Jannie du Toit vereer vir ‘besonderse bydrae’ tot Afrikaanse musiek

Die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit saam met prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK. (Foto: verskaf)

Meer as 50 jaar in die musiekbedryf.

Die geliefde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit sê hy is “geseën om steeds te doen waarvoor hy lief is”.

Du Toit is Vrydagaand deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n eretoekenning vir sy besonderse kultuurprestasie vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope 50 jaar vereer.

Die toekenning is tydens die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees in Alberton gedoen.

“Ek is baie jare geseënd en bevoorreg om te kan sing. Ek is baie lief vir my taal en ek doen dit natuurlik in die eerste plek omdat dit vir my lekker is. Ek doen dit vir myself, maar ek doen dit in die taal waarvoor ek lief is en as daar êrens erkenning is soos nou, is ek regtig groot dank verskuldig aan die FAK vir hierdie eer,” het du Toit gesê.

Van Du Toit se musiek het deur jare bykans volksbesit geword met treffers soos “ʼn Liedjie vir jou, “Gee ons vrede” en “Madeleine”.

Du Toit sonder veral die 25 jaar wat hy saam met Christa Steyn gesing het, as ’n hoogtepunt van sy musiekloopbaan uit, maar veel eerder dat die “liewe Here my tot vandag toe die geleentheid gegee het om aan te hou. Dis eintlik die hoogtepunt.”

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het gesê die musiekwêreld het standaarde nodig waaraan hy hom kan meet. “As daardie standaarde nie daar is nie, sak ons weg in die middelmatige en in vele opsigte verteenwoordig Jannie du Toit se musiek só ’n standaard. Dit verteenwoordig goeie Afrikaanse musiek en die Afrikaanse musiek het dit nodig,” het Goosen gesê.

Goosen het gesê Du Toit het ook ʼn noue verbintenis met Afrikaans en Nederland.

“Dit is vir ons (die FAK) belangrik om daardie verbintenis in stand te hou, ook juis ter wille van dié kwaliteit, nie net van die Afrikaanse musiek nie, maar waarskynlik ook van die Nederlandse musiek. Jannie het deur die loop van sy roemryke loopbaan werklikwaar grense verskuif en nuwe wêrelde geopen vir Afrikaans, plaaslik en internasionaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ellisras ·

Jannie se bydrae is nie net hoog nie. Dit is veral breed. Dit is regtig ‘n soliede bydrae. Dit is ‘n bydrae met substansie en waarde.

Nefie ·

Dis wonderlik, want Jannie was nooit die sanger wat kommersiële sukses nagejaag het nie, maar tog lewer hy ‘n wonderlike skatkis.

ina ·

baie geluk Jannie jy verdien dit
-jyt hard gewerk daarvoor
ons is baie trots op jou.
DANKIE! groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.