Jagtragedie: Polisie maak aanklagte bekend

Barnie Bamberger. Foto: Facebook

Barnie Bamberger. Foto: Facebook

Die Noordwes-polisie het Woensdag gesê dit is standaardprosedure om ʼn saak van moord te ondersoek teen die 17-jarige seun wat glo in ʼn fratsongeluk die 22-jarige Barnie Bamberger op ʼn plaas naby Ottosdal tydens ʼn jaguitstappie doodgeskiet het.

Kol. Sabata Mokgwabone, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die hof sal moontlik die klag na strafbare manslag verander. “Die tiener gaan ook deur ʼn maatskaplike werker ondersoek word. Hierdie ondersoek en ander faktore sal bepaal wat die pad vorentoe is. Die feit dat ʼn saak van moord geopen is, beteken nie noodwendig dat dit nié ʼn ongeluk was nie,” het Mokgwabone beklemtoom.

Hy sê die tiener sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn. Dit is in die stadium nog nie bekend in watter hof die beskuldigde gaan verskyn nie.

“Volgens inligting wat die polisie ontvang het, het die seun, ʼn vriend en die slagoffer vlakvarke gaan jag op die plaas. Die slagoffer het glo voor die tiener gekniel, terwyl die tiener gemik het, en opgestaan sonder dat die tiener daarvan bewus was. Hy het ʼn skoot gevuur en die slagoffer noodlottig in die kop gewond,” het Mokgwabone gesê.

ʼn Saak van nalatige hantering van ʼn vuurwapen word ook ondersoek.

Maroela Media het Dinsdag met Gawie Pretorius, ʼn familielid, gepraat wat gesê het die gesin en familie is erg geskok deur die voorval. Pretorius het gesê die oorledene en die tiener was soos Dawid en Jonathan. Albei is glo kranige skuts wat gereeld saam gaan jag het. Hulle het al op sewejarige ouderdom hul eerste bokke geskiet.

Bamberger is as ʼn vredeliewende mens beskryf wat altyd bedagsaam en avontuurlustig was.

Lees ook:
Jagtragedie: “Boeties was soos ‘n tweeling”
Tienerseun skiet broer dood in jag-fratsongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Ek voel so jammer vir die outjie – hy moet reeds so getraumatiseer wees deur die gebeure en nou moet hy nog hof toe…Ek verstaan dat dit die beloop van die gereg is maar ai, dit moet erg vir hom wees. Sterkte weereens aan hom en sy gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.