Jacques Pauw ‘verleë’, ‘jammer’ ná voorval by V&A

Jacques Pauw. (Foto: ANA)

Die skrywer en joernalis Jacques Pauw het om verskoning gevra vir sy optrede nadat hy by die V&A Waterfront in Kaapstad in hegtenis geneem is en ʼn rubriek wat hy daaroor geskryf het.

Pauw is op 6 Februarie in hegtenis geneem kort nadat hy saam met nog ʼn persoon by ʼn restaurant by die Waterfront geëet het. Hy het geld by ʼn OTM probeer trek om sy rekening by die restaurant te betaal nadat sy kredietkaart glo nie wou werk nie.

In ʼn rubriek wat Pauw vir Daily Maverick geskryf het en wat Vrydag verskyn het, het hy vertel van die “vernedering” wat hy moes verduur en die haglike omstandighede waarin hy glo aangehou is.

“Toe ek ʼn kitsbank gaan soek het om geld te trek, het drie polisielede op my toegesak, my geboei en my na ʼn kantoor êrens binne die Waterfront gesleep. Hulle het my daarvan beskuldig dat ek R1 600 van die kelner gesteel het,” het Pauw in die rubriek, wat intussen van Daily Maverick se webwerf verwyder is, geskryf.

Volgens Pauw is hy hierna na die Tafelbaaihawe-polisiestasie geneem waar ʼn saak van diefstal teen hom aanhangig gemaak is. “Nadat ek my skoenveters losgemaak het, is ek na ʼn aanhoudingsel met ʼn dowwe lig geneem. Daar was drie sement stapelbeddens, ʼn gebreekte stort, ʼn kraan en ʼn vuil toilet in die hoek wat ʼn mens nie durf gebruik het nie. Ek het ʼn kombers gekry. Geen seep nie (in die tyd van Covid). Geen toiletpapier nie. Niks.”

Pauw is die volgende dag op waarskuwing vrygelaat en het die Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

In die rubriek het Pauw ook beweer dat hy R1 000 kontant by hom gehad het en dat die polisiebeamptes wat hom in hegtenis geneem het, dit waarskynlik gesteel het.

Pauw het gister ʼn verklaring uitgereik waarin hy om verskoning vra vir sy optrede asook die rubriek, en waarin hy die inligting in die rubriek regstel.

Hy ontken die aanklagte teen hom en hou vol dat sy inhegtenisneming en aanhouding onwettig was.

“Ek het die artikel geskryf omdat ek emosioneel, kwaad en verneder was weens die hele ervaring. By nadenke en bykomende bewyse wat aan my verskaf is, het ek besef dat daar foute in my artikel is.”

Volgens Pauw het hy die aand te veel gedrink en was sy geheue vaag. Hy het Maandag met die restauranteienaar en ʼn bestuurslid van die Waterfront vergader. “Hulle het vir my sekere feite uitgewys en verduidelik. Ek het verkeerd opgetree en wil om verskoning vra vir my gedrag.”

Die artikel in Daily Maverick het volgens Pauw die indruk geskep dat die restaurantbestuurder of die kelner of iemand van die Waterfront die polisie gekontak het om hom in hegtenis te neem. Volgens Pauw was dit egter nie die geval nie en was die drie polisiebeamptes wat hom in hegtenis geneem het reeds naby die Waterfront nadat hulle op ʼn onverwante saak reageer het.

“Hulle het gevra wat gaan aan. In die hitte van die oomblik het ek my humeur verloor en onbeskof opgetree. My eie aksies het ʼn rol daarin gespeel dat ek in hegtenis geneem en aangehou is.”

Pauw het intussen ook vasgestel dat die polisiebeamptes nie die kontant wat hy aan hom gehad het gevat het nie en hy het hulle om verskoning gevra.

Die restauranteienaar is glo in die proses om die aanklagte teen Pauw te laat terugtrek en Pauw het die Sondag nadat hy op waarskuwing vrygelaat is sy rekening vereffen.

“Ek vra om verskoning aan die restaurant, die V&A Waterfront en die polisie. Ek voel verleë oor my optrede. In hierdie era van fopnuus, propaganda en ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid moet ek in die openbaar verantwoordelikheid aanvaar vir my eie aksies en daarvoor om verskoning vra. Dit is die regte ding om te doen.”

Pauw het ook om verskoning gevra aan Daily Maverick en dié se redakteur vir die verkeerde weergawe van gebeure in die meningstuk wat hy geskryf het.

Daily Maverick het in ʼn kennisgewing wat by die artikel aangebring is voordat dit verwyder is, gesê Pauw se skrywe is gepubliseer nadat hulle die restaurant, die polisie en die V&A Waterfront om kommentaar genader het. ʼn Versoek om die beeldmateriaal van kringtelevisiekameras by die Waterfront te bekom is glo ook van die hand gewys.

Volgens Daily Maverick het Pauw toegegee dat hy gedrink het, maar dat hy hulle die versekering gegee het dat sy weergawe korrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Nee regtig my ou, wat maak jy?
Kan ek gou iets oor jou skryf in my rubriek Wielspore.
Hou op met drink as jy dit nie kan handteer!

Misky

Dit vat ‘n man om sy fout te erken en omverskoning te vra. Nie maklik nie en min mense doen dit deesdae.

Snowball

Dit vat ‘n man om te erken en verskoning te vra.. Gelukkig het hy nog skaamte en kan verleë raak.
So heeltemal anders as party wat eenvoudig die vinger wys vir die Konstitusionele Hof en skuld ontken al is daar bewyse van korrupsie en diefstal so hoog soos Tafelberg wat oor hulle troon.
Maar soos my Engelse onderwyseres Miss Mills altyd gesê het : ‘When you take pen in hand, do not let it get out of hand!’

Anti-Verkramp

Ja nee wat, mens moet maar jou drankies neem met groot omsigtigheid bejeen.

AndrewL

Ek het al die jare agting gehad vir Jacques, maar nou sal ek vir altyd sy artikels versigtig en met agterdog beoordeel en benader. Dit het so maklik geword om die polisie altyd van alle verkeerde dinge te beskuldig – net omdat hul dit kan doen. Jacques is die een wat moet weet dat geen verskoning die verkeerde indruk wat geskep is ooit sal kan uitwis nie. Die publiek sal vir jare nog die polisie se sg. verkeerde optrede veroordeel. Dit terwyl hy sy eie gat gegrawe het omdat hy nie weet wanneer om op te hou drink nie. Die… Lees meer »