Jagluiperd uit SA vrek in Indië

(Argieffoto: Pixabay)

Nóg ʼn jagluiperd, dié keer een uit Suid-Afrika, het in Indië gevrek nadat hy ongeveer twee maande gelede in dié land hervestig is.

JS Chauhan, ʼn bosbeampte van die Kuno Nasionale Park, sê Uday, die jagluiperdmannetjie, was Sondag olik en is verdoof om mediese behandeling te ontvang.

Hy het dieselfde dag gevrek.

“Toetse word gedoen om die oorsaak van sy dood te bepaal,” het Amit Mallick, verbonde aan Indië se nasionale tierbewaringsprogram, aan AFP gesê.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika en Indië het ʼn samewerkingsooreenkoms om jagluiperds weer in Indië te vestig. Tot dusver is 12 jagluiperds van Suid-Afrika en agt van Namibië na Indië geneem.

Volgens natuurlewebeamptes is Uday die tweede jagluiperd wat binne ʼn maand gevrek het. In Maart is Sasha, ʼn Namibiese jagluiperd, aan ʼn niersiekte dood.

Die owerhede sê hulle is nie van die kwaal ingelig voor die Namibiese groep cheetahs ses maande gelede na Indië vervoer is nie.

Kritici het gewaarsku dat die jagluiperds kan sukkel om in die Indiese habitat aan te pas weens mededinging vir prooi met die aansienlike hoeveelheid luiperds wat ook in die gebied voorkom.

Navorsers en wetenskaplikes van die Leibniz-IZW jagluiperdnavorsingsprojek in Namibië het onlangs gesê die hervestigingsprogram het “ruimtelike ekologie” geïgnoreer. Volgens hulle is die Kuno Nasionale Park veel kleiner as wat dié groot katte normaalweg benodig om te floreer.

Jagluiperds is in 1952 amptelik in Indië as uitgesterf verklaar. Die laaste Asiese jagluiperd wat op die subkontinent rondgedwaal het, is vermoedelik in 1947 deur ʼn Indiese prins gejag.

Jagluiperds is een van die oudste groot katspesies, met voorouers wat sowat 8,5 miljoen jaar terug dateer. Die groot katte het eens wyd deur Asië en Afrika in groot getalle voorgekom.

Vandag is daar egter net sowat 7 000 van hierdie spesie oor wat hoofsaaklik in die Afrika-savanne aangetref kan word.

Die hervestiging van jagluiperds in Asiese lande is ʼn prestige-projek vir die Indiese eerste minister, Narendra Modi, wat die vrylating van die diere in ʼn kamp ná hul aankoms daar gelei het.

Die program beoog om oor die volgende tien jaar sowat 100 jagluiperds in Indië te hervestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Om watter rede sal SA en NAM hulle ophou om jagluiperds in Indie te hervestig? Is dit politiek tot ook op hierdie vlak? Arme diere wat geen keuse het nie.

Miena ·

dis baie jammer. Dalk is daardie land net nie n geskikte plek vir n SA jagdier nie.

Cherokee ·

re
‘Suid-Afrika en Indië het ʼn samewerkingsooreenkoms om jagluiperds weer in Indië te vestig.’

In ruil vestig hulle Indiërs in Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.