Jagluiperds by Namibiese reservaat hervestig

Die jagluiperds het die risiko geloop om deur boere geskiet te word as hulle dalk hul vee sou vang (Foto: Skermskoot)

Twee jagluiperds is verlede maand by die Etosha Heights-natuurreservaat in Namibië hervestig ná hulle uit die Kalahari verwyder is.

Dié luiperds het waarskynlik in ʼn groot gebied tussen Botswana en Namibië rondgetrek. Die hervestiging is gedoen om te verhoed dat hulle boere se vee in dié gebied vang omdat hulle nomadiese diere is en moontlik deur bees- en skaaplandgoed kan beweeg. Dit is ook gedoen om te keer dat die luiperds dalk deur boere geskiet word omdat boere wil voorkom dat dié groot katte hul vee vang. Die diere is vroeg in Februarie uit die gebied verwyder.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Natural Selection-stigting was die jagluiperds in ʼn redelike toestand toe hulle gered is. Hulle is eers by eiendom van die Cheetah-bewaringsfonds in Otjiwarongo gehou voordat hulle by Etosha vrygelaat is. Met hul vrylating was hulle in ʼn baie beter toestand.

Die Etosha Heights-natuurreservaat is een van die grootste private reservate in Namibië. Sy wildbestuur en onlangse bewaringspogings maak dit ʼn ideale ligging vir die bewaring van jagluiperds.

Die reddingsoperasie is deur die Cheetah-bewaringsfonds behartig in samewerking met die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST), die Kameelperdbewaringstigting, die Etosha-natuurreservaat en die Namibiese departement van omgewingsake, bosbou en toerisme.

Volgens die verklaring het die NUST se biodiversiteit-navorsingsentrum ʼn student aangestel wat die jagluiperds se daaglikse bewegings vir die volgende ses maande sal monitor om te verseker dat die hervestiging geslaagd was en dat die diere goed aanpas.

“Hierdie werk vorm deel van ʼn deurlopende langtermynbewaring- en navorsingsprogram deur Etosha Heights en die Etosha- nasionale park wat data oor wisselwerking tussen roofdiere en hul prooi insamel,” lui die verklaring.

“Die program word gedoen in ʼn poging om die toekoms van jagluiperds en ander wild in Afrika te verseker.”

Jagluiperdbevolkings neem tans wêreldwyd af weens talle bedreigings vir hul voortbestaan, soos habitatfragmentasie, menslike konflik en die afname in die beskikbaarheid van prooi. “Daar is tans na beraming 7 000 jagluiperds in die wêreld. Afgesien van ʼn klein bevolking in Noordoos-Iran, kom die meerderheid in Afrika en suid van die Sahara-woestyn voor. Namibië het die grootste aantal vry rondlopende (buite formeel beskermde gebiede) bevolking van jagluiperds in die wêreld.”

Jagluiperds word tans deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) as ʼn kwesbare spesie gelys. Dit kan na die status van “bedreigde spesie” verander weens dalende wêreldbevolkings.

“Ongeveer 76% van die jagluiperds se verspreidingsgebied is in onbeskermde gebiede, en vir ʼn spesie met tuisgebiede van gemiddeld tussen 554 en 7 063 kubieke kilometer is bewaringswerk buite formeel beskermde gebiede van kritieke belang vir hul voortbestaan. Met ander woorde, hulle het nie net ruimte nodig nie, maar ook gesamentlike pogings van organisasies om jagluiperdbewaring ʼn werklikheid te maak. Dit wissel van die rehabilitasie van habitat, bewaringsopvoeding en die vermindering van boer-jagluiperd-konflik deur die bekendstelling van jagluiperdvriendelike praktyke.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.