Jag noodsaaklik vir kosvoorsiening – kenners

(Foto: pixabay)

Saai, ʼn organisasie wat na die belange van familieboere omsien, werk onverpoos om die verantwoordelike heropening van die jagbedryf te bewerkstellig. Dit volg ná die EMS-stigting ʼn beroep op verskeie regeringsdepartemente gedoen het om die handel en verbruik van wildvleis in Suid-Afrika in die lig van die Covid-19-pandemie te verbied.

Saai het Woensdag sy mening sterk uitgespreek oor die reuserol wat die wild- en jagbedryf ten tyde van die Covid-19-pandemie speel om honger te verlig, asook die ekonomie weer ʼn hupstoot te gee.

Saai doen ʼn beroep op die regering om die jagbedryf as noodsaaklike bedryf te prioritiseer aangesien dit ʼn reusebydrae kan lewer om honger te help verlig in kwesbare gemeenskappe.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê ʼn blywende voorbeeld hiervan is Helpende Hand se jagprojek waar jagters sedert 2018 ongeveer 30 000 kg vleis aan dié inisiatief geskenk het en 8 000 behoeftige kleuters van gebalanseerde maaltye voorsien het.

Rossouw lig ook die wesenlike bydrae uit wat die wildbedryf tot die Suid-Afrikaanse ekonomie deur middel van werkskepping en toerisme kan maak.

“Voorts benut die wildbedryf van Suid-Afrika se mees marginale grond om buitelandse valuta te verdien én van die mees gesonde, eko- en klimaatvriendelike organiese rooivleis te produseer. Biodiversiteit word ook bevorder deur spesies te bewaar wat daarsonder lankal sou uitsterf.”

Rossouw sê die wildbedryf in Suid-Afrika kan nie met die Chinese markte en omstandighede waar die virus uitgebreek het, vergelyk word nie. Hy meen wildvleis word al baie jare na die buiteland uitgevoer sonder enige voorvalle wat met soölogiese siektes verband hou.

“Die verskil tussen Chinese markte en die wildbedryf is die feit dat daar by die Chinese markte nabye kontak tussen diere is terwyl wild in Suid-Afrika vrylopend is. In Suid-Afrika eet ons nie eksotiese spesies nie. Ons abattoirs is hoogs gereguleer en die inspeksie van vleis voldoen aan streng standaarde,” sê Rossouw.

Dieselfde mosie wat die eet en slag van wildvleis asook die uitvoer daarvan verbied, is ʼn week tevore ook deur die European United Left/Nordic Green Left-groep in die Europese Parlement ter tafel gelê. Dié mosie is egter verslaan met 449 stemme teen en 186 stemme ter ondersteuning van die mosie.

“Die uitslag van die stemming stuur ʼn duidelike boodskap aan diereregte-groepe, wat die Covid-19-pandemie misbruik deur alle middele te benut om jag- en ander aktiwiteite wat volhoubaar is in Europa te beperk,” het die Europese Federasie vir Jag en Bewaring (FACE) in ʼn mediaverklaring ná afloop van die stemming gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Joggie ·

Stem saam, dit behoort dringend tot ‘n noodsaaklike bedryf geklasifiseer te word!

Jaco ·

Wildsvleis is BAIE duur, so al word jag en die bemarking van wildsvleis ook tot noodsaaklike bedryf tydens inperking verklaar, gaan bitter min mense dit koop. Basiese behoeftes is al wat nou tel.

Miskruier ·

Talle werkers leef op wildsvleis, noudat daar nie oorsese jagters is nie, kry hul nie vleis nie.

Jacobus ·

Goeie genade. Een of ander funksionaris (eintlik disfunksionaris) het te veel tyd op hande.
Enige ander persoon/instansie wat nie die verskil tussen die haglike toestande van Oosterse markte (en die Afrika styl bosvleis) en die streng toestande op selfs plaas abatoirs beleef het nie kan maar gerus hulleself in permanente isolasie laas – meeste van hulle breins is teeds daar.

Piesang05 ·

Stem glad nie hiermee saam nie. Jag is vir die welaf persoon wat geld het het om te mors. Tweedens dit sal op hierdie stadium geen toerisme lok nie,ons is in lockdown,lugvaart is in lockdown. So wie gaan kom skiet??

Ou Baardbek ·

Piesang05,
U verkies dus dat duisende diere eerder vrek van honger, en voedsel wat deur die Skepper aan die mens gegge is om met dankbaarheid te gebruik, sodoende verlore gaan, eerder as om hoger mense daarmee van kos te voorsien? Geluk met u redenasie!

DJ ·

Wildvleis is glad nie vir die welaf klas nie.

n Blouwildebees kan maklik op R30-R40 n kilogram uitwerk vir wors en mince.

Jy kan nie eers vark vleis vir daainbedrag kry nie.

SomeOne ·

die 30 ton vleis was ‘n goeie voorbeeld, maar die kaders wen nie daarby nie, so, hulle sal dit nie goed keur nie

Hendrik ·

Jaco, wildsvleis is baie goedkoper as bees of skaap. En ook baie gesonder. Jy hoef nie n jag te bespreek om wildsvleis te bekom nie. Dis vrylik in die mark beskikbaar.

PieterP ·

Die spul vleis wat geskenk was, was of van buitelandse jagters wat allegeval nie die vleis kan saamvat nie of van manne wat nog leer skiet. Gewone jagters soos ek het ‘n begroting en skiet vir die pot en leë bitong drade en mors nie. Jagseisoen moet mos nou oopmaak en die besprekings is geboek en betaal en nou kan dit nie meer nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.