Marco Schoonwinkel (32), die beroepsjagter wat onlangs deur ’n gemsbokhoring in die Thabazimbi-omgewing in Limpopo deurboor is, is Donderdag ná ’n maand uit die hospitaal ontslaan.
Sy vrou, Clarisa, beskryf dit as ’n “wonderwerk”.
“Marco het gistermiddag ná 31 dae lange ‘op en af’ uitgekom.
“Ons is baie dankbaar. Hy is werklik ’n wonderwerk en die Here is so goed vir ons.”
Clarisa sê daar lê nog ’n lang herstelpad vir haar man voor, maar hy loop darem al “kort entjies”.
Maroela Media het vroeër berig die gemsbokbul se horing het Schoonwinkel net onder sy naeltjie deurboor. Die horing het gevolglik dwarsdeur na sy rugwerwels deurgedring en sy hoofslagaar geskeur.
Die ongeluk het tydens ’n wildverskuiwingsoperasie plaasgevind.
Die span wat saam met hom was, het dadelik noodhulp op hom toegepas om bloedverlies te beperk.
Schoonwinkel is met ’n noodhelikopter na ’n hospitaal in Thabazimbi vervoer en later na die Cintocare-hospitaal gevlieg waar hy ’n noodoperasie van bykans vier uur lank ondergaan het.
’n Stent is tydens dié operasie in sy hoofslagaar geplaas.
Schoonwinkel moes egter kort daarna weens inwendige bloeding nóg ’n noodoperasie ondergaan.
Clarisa sê haar man het uitstekende sorg in die hospitaal ontvang en dat die personeel uiters behulpsaam was.
Die egpaar het ’n driejarige seun en Clarisa verwag hul tweede kind.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Baie bly hy is tuis, Sterkte!
Net genade . Bly om te hoor hy is tuis . Word gou gesond !
Baie bly! Spoedige herstel vir jou!
Baie bly vir sy part, so gemsbokhoring is vlymskerp en eina.
Ons is báie dankbaar om te lees dat jy op die herstelpad is, Marco. Seënwense vir jou en jou gesin.