Jagskou gaan voort ná hofsaak oor pandemie

(Foto: pixabay)

Die jaarlikse HuntEx-ekspo by Gallagher Estate in Midrand, Gauteng, sal vanjaar voortgaan te midde van die Covid-19-pandemie. Dit volg ná ʼn hofgeding tussen die organiseerders en die polisie om met die skou voort te gaan.

Dié jagskou sal vanjaar tussen 10 en 13 Junie plaasvind.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) het die HuntEx-organiseerders op 11 Mei die hof genader nadat hulle en die polisie nie oor die toepassing van die Rampbestuurswet kon saamstem nie. Die hofaansoek is aanvanklik deur die polisie teëgestaan.

Die partye het eindelik op 20 Mei ʼn ooreenkoms bereik en die hof het beslis dat HuntEx nes enige ander winkelsentrum teen ʼn kapasiteit van 50% mag voortgaan.

Die alledaagse Covid-19-veiligheidsprotokol sal by die skou van krag wees om sodoende die verspreiding van die virus te voorkom.

Die aantal besoekers sal gemonitor word om te verseker dat die maksimum aantal mense per vierkante meter te alle tye aan die Covid-19-protokol voldoen.

Dit sal vanjaar die tiende jaar wees dat die skou by die Gallagher Estate gehou word. Weens die Covid-19-pandemie is die skou verlede jaar eers uitgestel.

“Hierdie skou word beskou as een van die belangrikste dryfvere vir ʼn bedryf wat jaarliks R115 miljard tot die ekonomie bydra,” sê SA Jagters in ʼn verklaring.

“Die skou bied ʼn wye verskeidenheid van produkte en dienste aan jagters, sportskuts, wildplaaseienaars, mense met ʼn belangstelling in die buitelewe, hengelaars asook mense in die sekuriteitsbedryf en professionele beroepslui.”

Die skou vind op 11 en 12 Junie tussen 09:00 en 17:00 plaas en op Sondag 13 Junie tussen 09:00 en 15:00. Op 10 Junie kan BBP-besoekers uitsluitlik die skou besoek.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Veels geluk. SA Jagters en HuntEx -1 Hoed en Kie 0

Eugene

Nou hoeveel mense kan kom hoe werk dit jy bespreek v watter dag ens!!

Francois Le Cochon

Jag, of skyfskiet op diere?

Rudolph

Ek gee nie om hoeveel geld die bedryf maak nie. Daar is talle immorele bedrywe wat selfs meer geld maak. Ek ondersteun nie een van hulle nie en ook skyfskiet op diere nie

M-woord

Wel SARU daar wys die jagters julle wat om te doen om toeskouers by die rugby te kry. Berei julle al jul hofstukke voor?