Jagongeluk-saak: Verhoordatum binnekort bepaal

Stefan Hepburn. Foto: Mariné Lourens

Stefan Hepburn, die man wat strafregtelik aangekla word nadat hy glo per ongeluk ʼn plaaswerker tydens ʼn jagtog in die Tuinplaas-omgewing buite Modimolle in Limpopo doodgeskiet het, se verhoordatum sal moontlik tydens sy volgende hofverskyning bepaal word.

Hepburn het vroeër vandeesmaand weer in die hof verskyn waar die saak tot 8 November uitgestel is. Hepburn sal dan in ʼn streekhof verskyn waar ʼn verhoordatum na verwagting vasgestel sal word.

Mashudu Malabi-Dzhangi, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig die aanklag van moord teen Hepburn is intussen na strafbare manslag verander.

Maroela Media het vroeër berig Hepburn en sy vrou het op 11 Februarie vanjaar op ʼn plaas buite Modimolle bosvarke gaan jag. Hepburn het in sy verklaring wat aan die hof voorgelê is, gesê hulle het ná sononder in die mielieland gesit en vir die bosvarke gewag. Volgens Hepburn het hy ʼn donker voorwerp in die land gesien wat soos ʼn groot bosvark gelyk en in sy rigting gekyk het. Hy beweer hy het ook die kenmerkende geluid gehoor van ʼn bosvark wat mieliestronke van die plant afstroop.

Hepburn het gesê hy het na die voorwerp gemik en geskiet. Toe die voorwerp ʼn vreemde geluid maak, het hy besef hy het moontlik iemand raakgeskiet. Die oorledene is later as Jan Railo (23), ʼn werker op een van die buurplase, geïdentifiseer.

Volgens Hepburn het polisiebeamptes, wat eerste op die toneel was, ʼn groot sak vol mielies ʼn paar meter van die oorledene in die land gevind. Hepburn het gesê hy vermoed Railo het gesit omdat hy besig was om mielies in die sak te sit.

Kapt. Richard Boshomane, die ondersoekbeampte in die saak, het tydens Hepburn se borgtogaansoek getuig hy kan nie bevestig of ʼn sak mielies wel naby die oorledene gevind is soos Hepburn beweer nie.

Hepburn is in Februarie op borgtog van R15 000 vrygelaat.

Lees alle vorige berigte oor Stefan Hepburn op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Israel ·

Hulle kan onmoontlik nie die man skuldig bevind nie , in die donker , hy verwag n bosvark , dit is die buurman se werker se eie skuld dat hy op die verkeerde plek op die verkeerde tyd was

Hanna ·

En skielik is die sak mielies weg… Hoe gerieflik! Hierdie man het beslis nie by die boer kom tee drink nie. Kom ons noem nou maar n dief op sy naam: dief! Sterkte aan die boer en sy geliefdes.

PietP ·

Soos in ‘n ongeluk, as so iets jou oorkom moet jy maar dadelik ‘n klomp fotos neem en epos na ‘n vriend (vir as jou foon afgevat word). Dis goed bekend dat ooggetuies nie baie betroubaar is nie, selfs al lieg hulle nie opsetlik nie.

Eish ·

Ek dink die perd het probleme. Wanneer jy gaan jag vir koedoes, skiet jy nie donker kolle wat lyk soos koedoes en eet wat koedoes eet nie, jy maak seker dis n koedoe en nie n eland of n nyala nie. Die redelike man toets.

ONGELUK ·

PER ONGELUK EN JAGONGELUK, maar so word die blankes vervolg en uitgekryt en vinger na gewys. WEEREENS wat soek hierdie mense op ander mense se plase? Daar is altyd ‘n ‘onskuldige’ sonneblom dief of ‘n mieliedief of ‘n koperkabel dief wat kom WERK SOEK in die aand of kom koffie drink!! Wat het van onregmatige betreding van privaat grond geword?? Hoekom word nie een van die mense daarvoor aangekla nie? Soos die doodskis ou? Hy het as die wenner uitgetree terwyl hy klaarblyklik kom koperkabels steel het?

Twee stelle reels. Die weermagman wat die wit dametjie op die motorfiets TROMPOP geskiet het, is nooit eers in hegtenis geneem nie. Belaglik.

SjN ·

Wat het die persoon daar gesoek, die sak mielies het seker die eiendom geword van die wat op die toneel was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.