Jagtragedie: “Boeties was soos ‘n tweeling”

Barnie Bamberger. Foto: Facebook

Barnie Bamberger. Foto: Facebook

“Hy is verslae en geskok, die werklikheid het nog nie by hom ingesink nie.” Dit is hoe ʼn familielid ʼn 17-jarige seun se toestand beskryf nadat hy glo in ‘n fratsongeluk sy ouer boetie, Barnie Bamberger (22), naby Ottosdal in Noordwes tydens ‘n jaguitstappie doodgeskiet het.

Gawie Pretorius, die broers se neef, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die tiener en sy boetie was soos Dawid en Jonathan. “Hulle kon omtrent ʼn tweeling gewees het. Hulle het alles saam gedoen, en het selfs ‘n verjaardag gedeel (5 Mei). Hulle was baie erg oor mekaar, én lief vir mekaar. Dit is wat die tragedie so moeilik maak vir hom. Dit is ʼn groot skok vir die hele gesin en familie,” het Pretorius gesê.

Maroela Media het vroeër berig die boeties het vlakvarke op hul pa se sonneblom- en mielieplaas gaan jag toe die fratsongeluk plaasgevind het. Die 17-jarige het glo gemik om ʼn vlakvark te skiet, toe die ouer broer voor die geweer ingeloop het. Hy het ʼn noodlottige kopwond opgedoen en is op slag dood. “Daar was ʼn vriend saam met hulle en hulle het dadelik Bamberger se ouers ontbied wat na die toneel gehaas het,” het Pretorius gesê

“Die gesin en hele familie gaan deur ʼn baie moeilike tyd.” Pretorius het die inwoners van die omgewing bedank vir hul ondersteuning en medelye. Hy het ook versoek dat Bamberger se ouers, ouma en die tiener se privaatheid gerespekteer word in die moeilike tyd, en mense gevra om nie onwaarhede oor die voorval te versprei nie.

Pretorius beskryf sy neef as ʼn vredeliewende mens wat altyd bedagsaam, en avontuurlustig was.

Bamberger se begrafnisreëlings is nog nie getref nie. Sy boetie ontvang berading, en die gesin word deur die familie bygestaan.

Lees ook:
Tienerseun skiet broer dood in jag-fratsongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

laurika de souza ·

Ons innige meegevoel is met die boetie en ouers wat agterbly, dis werklik n tragedie waardeur net onse Here hulle almal kan dra. Ons bid vir julle vir krag!

Elizabeth ·

Baie sterkte en berusting vir die familie. Mag almal hul ondersteun en deur hierdie baie moeilike tyd help dra. Ek hoop die boetie gaan vir berading – hy het baie hulp en liefde nodig nou. Wees goed vir mekaar en staan mekaar by!

Herco Kriel ·

Wat ‘n tragedie!!! Mens sal nooit ooit verstaan of begryp hoekom nie. Ek hoop en bid dat die Bambergers vrede en berusting sal vind in Ons Vader en bystand van Ottosdal!!!

melanie ·

An absolute tragedy, my sincere condolences to the family in this terrible time , words will not heal your pain, May God carry you and be your strength

charmaine malan ·

ons innige simpatie met hierdie gesin. Hierdie seun wat oorlede is sowel as sy ouers en boetie le ons na aan die hart. Mag God die trane afdroog en die seer ligter maak vir hulle. Ons dra hulle heeltyd in ons gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.