie. Mens pleit skuldig in terme van of ooreenkomstig art 112 aan ‘n ten laste gelegde misdryf. Art 112 stel ‘n proses v skuldig pleit daar nie ‘n misdryf nie. Dalk is mnr Pauw se brief net verkeerd vertaal in daardie opsig

Johan ·

Dankie Jacques Pauw, skitterende brief met feire wat JM waarskynlik nie kan betwis nie.

Wonder nou hoe JM apartheid gaan blameer in die geval? Afwagtend.

Eish ·

Ek hou van n man wat sy man kan staan,
ek hou van n arm wat n slag kan slaan,
n oog wat nie wyk, wat n bars kan kyk
en n wil wat so vas soos klipsteen staan.
Jan F.E. Celliers.
Met dank dat ek die berig lees wat die rooies se leier ontbloot vir wat hy is.

Abie vd Westhuizen ·

Alles goed en wel. In die laaste tyd hoor ons van soveel korrupsie en moontlike vervolgings maar heelaas…niks kom daarvan nie!! Sal graag wil sien dat die skuldiges, met al die bewyse vervolg moet word en aan die pen ry!!!!

Christien vd Westhuizen ·

Looi vir juluis malema hy dink hy is onaantasbaar mooi so

Pierre de Villiers ·

Ek haal my hoed af vir jou Jacques Paw, aangesien jy maar dikwels oor jou skouer moet loer.

Herms ·

Dankie Mnr Pauw DAT my, soos altyd die moed het om die waarheid te ontbloot.

Andre ·

Net vreemd dat die liberaliste deesdae so onder diegene inklim wat hul help plaas het op hul trone! Pauw se liedjie het sommer baie verander die laaste paar jaar.

jakes ·

Wel gedaan JP. Wonder net hoekom Julius so maer word? Hy lyk deesdae nie so goed nie.

Lana ·

Wanneer ‘n mens jou uitgee vir ‘n toffie, moet jy weet dat jy gekou gaan word.

Erik ·

Malema oppad om dieselfde chaos te veroorsaak as Mugabe. Gaan ons hier ook stilsit en dit toelaat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.