Jammer, geen loterygeld meer vir diere

Vir die Nasionale Loterykommissie is dierewelsyn nie meer ‘n prioriteit vir finansiering nie. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Die Nasionale Loterykommissie het die “taai besluit” geneem om dierewelsyn as fokusgebied vir finansiering in die 2022-’23-boekjaar te laat vaar – ʼn besluit wat sommige organisasies as onbillik en oningelig bestempel.

Ander organisasies sê weer die proses om aansoek te doen vir finansiering by die kommissie is omslagtig en net nie die moeite werd nie.

In die jongste oproep vir aansoeke, het die kommissie dierewelsyn uitgesluit as prioriteit. Woordvoerder Ndivhuho Mafela sê die besluit was taai, maar hul prioriteite lê elders.

Fokusgebiede sluit in: vroeë kinderontwikkeling (35%), die stryd teen geslagsgebaseerde geweld (30%) en 35% vir die beskerming van weerlose mense.

Volgens Mafela is die behoefte aan finansiering jaarliks veel groter as die beskikbare geld en dit beteken die kommissie moet moeilike besluite neem oor wie om te finansier. Hy sê dierewelsyn kan dalk in die toekoms oorweeg word as dit “moontlik is om dit by ander en mededingende prioriteite in te sluit”.

In die 2020-’21-boekjaar het 21 dierewelsyngroepe aansoek gedoen en nege van hulle het finansiering van ʼn gesamentlike R2,8 miljoen ontvang.

In die 2021-’22-boekjaar het 50 dierewelsynorganisasies aansoek gedoen en tien van hulle het ʼn gesamentlike R4,6 miljoen gekry.

Allan Perrins, woordvoerder van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika, sê hulle het in die verlede aansoeke ingedien, maar dit gestaak. Die proses was net te tydrowend en soms, selfs vir dringende projekte, is die geld jare later eers uitbetaal.

“Ek weet nie of die kool die sous werd is nie,” sê Perrins.

GroundUp het vantevore berig dat die kommissie ook in 2015-’17 dierewelsyn as ʼn prioriteit geskrap het, ʼn stap wat beteken het die Dierebeskermingsvereniging van Suid-Afrika (DBV) moes sy gratis dienste aan diere-eienaars verminder.

Karen de Klerk, voorsitter van die Kaapse Dierewelsynsforum (CAWF), ʼn sambreelliggaam vir verskeie dierewelsynsgroepe in die Wes-Kaap, sê organisasies is allermins ingenome met die besluit.

Geld van die lotery is vir baie van hulle ʼn broodnodige reddingsboei.

De Klerk meen die kommissie verstaan nie die belang van die dierewelsynsektor nie. Sulke organisasies speel ʼn geweldig belangrike rol om dienste te lewer waar diere siektes versprei aan mense wat naby hulle in informele nedersettings woon.

“Die Nasionale Loterykommissie het jaarliks miljarde rand wat hy aan baie spesifieke teikenprojekte kan toewys om die algemene gesondheid van gemeenskappe se diere deur geregistreerde en gerekende organisasies te verbeter.

“Maar hulle doen dit nie. Hulle neem dit nie ernstig genoeg op nie,” sê De Klerk.

Die koeël is vir eers deur die kerk, maar die CAWF gaan die besluit vir die volgende boekjaar betwis.

Mafela sê die kommissie besef dat “dierewelsyn ʼn kwessie is waaroor baie mense sterk voel en dat menslike welstand onlosmaaklik verbind is aan die welstand van diere en die ekostelsel, veral in landelike gemeenskappe wat staatmaak op diere vir ʼn inkomste”.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hasie ·

Dit is dieselfde loteryraad wat hand in die geld geslaan het vir eie gebruik …en wie ly nou daaronder ? Hul moet hul blink nuwe motors verkoop en bietjie hand aan die ploeg slaan en besef waar die geld vandaan kom .

Nico ·

Lottery is uit die hel en sal nooit seevier nie, dit is dobbel en speel met die geluksgodin. Mag hierdie dobbel tot ‘n end kom.

Manie ·

Daar is ‘n gesegde wat lui dat mense beoordeel word oor hoe hulle hul diere behandel.

domheks ·

Kan nie vir die diere gee nie – dan is daar nie genoeg vir hulle sakke nie!

Christelle ·

En dit is een van die lyne wat die hulp die meeste benodig. Toevallig is die swart hondjie op die foto, my hondjie wat ek aangeneem het – Basil. Hy was n stray hond gewees in n informele settlement en was erg mishandel en seergemaak, die organisasie wat hom gered het, het hom n 2de kans gegee, hoe gaan hulle dit nou regkry as hulle sulke nodige fondse verloor?

Juanita ·

Tyd vir ‘n petisie. Geen geld vir diere maak meer geld vir eie gebruik/bedrog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.