Jannie du Toit sterk aan ná mesaanval

Jannie (66) en Therina (52). (Foto: Verskaf)

Die sanger Jannie du Toit sterk goed aan nadat hy Woensdagaand buite The Market Square in Newtown, Johannesburg, met ʼn mes aangeval is.

Du Toit (66) het omstreeks 21:00, ná afloop van die Aardklop 2018- programbekendstelling, na sy motor gestap wat in die straat parkeer was, toe hy met ʼn mes aangeval en van sy selfoon beroof is.

Coenraad Rall, klavierspeler en jare lange vriend van Du Toit, het hom ná die voorval na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gehaas.

Sy vrou, Therina, het aan Maroela Media gesê Du Toit is met ʼn mes in die bobeen gesteek. “Die een wond is baie diep en hy is so te sê deur die spier gesny. Dit het verskriklik gebloei. Hulle het dit by die hospitaal oopgemaak en skoongemaak. Daar is ʼn tweede, kleiner wond, wat net ʼn vleiswond is wat twee steke moes kry.”

Volgens Therina het Du Toit ook ʼn klem-in-die-kaak-inspuiting gekry. “Hy het deur die nag verskriklik pyn gehad, maar hy kon uiteindelik aan die slaap raak. Vandag is dit baie seer, veral as hy op sy been trap, maar hy moet nou administratiewe sake soos polisieverklarings afhandel sodat hy weer ʼn selfoon kan hê.”

Therina het vertel sy het nie saam met Du Toit by die Aardklop-geleentheid bygewoon nie, aangesien sy ander verpligtinge gehad het wat sy moes nakom. “Dit was vir my vreemd toe ek hom later bel en hy antwoord nie, want hy antwoord altyd sy selfoon. Ek het gedink dit is seker maar net baie raserig by die funksie en dat hy die oproepe sal sien en my sal terugbel.”

Sy vertel sy het ʼn oproep van ʼn vreemde nommer gekry. “Dit was toe hy. Hy het net gesê: ‘Moenie skrik nie, maar iemand het my met ʼn mes gekrap en my selfoon gesteel.’ Ek weet nie of hy net ʼn grap gemaak het en of hy self nie in daardie stadium besef het hoe diep die wond was nie.”

Toe sy by die ongevalle-afdeling van die hospitaal opdaag, was Du Toit en Rall reeds daar. “Hy het ʼn skraap op sy hand gehad en ʼn paar bloukolle wat hy in die struweling met die aanvaller opgedoen het.”

Volgens Therina is Du Toit steeds positief ondanks die voorval. “Hy stres oor ander mense en hy stres as ander mense stres, maar nie oor homself nie. Hy is net een van daardie mense wat nooit eens ʼn vlieg sal skade aandoen nie en hy is baie positief van geaardheid.”

Du Toit en Therina is onlangs in Melville in Johannesburg getroud. “Ek kan nie glo ek het so ʼn oulike man nie. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Die aanvaller kon die mes teen sy keel gedruk het of erger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Siek en sat ·

Bly jys vir ons almal gespaar om nog na jou pragtige musiek te luister. Jannie ongelukkig bly ons nou in n 3de wereld wat heeltemal ten gronde gegaan het. Sterkte.

Alida ·

Maroela sal n ekstra koerant moet open om oor al die aanvalle te berig. Hierdie was maar net een van baie daaglikse aanvalle. Sterkte Jannie in elk geval. Ons het al almal n beurt gehad.

Koos ·

Wat my teen die bors stuit is dat ons Afrikaanse “bekendes” en “rolmodelle” oor die algemeen tjoepstil is oor wat in die land aan die gang is. Hulle maak nie protesmusiek nie, reël nie aksies nie, spreek hulle nie oor ons kleptokrasie uit nie… seker te bang hulle word as regses bestempel. Of dalk is hulle nie gepla oor wat met hulle ondersteuners gebeur nie, daar is seker genoeg oorsee vir wie hulle konsert kan gaan hou?

Elvira ·

Want ALMAL is keelvol verby soos dinge in hierdie land handuit geruk het.

Elsa ·

Koos, ek moet ongelukkig met jou verskil. Ek voel weer kunstenaars moet hulle uit die politiek hou en aangaan met hul sang soos wat hulle al die jare gedoen het. Met al die chaos en ontstellende dinge wat in ons pragige land gebeur, het ons gewone mense juis mooi musiek en sang nodig om ons aandag weg te lei van die negatiewe dinge. Ons kan nie so negatief wees nie en deur net te kerm en te kla en fout te vind met alles in ons land, gaan niks aan die situasie verander nie. Die doemprofete maak mense nog meer negatief en depressief en ek wil beslis nie na musiek luister wat mens nog verder negatief maak nie.

DHK ·

Elsa, ongelukkig moet ek weer van jou verskil. Om net positief te wees te midde van die harde, negatiewe realiteit om ons en stil te bly daaroor gaan geen duit verskil maak aan diegene wat hierdie misdade pleeg nie. Vrolike musiek gaan jou net valslik gerusstel maar doemprofete kan jou dalk net meer paraat maak.

Peet Schabort ·

So is my swaer Attie le Roux ook vandag op Reitz doodgemaak oftewel VERMOOR!!

Koos ·

Jammer vir jou verlies Peet. Nou kan ons net hoop die polisie doen hulle werk behoorlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.