Jacuzzi-slagoffer ondergaan vierde operasie

Ilse-Marie en André van Huyssteen by hul seuns, Dwayne en Dandré. André sal hopelik binnekort bygebring kan word ná die ongeluk wat amper sy lewe geëis het. Foto: Verskaf

Die man van Krugersdorp wat reeds langer as twee maande in die waakeenheid is nadat hy in ʼn jacuzzi-ontploffing beseer is, het gister vir die vierde keer ʼn operasie ondergaan.

Vog is gister tydens ʼn prosedure in Pretoria se Steve Biko-hospitaal van André van Huyssteen (30) se brein gedreineer. Sy vrou, Ilse-Marie, sê die plan is om hom ʼn paar dae lank onder sedasie te hou, waarna die dokters hom wil begin wakker maak.

Die egpaar het op 8 Augustus by vriende in Pretoria gebraai en in hul jacuzzi ontspan toe die verwarmingstoestel ontplof het. ʼn Stuk hout van die dek rondom die jacuzzi het Van Huyssteen teen die kop getref en sy kop só diep binnegedring dat dit eers die volgende dag tydens ʼn operasie in die Steve Biko-hospitaal verwyder kon word.

Terwyl hy in die waakeenheid gehou is, moes ʼn tweede operasie uitgevoer word om sy breinvlies te heg. Later is hy ʼn derde keer teater toe nadat die wonde van die ongeluk oopgetrek het.

“Hy is nog nie wakker nie,” het Ilse-Marie eergister vertel, “maar hy toon reaksie en reageer byvoorbeeld wanneer ek sy voete kielie.” Sy ry amper elke middag van Krugersdorp af Pretoria toe om by die pa van hul twee kinders, Dwayne (9) en Dandré (3), te waak en bid.

Van Huyssteen het gesê sy is dankbaar vir die wonderwerk dat haar man nog lewe. “André moes menslik gesproke op slag dood gewees het in die ontploffing,” meen sy.

Sy glo dis danksy haar volgehoue gebede in die eerste maand van sy hospitalisasie dat die vogafskeiding van sy kopwond uiteindelik begin September opgehou het. En sy sien daarna uit dat hulle nadat hy herstel het, baie nader aan mekaar sal wees as voor die ongeluk.

Ilse-Marie vra mense moet aanhou bid vir André se volkome herstel en bedank almal wat dit reeds getrou doen.

Diegene wat belangstel om in te skryf vir die gholfdag wat vir 13 November by Krugersdorp se gholfklub vir André van Huyssteen gereël word, kan Marius Higgings Ministries International se Facebook-blad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

Ilse-Marie, hou aan Glo en Vertrou en weet dat God Andre sal dra deur die moeilikke tyd. Sterkte aan jul,

linda limbo ·

ons bid saam met jou bly sterk
Jesus gaan äfshow en ‘n wonderlike wonderwerk hier doen!
sterkte

Wollie ·

Hoe ontplof n warmbad, ek dag die water word warm gemaak d.m.v. n element soos in n ketel, of bou dit druk erens op

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.