Jacques Pauw: Polisiebeampte glo van saak verwyder

Jacques Pauw, die skrywer van The President’s Keepers, by die bekendstelling van die boek in Pretoria (9 November 2017). Foto: ANA

Jacques Pauw, die ondersoekende joernalis en skrywer van die omstrede boek The President’s Keepers, het Dinsdag gesê die polisieondersoekbeampte wat die saak teen hom behartig het, is van die saak verwyder.

Pauw het in ʼn inskrywing op Facebook gesê kol. Reuben Govender het aangedring daarop dat Pauw en die skrywer Pieter-Louis Myburgh vandag in Durban aanmeld. Myburgh is die skrywer van The Republic of Gupta.

Pauw het gesê die beampte het geweier om te sê waaroor die saak gaan of wie die klaer is en wou ook nie bevestig of daar ʼn lasbrief vir Pauw en Myburgh se inhegtenisnemings uitgereik is nie. Pauw beweer egter die klaer is Roy Moodley, ʼn man wat hy bestempel as ʼn goeie vriend van pres. Jacob Zuma en die man “wat hom ʼn salaris betaal het terwyl hy president was”.

Pauw voer aan Govender het drie weke gelede probeer om ʼn lasbrief vir Pauw se inhegtenisneming in Pietermaritzburg te kry, maar kon nie daarin slaag nie. Hy het daarna Pauw se regsverteenwoordiger, Willem de Klerk, gekontak en geëis dat Pauw en Myburgh by die Durban-Noord-polisiestasie aanmeld.

“Ons het vandag [Dinsdag] ʼn brief van Govender af ontvang waarin hy ons weereens dreig dat ons ‘ontwykend’ is en sê dat hy ons al ʼn week gelede in hegtenis kon neem as hy wou. Hy het ook gedreig om aanklagte van dwarsboming van die gereg teen Willem de Klerk te bring,” lui Pauw se inskrywing.

Omslag van The President’s Keepers (NB Uitgewers)

Pauw het gesê hulle was in die proses om ʼn dringende aansoek voor te berei om voor die hooggeregshof in Durban te bring om Govender te verhoed om hulle in hegtenis te neem. “Voor ons dit kon doen, het [De Klerk] ʼn telefoonoproep van ʼn senior KwaZulu-Natalse polisiebeampte ontvang om hom in te lig dat Govender van die saak verwyder is. Die saak is ook weggeneem by die Durban-Noord polisiestasie,” beweer Pauw.

Hy het gesê die hoof van speurdienste in KwaZulu-Natal is nou in beheer van die saak teen hom en Myburgh. “Ons hoef nie meer aan enigiemand te rapporteer nie en daar is geen verdere dreigemente van inhegtenisneming nie. Dit is ʼn groot verligting. Dankie aan almal wat ons ondersteun het.”

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het by navraag van Maroela Media gesê hy lewer nie kommentaar op sake wat ondersoek word nie. “Wanneer daar ʼn geval is waar ʼn beweerde moontlike verdagte kies om in die openbaar inligting oor die saak te deel, is dit hulle prerogatief. Maar ons, as ʼn erkende staatsentiteit, hoef nie daarby aan te sluit nie, aangesien daar wetgewing is wat dit reguleer,” het hy gesê.

The President’s Keepers het sedert sy publikasie wyd opslae gemaak en daartoe gelei dat die Staatveiligheidsagentskap (SVA) verskeie kere vir Pauw en die boek se uitgewers versoek het om die boek terug te trek. Die SVA voer aan Pauw het deur die publikasie van sommige inligting in die boek verskeie artikels van die Wet op die Intelligensiediens oortree.

Sommige van die bewerings in die boek sluit in dat pres. Zuma tydens die eerste paar maande van sy presidentskap ʼn salaristrekker was by Royal Security en ʼn maandelikse salaris van R1 miljoen ontvang het. Hy het na bewering ook versuim om belastingopgawes tydens die eerste paar jaar, in sy amp as president, in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Justice ·

Maak Jacques Pauw die hoof van Inteligensie – hy het homself deur en deur bewys as uiters bekwaam vir die pos.

ne ·

Hulle hap ‘n “bubble” om julle te probeer opskroef! Hoop nog iemand kry ‘n bloedneus in die hof. Julle is ons hero’s met die boeke. Nou weet ons hoe korrup SA geword het. Baie dankie aan albei van julle – ons is trots daarop dat julle nie net swyg nie….

Cherokee ·

Ek dink nie julle weet wie Jacques Pauw is nie. Dit is waarom julle hom so komplimenteer. Waarom dink julle is Du Preez se naam op die omslag van sy boek? Boesemvriende so ver my kennis strek en ek het rede om te dink dat julle nie De Klerk kan verneder en Pauw komplimenteer nie. Een van die mense wat geveg het daarvoor dat Suid Afrika nou is waar dit is.

Justice ·

Wel Andre hy het eiehandig meer feitlike inligting aangaande korrupsie in die Zuma / Gupta regering na vore gebring as wat enige party leier kon droom om te doen – dan het hy nog die moed gehad om dit publiek te maak en sy lewe op die spel te plaas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.