Jagskou-skietongeluk: Seun terug skool toe

Sammy Kotzin wys alles is reg. Foto: HuntEx / Facebook

Sammy Kotzin wys alles is reg. Foto: HuntEx / Facebook

Sammy Kotzin, die seun wat per ongeluk deur sy pa by ʼn jagskou in Midrand in Gauteng geskiet is, het Maandag teruggekeer skool toe, in dieselfde week as wat sy pa weer in die hof moes verskyn weens die voorval.

Adriaan Woudstra, die organiseerder van HuntEx2014, het Woensdag aan Maroela Media gesê Sammy het Vrydag sy agtste verjaardag gevier en hy het goed aangesterk ná die ongeluk. “Dit gaan baie goed met hom. Hy en sy gesin bedank almal wat hulle ondersteun het,” het Woudstra gesê.

HuntEx2014 het ʼn foto van Sammy op sy Facebook-blad gelaai waar hy albei sy duime in die lug hou.

Intussen het die seun se pa, Sean Kotzin, Woensdag vlugtig in die Alexandra-landdroshof verskyn. Die saak is tot 11 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Kotzin is aangekla van die nalatige gebruik van ʼn vuurwapen. Hy is op 30 April in hegtenis geneem en is vrygelaat op borgtog van R2 000 tydens sy eerste verskyning in die hof.

Sammy, toe sewe, is kritiek beseer toe sy pa se vuurwapen per ongeluk in ʼn toiletafskorting by HuntEx2014 by Gallagher Estate afgegaan het. Hy is in die bors getref.

Sapa berig Kotzin se prokureur het ná die hofverrigtinge geïrriteerd voorgekom en geweier om met die media te praat. “Ek het geen kommentaar nie,” het hy gesê terwyl hy en Kotzin vinnig weggestap het.

Staatsaanklaer Jacky Letsoalo kon slegs bevestig Kotzin se prokureur se van is Sloane. “Ek weet nie wat sy voornaam is nie, aangesien ons mekaar in die hof slegs op die van aanspreek,” het Letsoalo gesê.

Lees ook:
Jagskou: Pa in hof wat seun per ongeluk skiet
Vuurwapenskou: Pa aangekla wat seun per ongeluk skiet
Pa skiet seun per ongeluk by vuurwapenskou

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marlene ·

Dankie vir die terugvoer oor die seun, dankie Maroela. Mens is dankbaar dat hy so herstel het om terug skool toe te kan gaan.

amanda ·

Die pa van hierdie kind moet elke dag op sy kniee gaan en God dank vir sy kind se lewe wat Hy gespaar het! En moet asb nie weer so nalatig wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.