Jagluiperds los in Kuruman

Vier jagluiperds loop tans vryelik in Kuruman rond. (Argieffoto ter illustrasie: Charl Senekal/EWT.)

Inwoners van Kuruman in die Noord-Kaap sal moet katvoet loop vir vier jagluiperds wat tans vryelik in dié omgewing rondbeweeg. Dit is nie duidelik waar dié diere vandaan kom nie.

Zandisile Luphahla, woordvoerder by die departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling in die Noord-Kaap, sê die departement werk tans nou saam met die Cheetah Outreach Foundation en die polisie om dié luiperds veilig op te spoor en te red.

Die soektog is Donderdag voortgesit.

“Ons spanne was teen Woensdagmiddag warm op die jagluiperds se spoor.

“Volgens ons jongste inligting het die diere nou sowat 5 km weg van gemeenskappe in die omgewing van Tsineng, Mathlwaring en die Ga-Sese-rivier beweeg.”

Luphahla sê die soektog moes Woensdag egter tydelik gestaak word weens die moeilik begaanbare terrein in die Severn-gebied.

“Twee plaaseienaars in die omgewings van Severn en Paul Roux is tans op die uitkyk vir die luiperds en sal die polisie in kennis stel indien hulle die diere gewaar.”

“Ons sal later vandag [Donderdag] inligting oor die jongste verwikkelinge bekendmaak.” Sy sê ʼn helikopter van die Cheetah Foundation, asook die veeartseny-eenheid is op bystand.

Die departement het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om enige fopnuus dat die jagluiperds gevang en doodgemaak is, te ignoreer.

“Ons het ook inligting ontvang dat lede van die gemeenskap glo beplan om sélf te perd en met honde na die jagluiperds te soek.

“Ons raai die gemeenskap sterk af om dit te doen, aangesien dit uiters gevaarlik kan wees. Hierdie diere is van nature gevaarlik en dodelik,” sê Mase Manopole, LUR van dié departement.

Die departement het die gemeenskap versoek om nié die diere seer te maak nie, maar die polisie te verwittig indien hulle die jagluiperds gewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Pragtige diere! Hul kom seker bietjie die Regering inspekteer om te sien of die Regering nie ook aan hul grondonteiening wil toeken nie. Arme weerlose dierekindertjies.

Annatjie ·

Asseblief ek weet jag is nie ‘n sonde nie , maar moet hulle asseblief nie skiet nie.

Dup ·

Geen wonder die Cheetahs sukkel so nie,want hulle loop in Kuruman rond!

Tiptol ·

Indien hul ‘n krimineel vang gaan hul seker geskiet word.

Francois Le Cochon ·

Neef, kyk daar op die horison loop ‘n Gemsbok. Neee, dis ‘n Kuru man!

Kathleen ·

Jagluiperds val mos nog steeds onder beskermde wild , ek praat onder korreksie , maar dan mag niemand hulle skiet nie , ek hoop iemand daar weet wat dit beteken !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.