James Small: ‘Ons was almal lief vir hom’

Laaste huleblyke aan die voormalige Springbok James Small. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Die voormalige Springbokkaptein Morné du Plessis het huldeblyke gelei vir oorlede James Small, by die oud-Springbok se begrafnisdiens wat Donderdag by die Wanderers in Johannesburg gehou is.

“My blywende indruk van James is sy vrygewige gees. James het altyd alles gegee. Ons was almal lief vir hom. Ek wens sy familie en vriende sterkte toe in hierdie moeilike tyd,” het Du Plessis in ʼn videoboodskap gesê. Hy is tans in Frankryk.

ʼn Oomblik van stilte is ook gehou vir die legendariese musikant Johnny Clegg, asook vir die voormalige Kaizer Chiefs- en Orlando Pirates-doelskieter Marc Batchelor. Al twee is die afgelope week dood.

Die televisie- en radio-aanbieder en vriend van James, Darren Scott, het ʼn kort huldeblyk aan Small gelewer. Die oud-Bok Stefan Terblanche het die openingsgebede waargeneem.

Die huidige Springbokkaptein, Siya Kolisi, asook Gary Teichmann, een van sy voorgangers, het huldeblyke gelewer.

Nagenoeg 300 mense het die diens bygewoon. Onder hulle was verskeie Sprinboksterre soos Rudolf Straeuli, André Pretorius, Pieter Hendriks, Kobus Wiese en Japie Mulder.

Teichmann het gesê Small se dood was ʼn “hartseer dag omdat hy nog so jonk was en steeds soveel gehad het om te bied”.

“Ons moet sy geesdrif vir mense, vir die spel en vir die Springbokke onthou. As ons dít onthou, eer ons hom.”

Kolisi, die huidige Springbokkaptein, het gesê Small het ʼn enorme rol gespeel om die deur vir kleiner spelers te open. Hy het verwys na Small se spel teen die rugbyreus Jonah Lomu, en hoe Small hom uitstekend van sy taak gekwyt het.

Hy het gesê spelers soos Herschel Jantjies doen deesdae dieselfde ding.

James Small. (Argieffoto)

Jantjies maak Saterdag sy debuut vir die Springbokke wanneer hulle in Johannesburg teen Australië te staan kom.

Kolisi het gesê Small was ʼn rolmodel vir baie ander spelers.

“Ek het hom ʼn paar keer ontmoet en hy was ʼn geweldig positiewe mens. Hy het altyd bemoedigende woorde gehad. Dís die herinneringe.”

Small is op 10 Julie aan ʼn hartaanval dood. Hy was 50 jaar oud.

Hy was ʼn uiters suksesvolle vleuel en het tussen 1992 en 1997 in 47 toetse vir die Springbokke uitgedraf. Hy was ook ʼn sleutelspeler in die 1995-Springbokspan, wat die Wêreldbeker-rugbytoernooi op tuisbodem gewen het deur Nieu-Seeland destyds met 15-12 in die finaal op Ellispark te verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Rubber ·

Vandag se SA span (nie waar dig om. Bokke genoem te word nie, kan nie vergelyk word met manne met moed en durf soos vanouds nie. James RIV ons sal jou altyd onthou as ‘n man met ‘n leeue hart.

Heidi ·

Lees die berig weer. Ongeag sy lengte het James Small gewys maak nie saak hoeveel groter opponent is nie; jy kan hom baasraak. Dis waarna Kolisi verwys. Geen fout met die berig nie.

HPT ·

Hoekom Jantjies se naam eers in dieselfde berig noem waar daar van Small gepraat word. Jantjies sal dit nooit waardig wees nie. Die no9 op Saterdag se bank is elkgeval baaaaie beter die Jantjies vent.

Swartwolf ·

Dis nie die artikel wat swak geskryf is nie dit is agv die “huldeblyk” van die huidige bok kaptein wat snert kwytraak waar hy ‘n kwota speler probeer aanpraat het wat nog nooit ‘n toets gespeel het nie probeer vergelyk met ‘n wereldbeker wenner en legende soos Small. Wys jou die absolute onsensitiwiteit, arrogansie en tekort aan leierskap en insig van die huidige kaptein. Steek uiters swak af teen regte leiers soos Pienaar en Smith. Bokke is verlore met daai kaptein.

Bossie ·

Ai, ai… Ons ou volkie darem. Maar James, so het jy hulle geken. Seker daarvan jy sit en glimlag nou daar Bo. RIV.

Heksie ·

Tot siens ons “stout seun”. Jyt gelewe soos jy wou, niemand het jou voorgesê nie.

Ek sal altyd vir jou ‘n sagte plekkie hê …

Faan ·

@HTP dis omdat hy n speler van kleur is. Dis deesdae mos als net kwotas en politiek. NOOIT sal daar weer n span wees soos terug in 1995.

VanAfrika ·

Bietjie van n teleurstelling, mens sou dink dat sport geeste begrafnisse soos Joost en James sal toesak want dis wêreldname hierdie. Hulle het Suid Afrika op die wêreld kaart geplaas maar helaas groot name is afwesig net om hom nog n laaste totsiens toe te wens.

Net bly om te sien daar was darem mede span maats wat hom help sy laaste voetspore op moederaarde te stap. Weereens, RIV James.

Susna ·

Sal altyd n sagte plekkie in my hart vir James Small he. Wees gegroet ons groot seun, dankie vir al die herrineringe wat jy vir ons gelos het. Net n baie spesiale dankie aan Darren Scott vir sy “groot hart”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.