’n Jagluiperd van die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria is steeds soek nadat dit vroeër vandeesweek uit die reservaat ontsnap het.
Die Stad Tshwane doen nou ’n beroep op besoekers en inwoners in die omgewing van die reservaat om waaksaam en op die uitkyk vir die blitsige groot kat te wees.
Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê die jagluiperd het Dinsdag ontsnap. Dit is nie in dié stadium duidelik hoe hy dit reggekry het nie. Hy het vermoedelik deur ʼn gat onder ’n heining – wat deur kleiner diere gegrawe is – uitgekom.
Die eienaar van die aangrensende eiendom het die jagluiperd vroeër vandeesweek opgemerk en dadelik die bestuur van die Rietvlei-natuurreservaat in kennis gestel.
Bokaba sê die natuurreservaat se heinings is geëlektrifiseer en geen jagluiperd het al voorheen uit die reservaat ontsnap nie. “Die heinings word daagliks gepatrolleer en herstelwerk word gereeld gedoen om voorvalle soos hierdie te voorkom.”
Die gesoekte jagluiperd is vroeër met behulp van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) se jagluiperd-uitbreidingsprojek by Rietvlei hervestig.
Die jagluiperd dra ʼn halsband wat seine uitstuur en lede van die EWT-projekspan is reeds op die spoor van die dier.
Aangrensende grondeienaars is ook gevra om dadelik die natuurreservaat te kontak indien hulle die jagluiperd gewaar. ’n Veearts is ook op bystand om die dier te verdoof.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Nou as EWT ‘n opsporingstelsel om sy nek het, hoekom is hy nog nie opgespoor?
Awww hy kan maar by my kom bly. Vrek oor hulle
Moet hom tog nou asb net nie skiet nie!
Ek hoop hy word weer veilig en ongedeerd na die natuurreservaat gebring.